SHALEEN SURTIE-RICHARDS (1955-2021)

Die legendariese aktrise Shaleen Surtie-Richards is in die ouderdom van 66 jaar oorlede terwyl sy in Kaapstad was om tonele vir die kykNET-sepie Arendsvlei, waarin sy sedert Desember 2019 te sien was, te verfilm.

Sy is dood in ’n gastehuis aangetref, maar hoewel die oorsaak van haar dood nog nie bekendgemaak is nie, het die aktrise Lizz Meiring meegedeel dat sy met haar gesondheid gesukkel het en probleme met haar asemhaling ondervind het.

Sy is op 7 Mei 1955 in Upington gebore en het in Kaapstad skoolgegaan. As kind wou ’n plaaslike musiekskool haar nie aanvaar nie, maar haar pa het ’n klavier gekoop en ’n privaat onderwyser gehuur. Daarby het sy aan ballet en tennis deelgeneem. Sy het haarself egter nie as ’n agtergeblewene beskou nie. Sy het haar as ’n kleuterskoolonderwyseres bekwaam en van 1974 tot 1984 skoolgehou, waarna haar loopbaan as aktrise begin het. Sy was van 1974 tot 1981 lid van die toneelgeselskap The Cape Flats Players, en het onder meer aan ’n verhoogproduksie van Elsa Joubert se roman Die swerfjare van Poppie Nongena deelgeneem. Van 1982 tot 1984 was sy betrokke by die departement van onderwys se Theatre in Education.

Op die verhoog was sy te sien in produksies soos The comedy of errors, Die proponentjie, Kanna hy kô hys toe, Siener en die suburbs en Shirley Valentyn. Sy het egter onsterflike roem verwerf vir haar vertolking van Fiela in die rolprent- en verhoogweergawes van Dalene Matthee se bekende roman, Fiela se kind. Onder die ander rolprente waarin sy verskyn het, was Treurgrond, Agent 2000, Susanna van Biljon, Twee grade van moord, Nag van die 19de, Knysna en Vaselinetjie.

Haar eerste verskyning in ’n televisiereeks was in 1985, toe sy die rol Anna Ross in Galery vertolk het. Sy sal egter veral onthou word vir haar rol as Ester (“Nenna”) Willemse in die M-Net-sepie Egoli-Plek van goud, wat agttien jaar lank uitgesaai is en sy was ook gedurig te sien in twee SABC-sepies, naamlik Generations en 7de Laan. Van 2006 tot 2010 was sy ’n beoordelaar van die talentkompetisie Supersterre. In 2000 het sy haar eie geselsprogram, Shaleen, op M-Net aangebied.

Gedurende haar loopbaan het sy meer as veertig toekennings gewen. Tydens die Fleur du Cap-toekennings van 1985 is sy vereer vir haar rol as Hester in Athol Fugard se Hello en koebaai en in 2009 het sy ’n toekenning gewen vir haar rol in Shirley Valentyn. In 2014 het sy haar dertigste jaar in die vermaaklikheidsbedryf gevier en sy is by die Royalty Soapie Awards-geleentheid daardie jaar vereer met ’n toekenning vir lewenslange bydrae tot televisie. By die Naledi-teatertoekenningsgeleentheid is sy ook met ’n toekenning vir lewenslange bydrae vereer nadat sy by kunstefeeste soos die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), Aardklop, die Grahamstad-kunstefees en die Suidoosterfees opgetree het.

“Ons het ’n ikoon verloor”, het die Suid-Afrikaanse regering in reaksie op die nuus van haar afsterwe gesê.

Daantjie Badenhorst