VICTOR D’ASSONVILLE (1927-2022)
Prof. Victor d’Assonville was ’n Suid-Afrikaanse teoloog, skrywer, historikus en professor aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO).
Victor Edouard d’Assonville is op 18 Augustus 1927 op die plaas Oase aan die Vrystaatse kant van die Vaalrivier in die distrik Heilbron gebore. Met die bou van die Vaaldam vanaf 1934 het die opstal van Oase en ’n gedeelte van die plaas deel van die eiland van die Vaaldam geword. Nadat hy in 1945 op Ventersdorp gematrikuleer het, het hy verder aan die Potchefstroomse Universiteitskollege gestudeer en die BA- en ThB-grade verwerf. Tydens sy studentejare was hy baie aktief by die studentelewe; hy was primaries van sy koshuis en in 1952 was hy studenteraadsvoorsitter. Die Universiteit het die Abe Bailey-reisbeurs en die raadsmedalje aan hom toegeken. Hy is op 21 Januarie 1956 met Therese van der Merwe getroud.
Van 1958 tot 1959 het hy in die Skotse stad Edinburgh navorsing gedoen oor die Hervorming in die sestiende eeu, spesifiek oor John Knox. Hy het sy navorsing oor die Reformasie van die sestiende eeu en Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis in biblioteke en argiewe in Suid-Afrika, maar ook in Edinburgh, Londen, Amsterdam en Kampen gedoen. Hy het die eerste deel van sy doktorale studies in Edinburgh begin en daarna verder aan die Universiteit van Natal gestudeer; hier het hy sy PhD-graad verwerf met die proefskrif “John Knox and the institutes of Calvin”.
Hierna het hy sy ThM-graad op Potchefstroom verwerf met ’n verhandeling oor die digter Totius se opleiding en vorming as predikant. Hy het vervolgens die doktorale eksamen in kerkgeskiedenis en kerkreg afgelê, onder andere by proff. GCP van der Vyver en Hugo du Plessis. In hierdie stadium het hy sy navorsing op Totius begin fokus; dit het uitgeloop op die biografie oor Totius wat in 1977 by Tafelberg Pers verskyn het.
Om Totius se nalatenskap te help bewaar, het hy ’n leidende rol gespeel in die praktiese inrigting van Totius se woonhuis, wat tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar is, as ’n museum. Dit het ook die bewaring van Totius se plasie Krugreskraal, waar groot dele van die Bybel in Afrikaans vertaal is en die Psalms berym is, asook die oprigting van die Totius-monument in 1977 in Potchefstroom ingesluit. In 1977 is ’n reeks radiopraatjies deur hom oor Totius oor die Afrikaanse radiodiens van die SAUK uitgesaai.
Hy was van 1954 tot 1961 predikant van die Gereformeerde Kerk in Pietermaritzburg, daarna in Johannesburg-Sentraal (1961-1965), Pretoria-Sunnyside (1965-1970) en in Potchefstroom, waar hy die gemeentes Potchefstroom-Noord (1970-71), Cachet (1971-74) en Noordbrug (1974-78) bedien het. Cachet, die eerste kampusgemeente in die land, het onder sy bediening ontstaan. Die Engelse Gereformeerde Kerk van Johannesburg was ’n uitvloeisel van sy sending- en evangelisasiewerk tydens sy bediening in Johannesburg, waar hy die eerste Gereformeerde predikant was wat daar met bykomende Engelse eredienste en prediking in Engels begin het.
By verskeie geleenthede is hy na plaaslike en buitelandse kongresse genooi, veral oor Calvyn. Hy het meermale voordragte gelewer, selfs in 1986 by die Internasionale Calvyn-kongres in Hongarye, agter die “ystergordyn”. Hy is ook dikwels afgevaardig na sinodes van kerke met wie die Gereformeerde kerke in Suid-Afrika korrespondensie gehandhaaf het, asook na ekumeniese sinodes. So het hy onder meer kerke in Noord-Amerika, Skotland, Nederland en Australië besoek; hy het volledige verslae oor die besoeke, wat hy aan Suid-Afrikaanse sinodes voorgelê het, geskryf. Hy het ook namens plaaslike sinodes gedien op ’n groot aantal deputategroepe wat gemeentes besoek en met hulp en leiding bedien het.
Sowat veertig boeke het deur die jare uit sy pen verskyn, onder meer twee werke oor Totius, naamlik Profeet van die Mooirivier, wat in 1977 verskyn het en ’n meer omvattende biografie, Dit is Totius, in 1993. Laasgenoemde word beskou as die mees gesaghebbende werk oor Totius se lewe en werk. Daarby het hy ’n omvattende biografie oor Totius se pa, die taalvegter en medestigter van die Genootskap van Regte Afrikaners, SJ du Toit onder die titel S.J. du Toit van die Paarl (1847-1911) geskryf. Sommige van sy ander publikasies was teologies van aard en het hoofsaaklik die gereformeerde leer of uitgangspunte oor teologiese sake beskryf. Daarby het hy handboeke in Dogmageskiedenis wat aan ander fakulteite voorgeskryf is, kerkgeskiedenis en die Nuwe Testament geskryf, asook boeke oor die Afrikaanse Psalmberymings, die boek Openbaring, prediking en die doopformulier. In sy latere jare het hy boeke in Afrikaans en Engels oor historiese navorsing gepubliseer, onder andere oor Bloedrivier, Majuba en Eugène Marais, asook boeke wat grepe uit die Anglo-Boereoorlog, die Rebellie en die tydperk daarna beskryf het.
Hy was tot 1992, kort voordat hy geëmeriteer het en nadat ’n tugproses teen hom gevolg is, verbonde aan die teologiese fakulteit van die PU vir CHO, asook die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.
Hy is op 25 Augustus 2022, ’n week na sy 95ste verjaardag na ’n kort siekbed oorlede en word oorleef deur sy vrou, twee seuns, drie dogters, sewentien kleinkinders en vyf agterkleinkinders.
deur Daantjie Badenhorst