THEO ERASMUS (1942-2021)
Die bekende trekklavierspeler Theo Erasmus is op 29 Oktober 2021 oorlede nadat longkanker by hom gediagnoseer is.
Erasmus is op 6 Mei 1942 gebore en het in Pretoria grootgeword. Hy was een van vyf bekende trekklavierspelers wat Suid-Afrika deur die jare opgelewer het en was die laaste oorblywende een van hierdie groep. Die ander was Flippie van Vuuren, Nico Carstens, Paul Ferns en Ollie Viljoen.
Benewens die trekklavier kon Erasmus ook verskeie ander musiekinstrumente bespeel, onder meer die klarinet, die tuba, die klawerbord en die kitaar. Die internasionale organisasie Famspa het Erasmus, asook sy boesemvriend Sergio Zampolli, vroeër vanjaar by die internasionale akkordeon-heldesaal opgeneem. Zampolli het in 1965 op elfjarige ouderdom na Suid-Afrika gekom en Erasmus in die 1970’s ontmoet toe Erasmus ’n toppos by die Afrikaanse radiodiens van die SAUK beklee het. Hy het later die hoof van die musiekafdeling van die Afrikaanse radiodiens geword. Erasmus het nie baie van gewilde internasionale musiek gehou nie, maar was geesdriftig oor plaaslike musiek, veral inheemse komposisies. Hy was ’n stigterslid van die Suid-Afrikaanse Akkordeon-assosiasie en het sedert 2013 die program Bielies van die boerejol op Pretoria FM aangebied. Volgens Zampolli kon Erasmus enigiets in enige toonaard speel aangesien hy ’n absolute toonhoogte-sin gehad het.
Die ATKV was van plan om ’n oorkonde aan hom te oorhandig vir sy lewenslange bydrae tot Boeremusiek en die Afrikaanse kultuurlandskap in die geheel. Hy het deur die jare albums soos Lentevrolikheid, Trekklavierskatkis, Die romantiese akkordeon en Melodie van die see vrygestel. Hy het ook ’n album, Die classics gaan sakkie-sakkie, vrygestel waarop hy klassieke wysies op die trekklavier gespeel het. Hy was ook die komponis van die kenwysie van die televisieprogram Flinkdink.
Erasmus se vrou is vyf jaar gelede oorlede nadat longkanker ook by haar gediagnoseer is. Hy laat drie kinders en sewe kleinkinders, almal seuns, agter.
deur Daantjie Badenhorst