VOLKSRUST-KONSENTRASIEKAMP

Ligging: Voortrekkerplein by die Burgersentrum, h.v. Joubert en Laingsnekstrate,

Koördinate: -27.3667871,29.8875557

Die Volksrust-konsentrasiekamp was in die skadu van die Majuba-berg op die grens van Natal.

Hier is waar die Boere die Engelse omtrent twintig jaar tevore verslaan het; dit het die Boere aan die mees glorieryke voorval in hul geskiedenis herinner. Elizabeth Neethling het dit egter as een van die ellendigste plekke in Transvaal beskryf. Sy het dit as ’n donker plek beskou, omhein deur hoë heinings van doringdraad en vol eentonige rye klokvormige tente. Sy het gemeen dat niks wat helder of aangenaam was, die oog gevang het nie. Selfs die eerste superintendent, J.J. Carter, het hiermee saamgestem. Weens die hoogte bo seespieël en die onbeskermde aard van die omgewing was dit snags bitter koud en as die wind gewaai het, was die dae nie juis warm nie. Hierdie klimaat was bevorderlik vir gesondheid, maar die bejaarde en baie jong inwoners het swaargekry, asook die gesinne wat uit meer matige distrikte soos Utrecht, Vryheid en Piet Retief gekom het.

Dit is onduidelik presies wanneer die kamp opgerig is, maar teen Mei 1901 was daar reeds byna 5 000 inwoners. Aanvanklik was die Boere minder verarm as in sommige van die ander kampe en selfs dié wat later aangekom het, was goed aangetrek en het oënskynlik oor die nodige middele vir die “tentlewe” beskik. Teen September 1901 het dié wat nuut by die kamp aangekom het, gelyk asof hulle van ’n laer klas was en daar nie goed na hul behoeftes omgesien is nie. Nog ’n groep, wat van Wakkerstroom en Ermelo afkomstig was, was in ’n slordige en armlastige toestand en hulle is as ongewens bestempel. Die dameskomitee het ook opgemerk dat vyfhonderd inwoners wat in November aangekom het, in ’n behoeftige toestand was. Hierdie bestendige instroming van armlastige inwoners was miskien een rede waarom die gesondheid in die kamp teen die einde van die jaar agteruitgegaan het, maar dan was die dorp Volksrust vol siektes. Koue, swaar reën en die toename in inwonergetalle het gemaak dat die aantal tente onvoldoende was terwyl die beskikbare tente verslete was.

Die kamp het nie lank op sy oorspronklike plek gebly nie en daar was ’n ernstige tekort aan water. Dit het nie lank geduur voordat die kamp verskuif is na ’n ander plek, byna ’n kilometer van Volksrust af, met beter gedreineerde grond nie. Die watervoorraad was baie meer oorvloedig; dit het gekom van ’n reservoir wat net omtrent ’n kilometer weg was. Die heining van dubbele doringdraad, waarvan Neethling nie gehou het nie, is deur die militêre owerhede opgerig om die kamp teen Boere-aanvalle te beskerm aangesien die inwoners vrylik in die dorp, en gedurende die dag, binne die militêre linies kon beweeg. Die nadeel van die heinings was dat die kamp nie vergroot kon word nie. Dit het gemaak dat die tente opmekaar opgeslaan moes word, en die owerhede het gereeld hieroor gekla. Dit was ook nie moontlik om die tente af te slaan en die grond te ontsmet, soos wat in Vereeniging gebeur het nie.

Hoewel die kamp effens slordig voorgekom het, het dit gelyk asof die kamp goed bestuur is. Toe dr. Kendal Franks die kamp in September 1901 besoek het, het hy die agterlosige oprigting van die tente betreur; dit was te naby mekaar en dit het die strate geblokkeer. Sommige inwoners het in hul eie tente en waens tuisgegaan en dit was vir die Britse owerhede onooglik. Op 19 Augustus is Carter as superintendent deur George King vervang. Hy het die kamp van voor af opgerig en het die “vuil” inwoners van die meer beskaafde inwoners geskei. Hierdie plan het Franks se goedkeuring weggedra. Hoewel sommige mense gebrom het oor die slordige toestand van die kamp en die Boere se vuil gewoontes, was Franks se indrukke van die kamp gunstig.

