RONA RUPERT (1934-1995)
Rona Rupert was ’n Afrikaanse skrywer wat 33 boeke vir kinders en jongmense geskryf het.
Carolina Wilhelmina (Rona) Davel is op 7 Februarie 1934 in Calvinia in die Namakwaland gebore; haar pa was ’n dosent in Afrikaans en Nederlands voordat die gesin daarheen verhuis het. Haar pa het besluit om te gaan boer toe sy tien jaar oud was en sy het eerder by haar ouma se tuishuis op Calvinia gewoon as om koshuis toe te gaan. Omdat sy die jongste van twee dogters was en nie baie maats gehad het nie, het haar verbeeldingswêreld en die karakters wat sy geskep het, haar speelmaats geword.
Sy in 1950 aan die Hoërskool Calvinia gematrikuleer; daarna het sy Afrikaans en musiek aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer en haar BA-graad in 1953 behaal. Die volgende jaar het sy haar Sekondêre Onderwysdiploma en haar voordraglisensiaat in klavier verwerf. Nadat sy ’n jaar musiek in Amsterdam gaan studeer het, het sy ’n onderwyseres aan die Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch geword. Hier het sy haar man, Koos Rupert, ontmoet en een dogter, Marian, is uit die huwelik gebore. Die bekende sakeman Anton Rupert was Koos se broer. Hulle was later die medestigters van die Karoo-Boekhuis in Calvinia waar skrywers in vrede kon woon en werk.
Haar eerste boek, Die koningskind van die Hantam, is in 1967 vrygestel en dit was die begin van ’n uiters suksesvolle skryfloopbaan. Die volgende jaar het twee boeke uit haar pen verskyn; naamlik Die verhaal van die vrolike liedjie en Elias loop in die ry. Sy het telkens goeie resensies vir haar boeke ontvang. Toe sy gevra is hoekom iemand soos sy, wat musieklesse aan begaafde kinders gegee het en haar musiekopleiding oorsee ontvang het, geskryf het oor kinders wat met die verkeerde kant van die lewe te doen gekry het, het sy gesê dat sy die boodskap wou oordra dat nie alle kinders sonder sorge en in ’n onskuldige omgewing grootword soos wat volwassenes altyd sou dink nie, en dat nie alle kinders so gelukkig soos sy was nie.
In 1976 is sy met die CP Hoogenhout-prys vereer. In 1980 is die Scheepers-prys vir jeugliteratuur aan haar toegeken, gevolg deur die MER-prys in 1985 en die Tienie Holloway-medalje vir kleuterliteratuur in 1988.
Sy is op 25 Augustus 1995 in die ouderdom van 61 jaar na ’n lang siekbed oorlede. Haar laaste boek het amper ’n jaar na haar dood verskyn. As huldeblyk aan haar en as aandenking aan haar lesers is haar laaste onvoltooide manuskrip onder die titel In die skadu van berg Athos uitgegee. Op haar sterfbed wou haar man by haar weet wat hy met die manuskrip moes doen; of hy of hul dogter dit moes probeer voltooi. Haar antwoord was dat dit as onvoltooide manuskrip uitgegee moes word as dit wel uitgegee sou word. Dit het bestaan uit dagboekinskrywings wat sy op ’n Griekse eiland geskryf het toe sy in 1983, 1984, 1986 en 1992 daar vakansie gehou het. Daar was ook ’n inskrywing in April 1995, toe sy daar vakansie gehou het terwyl sy reeds siek was.
Danie van Niekerk van Tafelberg-uitgewers het die boek vir publikasie begin voorberei ten bate van een van haar projekte, die Boekhuis in Calvinia, waar haar as gestrooi is.
Daantjie Badenhorst