THEUNS STOFBERG (1955-2023)
Die voormalige Springbok-rugbykaptein Theuns Stofberg is in die ouderdom van 68 jaar in ’n motorongeluk oorlede.
Marthinus Theunis Steyn Stofberg is op 6 Junie 1955 op die vrystaatse dorp Villiers gebore. Sy oupa aan moederskant was dr. NJ van der Merwe, die eerste hoofleier van Die Voortrekkers, en sy oupagrootjie was president MT Steyn van die Oranje-Vrystaat, na wie hy vernoem is. Sy pa, ds. Kosie Stofberg, was ’n predikant in die Nederduits-Gereformeerde Kerk, en hy was een van ses kinders.
Hy het in die 1960’s, toe sy pa predikant in Durban was, al begin om rugby te speel toe hy ’n leerling aan die Laerskool Dirkie Uys was. Op 15 Julie 1967 het die Springbokke, onder aanvoering van dr. Dawie de Villiers, hul eerste toets in meer as ’n jaar op Kingspark in Duban gespeel. Hy het, saam met sy maats, op die gras langs die kantlyn gesit en die toets só bekyk. De Villiers was destyds ’n predikant en ds. Stofberg het gereël dat De Villiers die erediens in die Fynnland-gemeente, waar ds. Stofberg predikant was, sou waarneem. Theuns het dit beskou as een van die beste dinge wat ’n pa vir sy seun kon doen. Na die diens het De Villiers aan huis by die Stofberg-gesin gekuier en Theuns se gesangeboek geteken. Toe hy later ’n Springbok geword het, het hy nie gehuiwer om die handtekeninge van die spanlede vir aanhangers bymekaar te maak nie, omdat dit soveel vir hom beteken het.
Hy het aan Grey Kollege in Bloemfontein gematrikuleer waarna hy aan die Universiteit van die Vrystaat in die geneeskunde gestudeer het. Hy het drie jaar lank vir die universiteit se eerste span, asook vir die Vrystaat, gespeel, en hy het vertel dat die pak voorspelers van die universiteit se eerste span die Vrystaatse span swaar sou laat leef het. In 1975 is hy gekies vir die Suid-Afrikaanse onder 21-span, wat as die Oribi’s bekendgestaan het en uiteindelik nege Springbokke, onder wie hy self, Gysie Pienaar, Divan Serfontein, Rob Louw en Edrich Krantz sou oplewer.
Die jaar 1976 was om meer as een rede Theuns se deurbraak. Die vorige jaar het die Noord-Transvaalse vleuel Pierre Spies (die latere Springbok-agtsteman se pa), die Vrystaatse ondersteuners se harte gebreek deur die wendrie vir Noord-Transvaal tydens die Curriebeker-eindstryd op die Vrystaat-stadion te druk en die Vrystaat van sy eerste Curriebeker-oorwinning te ontsê. Theuns het op daardie stadium slot gespeel, maar die voormalige Springbok-skrumskakel Nelie Smith het hom tydens die proewe vir die Shimlas, die eerste span van die Universiteit van die Vrystaat, na flank verskuif. Die Vrystaat-span van 1976 het Springbokke soos Rampie Stander, Kleintjie Grobler, Gerrie Germishuys, Gerrie Sonnekus en Klippies Kritzinger ingesluit. Die All Blacks het te midde van groot omstredenheid in 1976 deur Suid-Afrika kom toer en Jan Ellis, wat tydens die eerste toets Frik du Preez se destydse rekord van 38 toetse vir die Springbokke geëwenaar het, is vir die tweede toets weggelaat. Theuns is in sy plek op flank gekies. Hoewel die Springbokke daardie toets verloor het, het hy sy plek vir die oorblywende toetse van die reeks behou. Die Curriebeker-eindstryd van 1976 is weer in Bloemfontein gehou; die Vrystaat het teen die Westelike Provinsie te staan gekom. Die haker Wouter Hugo was die kaptein en onder die ander spanlede was Martiens le Roux, Rampie Stander, Klippies Kritzinger, Barry Wolmarans, Edrich Krantz, Gerrie Sonnekous en Gerrie Germishuys. Die Vrystaat het vir die eerste keer die Curriebeker met ’n oorwinning van 33-16 gewen.
In 1979 is Theuns vir sy diensplig na Pretoria opgeroep wat beteken het dat hy vir Noord-Transvaal sou speel. Weer eens was hy deel van ’n span wat die Curriebeker gewen het; in 1980 het Noord-Transvaal die Curriebeker gewen deur die Westelike Provinsie met 39-9, die grooste wentelling tot op daardie stadium, gewen nadat die twee spanne die vorige jaar gelykop gespeel het. In 1981 was Stofberg weer deel van ’n Curriebeker-wenspan toe Noord-Transvaal met 23-6 gewen het. Dit was ook die jaar toe die omstrede Springbok-toer na Nieu-Seeland plaasgevind het. Toe Morné du Plessis sy uittrede aangekondig het, is daar verwag dat Theuns die voltydse kaptein sou word, maar Wynand Claassen is gekies. Een rede was miskien dat Theuns gehakkel het; hy het self erken dat hy daarmee gesukkel het. Hy was wel kaptein van die span wat in Oktober 1980 teen Suid-Amerika gespeel het en nadat Wynand Claassen in die eerste toets teen Nieu-Seeland beseer is, is Theuns as kaptein vir die tweede toets aangewys. Hy het die “meelbomtoets” in Auckland weens ’n besering misgeloop. Teen die einde van daardie toer het die Springbokke ’n toets teen die Verenigde State van Amerika gespeel; hierdie wedstryd het in die geheim plaasgevind om die betogers te ontglip en altesaam veertien toeskouers het die wedstryd bygewoon.
In 1982 het die Springbokke twee toetse teen Suid-Amerika gespeel, en Theuns was slot in albei toetse. In dieselfde jaar het hy van Noord-Transvaal na die Westelike Provinsie verhuis om sy fisioterapiepraktyk te begin. In Januarie daardie jaar is Noord-Transvaal se afrigter, brig. Buurman van Zyl, oorlede en Noord-Transvaal moes vyf jaar wag om weer die Curriebeker te wen. Dit was ook die begin van die Westelike Provinsie se oorheersing van die Curriebeker; dié span het van 1982 tot 1986 elke keer die eindstryd gewen. Theuns was deel van die eerste drie spanne wat dit reggekry het, en in 1982 het hy die eerste speler geword wat die Curriebeker vir drie provinsies kon wen. Nadat die Springbokke geen toetse in 1983 gespeel het nie, het Engeland in 1984 deur Suid-Afrika getoer. Theuns is as kaptein vir daardie reeks aangewys; dit sou sy laaste twee toetse wees want ’n kniebesering het hom gedwing om op 29-jarige ouderdom uit te tree.
Hy het opgehou om as fisioterapeut te praktiseer toe Churg Strauss-sindroom, ’n siekte wat die immuunstelsel aantas, by hom gediagnoseer is. Op Maandag 21 Augustus 2013 was hy betrokke in ’n motorongeluk op pad terug na sy huis nadat hy by sy jongste dogter, skoonseun en hul ses weke oue kleindogter gaan kuier het. Hy moes met meganiese toerusting uit die wrak verwyder word en het inwendige bloeding opgedoen. Hy het twee dae later aan sy beserings beswyk. Hy word oorleef deur sy vrou en vier kinders. Sy jongste dogter, Anzel, is die aanbieder van die televisieprogram Anzel in die Boland.
Daantjie Badenhorst