RYK HATTINGH (1957-2017)
Ryk Hattingh was ’n Suid-Afrikaanse skrywer wat veral bekendheid verwerf het vir sy avant-garde skryfwerk.
Andrew Ryk Hitchcock Hattingh is op 26 April 1957 in Benoni aan die Gautengse Oos-Rand gebore. Sy pa was ’n prokureur maar is oorlede toe Ryk twaalf jaar oud was. Sy ma was van ’n bekende koloniale familie afkomstig. Na skool het hy aan die Randse Afrikaanse Universiteit gaan studeer, maar sy eerste jaar was onsuksesvol en hy het sy militêre diensplig in Voortrekkerhoogte gaan doen. Hy het daarna weer gaan studeer, hierdie keer aan die Universiteit van Pretoria, waar hy sy BA-graad met Afrikaans-Nederlands en staatsleer verwerf het. In hierdie tyd is hy ook getroud, maar nadat sy kind doodgebore is, is hy weer geskei. Daarna het hy hom twee jaar lank in Knysna gaan vestig, waar hy ’n jaar lank in Afrikaans aan die Homlee Senior Secondary School onderrig gegee het en in die biblioteek in Plettenbergbaai gewerk het. Met sy terugkeer na Johannesburg het hy in 1985 sy BA (Honneurs)-graad aan die Universiteit van die Witwatersrand behaal. Hy het in 1986 as vryskutvertaler gewerk en in 1987 by Die Vaderland aangesluit. Vanaf Februarie 1989 was hy ’n joernalis by Vrye Weekblad, en later uitgewer by Hond Uitgewers. Hy het daarna die eerste redakteur van die Afrikaanse pornografiese tydskrif Loslyf geword en in sy vrye tyd het hy tromme vir ’n progressiewe musiekgroep gespeel. In 1997 het hy en sy vrou, Marténe Mentis, na Auckland in Nieu-Seeland geëmigreer; hier het hy die winkel Cobble gehad, waarin hy skoene reggemaak het en sleutels gemaak het.
Hy was veral bekend vir sy avant-garde skryfwerk, waarin hy bestaande konvensies en opvattings aangeval en bevraagteken het. Hy het sy werk by Vrye Weekblad en Loslyf, waarin hy protes teen die bestel aangeteken het, ook in kuns voortgesit. Saam met Conrad Botes van Bitterkomix-faam het hy die strokiesroman Die Foster-bende geskryf. Sy eerste uitgawes het almal by Taurus-uitgewers, wat in die streng sensuurtydperk werke uitgegee het waarvoor ander uitgewers nie kans gesien het nie, verskyn. Hy het hierdie werk by Hond Uitgewers, wat onder meer Koos Prinsloo se werk uitgegee het, voortgesit. Sy debuutroman as skrywer was Die tonnel. Dit het die verhaal van Thomas Johannes van Aarde, wat in opstand teen die samelewing, die establishment en die burokrasie gekom het, vertel. Daarby was Van Aarde moeg vir kennisgewings en advertensies wat ongevraagd in sy posbus beland het, asook die liefdeloosheid van die kerk en sy amptenare. Hy het, vanuit sy slaapkamer, ’n tonnel na vryheid gegrawe, waarna die verhaal op ’n surrealistiese manier ontwikkel het. Nog een van sy romans was Ignatius Brand, waarin die titelkarakter se lewe skeefloop wanneer hy sy werk verloor, probleme met die owerheid binne die apartheidstelsel ondervind en sy huwelik eindelik misluk. Hy vertrek alleen na Johannesburg, waar drank en politiek sy lewe verder verwoes. Hierdie roman is in 1990 vir die Rapport-prys benoem.
In 1988 is sy drama Sing jy van bomme?, deur die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (TRUK) opgevoer; dit het vyf Vita-toekennings waaronder die een vir die mees belowende dramaturg, verower. Die agtergrond van hierdie drama was die destydse Grensoorlog; dit het afgespeel in ’n anargistiese Johannesburg waar bomme gedurig ontplof het en die karakters probeer het om net te oorleef, met die pyn van mense wat te veel gesien en beleef het. Die eenvrouvertoning Opdrag: Ingrid Jonker, wat uit sy pen gekom het en deur Jana Cilliers by die Grahamstadse Kunstefees en die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) opgevoer is, was glad nie ’n sentimentele huldeblyk aan die bekende Afrikaanse digteres nie, maar ’n interne monoloog waarin die aktrise die kreatiewe proses van skryf en toneelspel ondersoek het en sowel die mens as die kunstenaar met genadelose eerlikheid en insig ondersoek het. Eensnaar was ’n drama oor C Louis Leipoldt wat ook emigrasie en vervreemding as deurlopende temas ondersoek het. Dit is in 2001 by die KKBK opgevoer.
Ryk is op 10 Oktober 2017 in die ouderdom van 60 jaar in Nieu-Seeland aan ’n hartaanval oorlede.
deur Daantjie Badenhorst