PAUL LÜCKHOFF (1953-2024)

Paul Lückhoff was ’n bekende en gewilde Afrikaanse akteur wat in rolprente, televisiereekse en op die verhoog te sien was.

Hy is op 23 Desember 1953 gebore en het drama aan die destydse Technikon Pretoria gestudeer. Sy akteursloopbaan het in die laat 1970’s begin. Hy was lid van die destydse SWARUK en SUKOVS, die rade vir uitvoerende kunste van onderskeidelik Suidwes-Afrika en die Vrystaat, voordat hy in 1982 begin vryskutwerk doen het.

In 1984 was hy te sien in Jans Rautenbach se rolprent Broer Matie, waarin hy die karakter van Pietman Olivier, die titelkarakter se seun, vertolk het. Onder die ander akteurs die rolverdeling was Joe Stewardson, Simon Bruinders en Barry Trengove. Hy het ook die rol van Andries Cronjé in Verraaiers vertolk, asook die rol van Frik de Klerk in Platteland.

Op die verhoog sal hy veral onthou word vir sy vertolking van Saul en Elias in die verhoogproduksies van Dalene Matthee se onderskeie romans Kringe in ’n bos en Fiela se kind. Ander verhoogproduksies waarin hy opgetree het, was Die vasvat van ’n feeks, Ek Anna van Wyk, Die koggelaar, Die leeu in die winter en Atlantis!Atlantis! Hy het ’n Dalro-prys as beste manlike byspeler vir sy rol in Die leeu in die winter gewen.

Sy bekendste televisierol was vir seker dié van oom Wimpie in Binnelanders, waarin hy teenoor Julie Strijdom wat verlede jaar oorlede is, gespeel het. In die minireeks Hopeville was hy as die karakter van Felix Venter te sien. Onder sy ander televisierolle was dié van die kultusleier Menasse in Egoli-plek van goud, Dirk in die tweede seisoen van Onder draai die duiwel rond en Doc Botha in die eerste reeks van Plek van die vleisvreters.

Hy is op 17 September 2024 in die ouderdom van sewentig jaar na ’n kort siekbed oorlede.

Daantjie Badenhorst