PIETERSBURG-KONSENTRASIEKAMP

Ligging: Agaatstraat, Nywerheidsgebied, Polokwane

Koördinate: -23.9100275,29.4357529

Pietersburg was die mees noordelike konsentrasiekamp en die moeilikste een om van enige dienste te voorsien omdat dit geïsoleerd was.

Hoewel Pietersburg self oop was, was die nabygeleë Zoutpansberg bebos en bergagtig, en dit het aan Mosambiek gegrens. Op 8 April 1901 het die Britte die dorp beset en die inwoners is aanvanklik na die Irene-kamp verskuif. Die kamp op Pietersburg is eers na deeglike oorweging in Mei 1901 geopen aangesien die owerhede onseker was of ’n kamp in so ’n afgeleë omgewing opgerig moes word.

In sommige opsigte was dit steeds grensgebied, kwesbaar vir aanvalle deur die Afrika-gemeenskappe wat nie deur die Boere in toom gehou kon word nie. Hoewel daar gevestigde boere was, het die rykdom van die omgewing hoofsaaklik uit mynbou en hout gekom. Slawehandel het nog gereeld voorgekom; swart kinders is gevange geneem en verkoop om as vakleerlinge op die Boere se plase te werk. Baie van die gesinne was bloot bestaansboere en die Buys-“stam” van die Mara-omgewing was ’n aanduiding van die “tussenin”-status van sommige mense. Hulle was die afstammelinge van die Kaapse koloniale rebel Coenraad Buys wat in ’n swart familie ingetrou het. Sy afstammelinge het hulle nie met die swart gemeenskap vereenselwig nie, ten minste nie in die kampkonteks nie, en het geweier om saam met swart kampbewoners geklassifiseer te word. Hulle het eerder afsonderlik in die kamp in hul eie ossewaens gewoon, maar het rantsoene van die kampowerhede ontvang. Die dameskomitee het in November 1901 opgemerk dat die stamhoof ’n groot, stewige swart man was wat die kamp met goeie oordeelsvermoë bestuur het. Omdat Pietersburg naby die malariastreek was, was die gesondheid in die omgewing uiters swak, met die gevolg dat die sterftesyfer hoog was.

As die vyandige gesindheid van die Boere oor baie jare teenoor swart gemeenskappe in aanmerking geneem word, was dit nie ’n verrassing dat die blanke gesinne besonder kwesbaar gevoel het toe die oorlog uitgebreek het nie. Die vroue was veral skrikkerig vir die moontlike bedreiging wat gewapende swart mans kon inhou. Hoewel dit effens oordryf is, is daar min twyfel dat swart Britse bondgenote die plase in die Zoutpansberg soms ontruim het. Dit was onvermydelik dat die vroue se getuienisse besonderhede van hierdie “gruweldade” bevat het. Die mans van die Bushveld Carbineers het ook gehelp om die vroue en kinders in te bring. Lt. George Whitton se walglike en onakkurate berigte oor die Breaker Morant-voorval het die kaliber van die mans wat hierdie werk verrig het, duidelik geïllustreer.

Hy het vertel dat hy met die Boere van die veld; die Dopperklas, soos hy dit gestel het, in aanraking gekom het. Hy het gereeld saam met hulle koffie gedrink en omdat sommige van hulle ’n bietjie Engels kon praat, het hulle hul probleme met hom gedeel. Die dames was gretig om meer oor die vlugtelingkamp te hoor en het gevra of hulle van kos en klere voorsien wou word en of die Engelse klere en skoene vir die kinders sou kon gee. Hy het gemeen dat dit die tipe mense was wat die meerderheid van die Suid-Afrikaanse bevolking verteenwoordig het, en dat dit geslagte sou duur voordat hulle enigsins daartoe in staat sou wees om aan die gewone lewe deel te neem. Volgens hom het hulle die gewoonte gehad om water van die hand te wys en nooit hul klere uit te trek nie. Soos wat hulle gaan slaap het, het hulle opgestaan; hulle was vuil en wou hulself nie gaan was nie, en hulle was slordig.

Toe J.E. Tucker in Mei 1901 as superintendent aangekom het, het hy gevind dat omtrent ’n duisend mense in die dorp of in ossewaens gewoon het. Teen die einde van daardie maand was daar meer as 2 000 mense en toe dr. Kendall Franks in Augustus daardie jaar besoek by die kamp afgelê het, het al die kampbewoners in die kamp gewoon. Baie van hulle was van die Laeveld afkomstig en het koors onder lede gehad. Hoewel water volop was, moes dit met waens aangery word. Daar was min brandstof en steenkool moes ook na die kamp toe vervoer word. Die mense was deurmekaar oor hierdie ontwrigting van hul lewens. Tucker het gekla dat dit moeilik was om by hulle vas te stel wanneer en aan wie hulle hulself oorgegee het.