Die kamp was egter vol teenstrydighede en sommige waarnemers het venynige kritiek gelewer. Volgens een verslag uit Augustus 1901 was die tente vuil, vullis is op ’n slordige manier gestort en vleis in verskeie stadiums van ontbinding, is oral versprei. Dit het aan die lig gekom dat Boere die vleis summier uitgegooi het as hulle ontevrede met die gehalte daarvan was. Wanneer hulle dit kon bekostig, het hulle eerder hul eie vleis gekoop. Die dameskomitee het opgemerk dat die rantsoene vir vleis die kleinste van al die kampe was. Die volwassenes het net een pond geblikte vleis per week ontvang en die kinders net ’n halwe pond. Die winkeleienaar het gesê dat hy net die laaste ses weke of wat geblikte vleis voorsien het, maar die inwoners het gesê dat hulle die afgelope drie maande net geblikte vleis ontvang het. Dit was nie net die Boere wat nie van die soutvleis wat hulle so lank ontvang het, gehou het nie. Die mediese personeel het vermoed dat dit die rede was vir die konstante diarree wat in die kamp voorgekom het. Jonger kinders het elke dag ’n bottel melk ontvang wat van gekondenseerde melk gemaak is, maar die plek waar dit uitgereik is, was slordig en die melk het lank in die son gestaan.

Teen die einde van Januarie 1902 het kapt. Bentinck en die gesondheidsinspekteur, W.F. Curry, die Volksrust-kamp besoek, en albei het die toestande in die kamp verafsku. Curry het die sanitêre toestand van die kamp as haglik beskryf; emmers vol urine en stoelgang het meer as twee dae lank in die son gestaan en ’n ondraaglike stank afgegee. Die sanitêre omstandighede het dringende en ywerige aandag vereis. Die militêre personeel wat verantwoordelik was vir die vullisverwydering, het nie hul werk gedoen nie en Curry het gemeen dat dit beter sou wees om dit aan die kampowerhede oor te laat. Bentinck se verslag was baie minder diplomaties; hy het gewaarsku dat ’n epidemie kon uitbreek. Die tente was in ’n swak toestand en die kamp was nóg skoon nóg netjies. Bentnick het gesê hy kon die sanitêre toestande nie sterk genoeg veroordeel nie. Niemand van die kampbeamptes het in die kamp gewoon nie en dalk het dit bygedra tot die gebrek aan toesighouding. Hy het ’n week later geen verbetering opgemerk nie; hy was van mening dat die superintendent ’n hardwerkende man was, maar dat hy te toegeeflik teenoor die mense was, veral die Burgerpolisie wat hy as uiters slap beskryf het.

King het verontwaardig op hierdie bewerings gereageer. Hy het geskryf dat dit duidelik onregverdig was en die militêre owerhede, die mediese personeel, die inwoners en homself in ’n slegte lig gestel het. Hy het reeds in Januarie genoem dat daar ’n tekort aan ontsmettingsmiddels was. Die kamp het wel mettertyd verbeter ondanks die aankoms van honderde armlastige vlugtelinge wat gewoontes van sindelikheid moes aanleer. King het volstrek geweier om enige van sy personeel, wat hy goed opgelei het, af te dank. Die dokters was net so ontstoke en het Bentinck se “histeriese stellings” een vir een weerlê. Bentinck het egter geen berou getoon nie en was steeds vasberade om die kamp “reg te ruk”.

Die mees akkurate maatstaf van die toestand van die kampe was gesondheid. Aanvanklik het dit gelyk asof Volksrust ’n “slegte” kamp was. Teen Mei was ingewandskoors volop en diarree het gereeld voorgekom, saam met brongitis en ander siektes wat hoes tot gevolg gehad het. Tifuskoors het tot in Junie voorgekom en terselfdertyd het masels uitgebreek, maar dr. Richard Hamilton kon nie die oorsprong daarvan vasstel nie. Die epidemie is vererger deur ’n instroming van gesinne die volgende maand en ’n tydelike hospitaal is opgerig om die slagoffers te versorg. Dr. Hamilton het die toesmeerdery van gevalle die skuld vir die verspreiding van die siekte gegee. Dit is egter moontlik dat hy nie die nodige gesag gehad het nie, want hy het gereeld oor die Boere se vieslike gewoontes, en die feit dat hulle hul tente nie lug gegee het nie, gekla. Baie van die vlugtelinge het, volgens hom, geen aandag gegee aan dit wat hy hieroor gesê het nie.

