PROF. HANS DU PLESSIS (1945-2024)
Prof. Hans du Plessis was ’n Afrikaanse skrywer en digter wat veral bekendheid verwerf het vir sy Griekwa-Psalms wat Randall Wicomb getoonset het.
Hans Georg Wilhelm du Plessis is op 15 Januarie 1945 in Pretoria gebore en was een van vier seuns. Nadat hy sy laerskoolloopbaan aan die Laerskool Silverton voltooi het, het hy in 1962 aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria gematrikuleer. Hy het sy BA-graad met geskiedenis en Noord-Sotho aan die Universiteit van Pretoria voltooi, waarna hy ses jaar lank onderwys gegee het. Hy was in 1966 ’n Noord-Sotho-onderwyser aan Roodepoort Hoërskool, waarna hy in 1967 ’n Afrikaans-onderwyser aan Athlone Boys High School was. Hierna was hy vier jaar lank ’n onderwyser aan Hoërskool Evander, eers in geskiedenis en later ook in Afrikaans.
Hy het Afrikaans III eers voltooi nadat hy skoolgehou het en later al sy nagraadse grade in Afrikaans-Nederlands verwerf. Hy het as deeltydse student by die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) ingeskryf en in 1969 die Universiteits-Onderwysdiploma met ’n onderskeiding in Afrikaans behaal. Die volgende jaar het hy die BA (Honneurs)-graad met lof geslaag. Die Magisterbeurs is in 1971 deur UNISA aan hom toegeken en in “1972 het hy die MA-graad met lof verwerf met sy verhandeling “Die deeltjiewerkwoord in Afrikaans. In 1975 is die DLitt en Phil-graad aan hom toegeken na aanleiding van sy verhandeling “Komplementwerkwoorde en werkwoordkomplemente; ’n beskrywing van die struktuur van die werkwoord-komplement-konstruksie in Afrikaans”. In 1976 het hy die senior beurs van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) ontvang en hiermee het hy onder die taalkundige Susumu Kuno aan die Universiteit van Harvard in Cambridge in die Amerikaanse staat Massachusetts gestudeer.
Na ses jaar in die onderwys is hy in 1972 as lektor in Afrikaanse taalkunde aan UNISA aangestel en van Julie 1977 tot 1980 was hy senior lektor aan die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU). In Januarie 1981 het hy professor in Afrikaanse Taalkunde aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO, vandag Noordwes-Universiteit) geword. In sy intreerede, “Die Afrikaanse taalwetenskap as besondere taalwetenskap” het hy ’n instituut vir eietydse Afrikaans bepleit, omdat ’n opname en behoud van kwynende vorme soos Johannesburgse Afrikaans en Griekwa-Afrikaans noodsaaklik was. Sedert 1980 het hy self intensief navorsing gedoen en onder leiding van Christo van Rensburg meegewerk aan ’n navorsingsprojek oor die Afrikaans van die Griekwas. Hierna het hy verskeie handboeke en artikels gepubliseer oor Oranjerivier-Afrikaans waarvan Griekwa-Afrikaans ’n subdialek is. Hy het ’n verslag hieroor aan die RGN geskryf en in 1985 was hy ook ’n leier van ’n projek oor die Afrikaans in Namibië. Sy Griekwapsalms en -gedigte, wat onder meer deur Randall Wicomb getoonset is, het uit hierdie studieveld ontstaan.
Sedert 1985 was hy saam met die Departement Afrikaans van die Noordwes-Universiteit (NWU) betrokke by skryfkursusse van die Afrikaanse Taal-en-Kultuurvereniging (ATKV) en toe die NWU in 1989 ’n skryfskool gestig het, is hy as eerste direkteur aangestel. Hierdie skool, wat as die ATKV-Skryfskool bekendgestaan het, het sy eerste kursusse in 1990 aangebied. Hy het hierdie pos tot met sy aftrede in 2011 beklee. Hy het op die direksies van die ATKV, Lapa-uitgewers en die Aardklop Nasionale Kunstefees gedien en hy was lid van die FAK se Taalkomitee.
Sedert die vroeë 1990’s het hy saamgeleef met ’n oorerflike oogsiekte wat hom verhinder het om motor te bestuur en gemaak het dat hy met behulp van tegnologie moes lees. Benewens sy huis in Potchefstroom het hy ’n vakansiehuis op Eersterivier-strand in die Oos-Kaap en ’n huis op ’n stuk grond in die Vredefort-koepel besit.
Hy is op 25 Oktober 2024 in die ouderdom van 79 jaar oorlede. Hy word oorleef deur sy vrou Magdeleen, met wie hy op 5 Oktober 1968 getroud is, vier seuns en nege kleinkinders.
Daantjie Badenhorst