Die gesinne wat van Irene of Pretoria teruggekeer het, het masels met hulle saamgeneem. Te midde van ’n samelewing wat deur malaria platgetrek is, het die sterftesyfer die hoogte in geskiet. Dr. Henderson, die mediese offisier, het die uitwerking van die siektes beskryf; terwyl hy in die Laeveld was, is agt mense dood aan malaria, en drie is dood kort nadat hulle daar aangekom het, terwyl een persoon reeds by aankoms dood was. Verskeie ander inwoners was so swak dat die mediese offisier getwyfel het of hulle sou kon herstel. Die masels was, volgens dr. Franks so erg dat baie van die kinders dubbele longontsteking opgedoen het toe die uitslag verdwyn het. Nogtans het die kinders se ma’s geglo dat die ergste verby was en die kinders toegelaat om die koue winde en stofstorms, wat in Julie hul kop uitgesteek het, te trotseer. Dit het gemaak dat die kinders se siektetoestande vererger het.

Die sterftesyfer het sy hoogtepunt in Julie 1901 bereik; dit was bogemiddeld hoog. Toe nuwe kampbewoners in November aangekom het, het masels ’n rukkie lank weer voorgekom, maar op daardie stadium het die meeste bewoners immuniteit daarteen ontwikkel en dit het gou verdwyn. Malaria het ook in die somer teruggekeer, saam met ’n uitbraak van kinkhoes wat ’n aantal lewens geëis het. Die mediese offisier het geglo dat die varkvleis wat in die kamp te koop was, daartoe bygedra het dat die kinders diarree opgedoen het. Twee personeellede, onder wie die skoolhoof wat later oorlede is, het tifuskoors gehad, maar die mediese offisier was van mening dat hulle dit in die dorp, waar hulle gewoon het, opgedoen het. Die sterftesyfer in die kamp het gemaak dat sekere mites, selfs oor baie jare, gevestig geraak het en ’n jong man het aan Elizabeth Neethling gesê dat hy, sover hy geweet het, die enigste een in die Pietersburg-kamp was wat nog gelewe het en dat sy pa hom byna met geweld daaruit gekry het. Hy het gesê dat die vuilheid erg was en ou soldate se komberse vir hulle gebruik is.

Baie mense het haar vertel dat die hospitaal die hele nag gesluit was en dat die siek en sterwende mense na hulself moes omsien. Haar opmerkings is egter as loutere snert beskou en daar is gemeen dat sy die werklikheid van fiksie moes onderskei. Hoe sou ’n spul mense byvoorbeeld in ’n markiestent toegesluit kon word?

Dit sou moeilik wees om ’n oordeel oor die Boere se koopkrag uit te spreek, aangesien baie van hulle armlastig was. Daar was egter mense wat geld in die kamp ingebring het terwyl dit ook moontlik was om geld in die kamp of op die dorp te verdien. Dr. Franks het opgemerk dat die Boere vrylik geld by Poynton se winkel, wat binne die eerste ses weke van sy bestaan ’n omset van £ 2 000 gehad het, bestee het, hoewel hulle arm voorgekom het. Hy het gedink die Boere het slegs noodsaaklike items gekoop, maar hulle het hul geld onder meer op lekkergoed, groot hoeveelhede rosyntjies, gepreserveerde gemmer en verskeie tipes geblikte vis bestee.

Ondanks swak gesondheid, moeilikheid met sommige inwoners en voorraadprobleme het die kamp in 1901 besonder goed gefunksioneer. Daar was genoeg mediese personeel, die roetines het glad verloop en nadat die maselsepidemie ten einde geloop het, het die mense se gesondheid gou verbeter. Die voedsel was van ’n goeie gehalte en in Augustus het die kamp sy eie groente begin kweek. Nogtans het skeurbuik ’n bedreiging gedurende die wintermaande ingehou.

Die dameskomitee se besoek is weens Boere-invalle in die omgewing vertraag en hulle kon eers in November 1901 by die kamp aankom. Hulle het ’n skoon en ordelike kamp aangetref; daar was byna 4 000 inwoners met min klagtes. Ten spyte van skeurbuik was groente by die winkel te koop en die kinders het lemmetjiesap gekry. Die skool het goed gefunksioneer en buitemuurse aktiwiteite het naaldwerk- en sanglesse ingesluit, asook onder meer skrynwerk, ’n leerlooiery, ’n steenmakery en ’n grofsmidswinkel. Daar was mense wat oonde van verskillende groottes vervaardig het, terwyl gemmerbier ook gebrou is. Aangesien die dameskomitee heelwat ervaring gehad het, was hulle in staat om ’n oordeel oor die kamp uit te spreek; volgens hulle was dit een van die bes bestuurde kampe wat hulle besoek het.