Hoewel die maselsepidemie nie lank geduur het nie, het die dameskomitee opgemerk dat die kamp steeds onder tifuskoors, asook ’n aantal ander siektes gebuk gegaan het. Daar was vyftig getalle toe hulle die hospitaal besoek het, maar daar was dalk nog meer in die tente versteek omdat die inwoners self hul siektes moes aanmeld. Volgens die dokters was die probleem nie met die voorsiening van water nie, aangesien dit goed was. Dit was eerder die gevolg van die besoedelde grond van die kamp, aangesien dit onmoontlik was om die grond te ontsmet. Daar was ook ander siektes soos onder meer kinkhoes, witseerkeel, skeurbuik en diarree. Dr. Hamilton het die gevalle van skeurbuik wat in November 1901 voorgekom het, bevestig en gemeen dat die tente oorvol was. Teen Desember het gevalle van tifuskoors toegeneem terwyl daar minder gevalle van skeurbuik was. Dit het voorgekom asof die militêre owerhede die kamp met agterdog bejeën het, want hoewel die gevalle verminder het, het hulle beswaar gemaak teen die behandeling van enteriese pasiënte in die dorpshospitaal. Pleks daarvan is ’n perseel tussen die kamp en die dorp gevind waar ’n enteriese hospitaal in markiestente opgerig sou word, maar daardie planne het nie werklikheid geword nie.

Die mediese offisier kon nie verstaan hoekom die gesondheidstoestande in die kamp so swak was nie. Hy het gemeen dat die hoë sterftesyfer “oorerflik” was. Volgens sy ervaring was die Nederlandse vroue flegmaties, en ’n gebrek aan oefening het hulle lui gemaak. Daarom is die kinders se stamina wanneer hulle gebore word, nie baie goed nie. Daarby het hy gekla oor die minagting van basiese sanitêre beginsels. Hy het die onvermoë of onwilligheid om die kinders toiletroetine aan te leer en om die toilette saans skoon te maak, beklemtoon. Gevolglik was die grond waarop die tente gestaan het, gereeld besoedel, die lug was dikwels vuil en die voedsel is aan besmetting blootgestel. Die mense het ook geen sin vir persoonlike higiëne gehad nie.

Daarom was die toename in gevalle van tifuskoors in die somer geen verrassing nie. Hoewel die kamp as “sleg” beskou is, het die dorp ook deurgeloop. Ten minste het die superintendent en die mediese personeel begryp dat die grond erg besoedel was. Daar is ’n doelbewuste poging aangewend om die tente af te slaan en die grond met son en lug skoon te kry. Nogtans het King somber opgemerk dat die sterftesyfer steeds buitengewoon hoog sou wees al sou daar geld bestee word om hulle te pamperlang. Dit sou, volgens hom, eers verander as hulle na hul ou lewens en gewoontes sou terugkeer.

Inligting wat deur die Afrikaners gegee is, het die kamp se sterftesyfer beklemtoon; volgens Elizabeth Neethling is sestien mense per dag dood terwyl sy daar was.

Vrot kos, swak sanitasie, nat vloere, swak skuiling en onvoldoende beskerming teen slegte weer was van die hoofoorsake. Dit klink dalk wreed, maar werklike hongersnood eerder as siektetoestande het ’n groot aantal sterftes veroorsaak.

Die Britse owerhede het akkurate statistiek as ’n kenmerk van goeie regering beskou, maar daar was tog ’n aantal foute. Hulle het dit op die kritiek van Emily Hobhouse, wat self ’n paar foute in haar berekenings gemaak het, gebaseer. Daar was genoeg bewyse dat die statistiek meer as een keer nagegaan is en dit het getoon dat die Volksrust-kamp betreklik gesond was. Die sterftesyfer het aansienlik toegeneem weens die maselsepidemie, maar dit was die geval met die meeste ander kampe. Dis ook waar dat masels nog lank voorgekom het, met ’n kort oplewing in 1902, maar die gemiddelde sterftesyfer was laer as in die meeste Transvaalse kampe. Ondanks die donker prentjie wat van Volksrust geskets is, was dit tog ’n gesonde kamp.

