VEREENIGING-KONSENTRASIEKAMP

Ligging: Ou munisipale begraafplaas, Nic Bothastraat, Vereeniging

Koördinate: -26.675611,27.912472

Die Vereeniging-konsentrasiekamp het in September 1900 ontstaan en is in twee dele verdeel.

Die Burgherkamp was die kleiner kamp en het ongeveer 150 mense van 25 gesinne gehuisves. Dit was vrywillige vlugtelinge wat hulle oorgegee het en Boereverraaiers wat as “joiners” bekendgestaan het. Die meeste mans was deel van die Burgherkorps wat bewapen was en hul doel was hoofsaaklik om die verskroeideaardebeleid toe te pas. Hulle moes plase en plaashuise afbrand, oeste vernietig, vee buit en vroue en kinders na konsentrasiekampe neem. Hierdie inwoners het hoofsaaklik in hul eie nagmaalwaens en tente gewoon en volgens verslae was hierdie kamp nie juis netjies nie.

Die groter kamp het sowat ’n duisend inwoners gehuisves; dit was hoofsaaklik vroue, kinders en bejaardes wat gevange geneem is omdat hul families vegtende boere op kommando was. Hierdie kamp het ’n aantal probleme gehad: vroue en kinders wat daaraan gewoond was om in afsondering op plase te woon, is in die kamp saamgegooi en dit het die moontlikheid van siektes verhoog. Die vroue en kinders het verhonger, verwaarloos en getraumatiseer van ontbering en verlies by die kamp aangekom met net ’n paar besittings wat hulle kon gryp en red. Te midde van uiterste weersomstandighede is die inwoners in tente gehuisves. Dit was snerpend koud in die winter, snikheet in die somer en sopnat na die fel Hoëveldse donderstorms. Weerlig was ’n gevreesde faktor; dit het heelwat lewens in die kamp geëis en gemaak dat tente aan die brand geslaan het.

Die gebrek aan wasgeriewe het gemaak dat wasgoed en liggame in die rivier gewas moes word. Toiletgeriewe was heeltemal ontoereikend, met net 25 toilette vir ongeveer ’n duisend mense en alle water moes deur kinders aangedra word. Drinkwater is uit die rivier verkry, maar dit was besoedel omdat dit stroomaf was en dit het ingewandskoors onder die kampbewoners veroorsaak. Tydens ’n kampbesoek het dr. Turner 44 gevalle van ingewandskoors onder die 664 inwoners gekry. Die kampbewoners wou nie gekookte water drink nie omdat die smaak vir hulle vreemd was. Later is water vanuit ’n fontein oorkant die rivier gekry, maar hoewel dit die siektes laat afneem het, het die rivierwater die fontein in die reënseisoen oorspoel en dit het veroorsaak dat die siektes weer uitgebreek het.

Daarby het masels tot heelwat sterftes in die kamp gelei, maar danksy die vinnige en wyse optrede van die kampowerhede is die verspreiding daarvan gekeer en die sterftesyfer was nie so hoog nie. Die gevalle is vinnig geïsoleer en die siekes is hospitaal toe geneem. Masels het twee keer in die kamp uitgebreek nadat gesinne wat daaraan gely het, vanaf ander kampe oorgeplaas is, maar dit is gou onder bedwang gebring. Die groot afstand na die begraafplaas waarheen die vroue hul geliefdes moes dra, was ook moeilik.

Die toestande in die Vereeniging-konsentrasiekamp was nie so haglik soos by sommige ander kampe nie. Die bekwame en menslike optrede van kapt. Bentnick, die eerste kampbestuurder, het orde en dissipline gehandhaaf. Hy het aangedring op genoeg tente, netheid en orde en hy het selfs die gebiede tussen die tente laat steriliseer. Volgens verslae was die kamp netjies en skoon en hy het die rantsoene laat vergroot om die kampbewoners se lewens te vergemaklik. Vleis was maklik bekombaar want die gebuite vee wat genadeloos aangejaag is, het die swakkeres laat uitsak en agterbly. Die vee, tesame met die gebuite vee wat aangekoop is, het die rantsoene aangevul.

Toe die kampbestuur tekens van wanvoeding waargeneem het, het die bestuur die kampbewoners groentetuine laat aanlê en klein kindertjies se melkrantsoene laat vergroot. Teen die einde van die oorlog is 35 hektaar se groente en voer aangeplant en selfs blomtuine is rondom die hospitaal aangelê.

Die ernstige tekort aan brandhout wat in ander kampe voorgekom het, het nie ’n invloed op die Vereeniging-kamp gehad nie omdat steenkool van die aangrensende myn maklik beskikbaar was.

Die gemoed in die kamp was volgens verslae heel positief. Daar is ’n skool op die kamp ingerig; twee inwonende vroue het as onderwyseresse opgetree, aanvanklik in tente en later in ’n sinkgebou. Tot driehonderd leerlinge het van 08:00 tot 13:00 onderrig in Engels ontvang, en die vakke wat aangebied is, was Engels, sang, godsdiens en liggaamsoefeninge. Die hospitaal het bekwame personeel gehad en ’n medisynedepot is ingerig.

Daar was ’n groot skoenmakery op die kamp en om die kampbewoners se moraal hoog te hou en hulle besig te hou, is ’n leerlooiery, ’n steenmakery en houtwerk bedryf. Teen die einde van die oorlog is ’n halfmiljoen stene in die kamp vervaardig. Daar is ook sportdae vir die kinders en kampbewoners aangebied.

Die relatief kleiner getal, die bekwaamheid van die kampbestuur en die gedissiplineerde gedrag van die inwoners was die kamp se redding.

Stroomop van die Burgherkamp en die konsentrasiekamp was daar ’n groot kamp vir swart arbeiders wat in diens van die Britte was. Van hierdie kamp is baie min bekend behalwe dat hulle ook die rivier vir wasdoeleindes moes gebruik. Dit het die besoedeling van die rivierwater vererger. Hierdie kamp is later verskuif, maar waarheen, is onbekend.

Hoewel die omstandighede in die Vereeniging-konsentrasiekamp minder haglik as in ander kampe was, was die sterftesyfer hoog. Die meeste sterftes was weens maagkoors, masels en longontsteking. Die swak gesondheidstoestand waarin die vroue, kinders en bejaardes by die kamp aangekom het, die besoedelde water en die aansteeklike siektes het tot die sterftes bygedra. Die hoogste aantal sterftes het in Augustus 1901 voorgekom toe altesaam vyftig mense gesterf het. In die begraafplaas by die kamp is ’n gedenkplaat opgerig met die name van die 156 oorledenes, onder wie 108 kinders onder vyftien jaar en 48 ouer oorledenes. Die meeste grafte is ongemerk.

Die nuus van die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 is met groot blydskap in die kamp aangekondig. Teen die einde Julie het meer as die helfte van die inwoners na hul afgebrande plase teruggekeer in ’n poging om dit te herbou. In Oktober 1902 was daar minder as tweehonderd inwoners oor; hoofsaaklik weduwees, weeskinders en bywoners wat geen heenkome gehad het nie. Die kamp is in November 1902 gesluit.

deur Daantjie Badenhorst

Klik hier om te sien of daar van jou familie hier begrawe is.