Die algemene tevredenheid met die kamp kan ook gemeet word aan die aantal mans wat hulle as vrywilligers by die Britse magte aangesluit het. In September het vyftig mans hulle by die Intelligensieafdeling aangesluit en in die daaropvolgende maande het hierdie getal geleidelik toegeneem. Teen Januarie 1902 het 140 mans hulle by die Britse magte aangesluit.

Hoewel Pietersburg as dorp hoofsaaklik ontruim is, was dit ’n aantrekkingskrag vir die Boere omdat hulle toegelaat is om die vee wat hulle saam met hulle gebring het, te behou. In Desember 1901 was daar 1 700 beeste, 800 skape en 630 donkies wat in die omgewing gewei het. Dit was dalk een rede hoekom kmdt. Christiaan Beyers die kamp op 23 Januarie 1902 binnegeval het. Die superintendent en die winkeleienaar is ’n paar uur lank gevange gehou en 141 mans en tien seuns is opgekommandeer. Daar was baie mense wat die kamp in die voorafgaande maande verlaat het, maar Tucker het geglo dat baie van hierdie rekrute teensinnig weggeneem is aangesien baie in die daaropvolgende dae teruggekeer het. Kitchener het nie saamgestem nie; hy het eerder gemeen dat sommige van die kampbewoners aandadig aan die aanval was en in reaksie daarop het hy kortaf besluit om die hele bevolking na Natal te verskuif. Dit was ongemaklik vir die owerhede want daar was nêrens ’n plek waar 3 000 mense gehuisves kon word nie. Lord Milner het egter onnadenkend aan die Goewerneur van Natal gesê dat hulle niks anders as ’n gesonde kamp nodig gehad het nie aangesien dit ’n strafmaatreël was. Volgens hom was dit onnodig om hom aan die bewoners se gemak te steur. Milner se houding het die Koloniale Kantoor nie aangestaan nie en besluit dat korrespondensie hieroor vertroulik moes bly. Die Natalse owerhede het op Colenso as ligging besluit. Tucker is van Pietersburg af gestuur om toesig oor die verwydering in die oop veld te hou en die oorplasing het in Februarie 1902 begin.

Hoewel die meerderheid van die Boere na Natal verskuif is, het verskeie kleiner kampe bly voortbestaan. Die Buys-“stam” het gebly waar hulle was en ’n klein Nasionale Verkennerkamp met 17 inwoners is gestig. As gevolg van die verandering het Buys se mense al hoe meer aandag in die verslae geniet. Teen April 1901 is ’n skool gestig. Buys kon redelik goed Engels lees en skryf. Buys en sy nasate is as swart geklassifiseer en die onderwysdepartement was nie besorg oor swart opvoeding nie; nogtans het die inspekteur ingestem om kliptafels en boeke aan die leerders te voorsien. Die vroue kon werk as wasvroue op die dorp kry om hul rantsoene aan te vul. Nadat vrede gesluit is, het die gesinne na Mara teruggekeer en die kamp is in Junie 1902 gesluit.

Tussen 2 Julie en 10 Augustus 1902 het die mense van Natal af na Pietersburg begin terugkeer, met superintendent Tucker wat die heeltyd by hulle gebly het. Runderpes het die dood van die meeste van die vee veroorsaak; dit het die inwoners se vertrek uit die kamp vertraag aangesien daar min diere was wat die waens van die gesinne wat teruggekeer het, kon trek. Volgens Tucker was die mense astrant en wanordelik nadat hulle aanvanklik teruggekeer en met die kommando’s wat oorgegee het, omgegaan het. Hierdie gees het gou bedaar, hoewel dit vir hom moeilik was om die mans om te praat om hul normale sanitêre pligte uit te voer. Namate die krygsgevangenes teruggekeer het, is die gesinne geleidelik gerepatrieer en teen die einde van Desember 1902 was daar net minder as 200 inwoners. Die kamp is in Januarie 1903 finaal gesluit.

Klik hier om te sien of daar van jou familie hier begrawe is.

Daantjie Badenhorst

Bron: https://www2.lib.uct.ac.za/mss/bccd/Histories/Pietersburg/