VERNA VELS (1933-2014)
Omtrent almal onthou Liewe Heksie; ’n karakter wat deur Verna Vels geskep is, en waarmee die jongspan deur middel van boeke, langspeelplate en drie televisiereekse kennis gemaak het.
Verna Barbara Robertson Vels is op 13 Junie 1933 gebore en was ’n Afrikaanse skryfster, omroeper en storieverteller. Sy het haar BA-graad met Afrikaans/Nederlands, Engels en kunsgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria verwerf en was haar hele professionele lewe lank betrokke by radio en televisie.
Die verhaal van Liewe Heksie het in die vroeë 1960’s begin as Blommie Kabouter en die heks wat so baie vergeet het, maar gou het Liewe Heksie, wie se eintlike naam Levinia was, die hoofkarakter geword. Daar was altesaam twaalf boeke in die reeks, asook ’n aantal versamelings en omnibusse. Sy was ’n onbeholpe heks wat in Blommeland saam met onder meer Blommie en Kwaaitjie Kabouter en Koning Rosekrans, wie se naam sy nooit reg kon sê nie, gewoon het. Sy het ’n kat met die naam van Matewis gehad; hy was die nefie van haar vriend Karel Kat wat in die stad gewoon het. Die Gifappeltjies, Kerrie en Borrie, was die skelms in die verhaal; hulle het gereeld probeer om Blommeland se kosbaarste skat, die Silwer Roos, te steel. Die verhale is gekenmerk deur woordspelings en dubbelsinnighede.
Daar is altesaam 52 episodes van die televisiereeks vervaardig; Verna het die stemme van die meeste karakters behartig, maar Riaan Cruywagen was verantwoordelik vir die stem van Koning Rosekrans asook die Gifappeltjies terwyl die oorlede radio-omroeper Roelf Jacobs die stem van Karel Kat behartig het. Verna was vir die laaste twaalf jaar van haar lewe die toesighoudende regisseur van die televisiesepie 7de Laan.
Sy is op 21 Augustus 2014 in die ouderdom van 81 jaar oorlede en volgens Beeld se plakkaat die volgende dag het Blommeland se vlae halfstok gehang.
Daantjie Badenhorst