Een rede hoekom die sterftesyfer laag was, was dat die hospitaal nie in ’n markiestent was nie, maar in die Grand Hotel, ’n ruim en gemaklike gebou op die dorp. Daar was ’n ervare matrone en goed opgeleide personeel, onder wie ’n aantal proefgangers.

Babas wat net ’n paar maande oud was, is egter, volgens Elizabeth Neethling, byna met geweld van hul ma’s wat hulle verpleeg het, weggeneem en versorg, of dalk nie versorg nie, deur ’n onsimpatieke matrone en ’n aantal jong, onervare meisies wat gemeen het dat dit te veel moeite was om die babas met bottels te voed en eerder vir hulle teelepels gekondenseerde melk met heeltemal te veel water gegee het. Die kinders se ma’s is net op Sondae en Woensdae toegelaat om hul kinders ’n paar ure lank te sien, en as ’n ma op enige ander dag ontbied is, kon sy seker wees dat haar kind dood was, of besig was om te sterf.

Nogtans was daar geen ander bewyse dat suster Bartman, wat dwarsdeur die bestaan van die kamp die matrone van die hospitaal was, onvriendelik was nie. Die feit dat sy die heeltyd by die hospitaal was, was eerder ’n bewys van haar toewyding en sy het goed met die Boere-proefleerlinge saamgewerk. Dit was maklik om te verstaan hoekom daar beswaar teen die beperkte besoekure gemaak is, maar haar besluit dat ma’s by hul sterwende kinders kon bly, was ’n teken dat sy tog deernis gehad het. Hospitale is as skrikwekkende en vreemde plekke beskou, maar soos in ander kampe het die kamp op Volksrust die weerstand daarteen mettertyd te bowe gekom. Teen Maart 1902 het King met groot trots bekendgemaak dat daar ’n besondere verandering in die houding teenoor die hospitaal ontstaan het. Die mees geringe siekte is daarna vinnig aangemeld en die kampbewoners was gretig om die hospitaal te besoek.

Die meeste siek inwoners is in die hospitaal eerder as in tente behandel; dit was warmer en hulle het beter voedsel gekry. Dié wat aan tifuskoors gely het, het ’n ligter dieet as deel van hul behandeling gekry; dieselfde as dié van baie pasiënte met masels. Neethling het dit as verhongering beskou en ook gesê dat die gekondenseerde melk verdun moes word, hoewel dit nie eintlik geskik vir babas was nie. Toe die maselsepidemie uitgebreek het, is ’n afsonderlike hospitaal vir daardie pasiënte opgerig, met herstel- en isolasiekampe wat kort daarna gevolg het. Ongeag die klagtes oor die Boere se vuil gewoontes, is baddens wat smiddae oop was, voorsien. Toe die dameskomitee besoek afgelê het, het hulle vyftien vroue en 77 kinders aangetref wat besig was om te bad. Die dameskomitee het opgemerk dat die baddens gebruik en waardeer is. Dit het alles bygedra tot die herstel van die siek kampbewoners en daar was geen teken dat daar swak mediese versorging was nie. Die kampbewoners was dalk siek, maar hulle het nie gesterf nie.

Baie van die inwoners het hul eie geld verdien; hulle kon op Volksrust, asook op Charlestown wat ’n ent daarvandaan was, werk as bouers, skrynwerkers, messelaars en grofsmede. Sommige van hulle het in die kamp self gewerk. Daar was ook ’n paar wat as klerke gewerk het terwyl ’n groot aantal deel van die vrywilligerskorps geword het. King het in Oktober 1901 gespog dat daar min mans was wat niks gedoen het nie. Dit het finansieel so goed met die kampbewoners gegaan dat inkopies ’n groot deel van hul alledaagse lewe uitgemaak het. Superintendent Carter het opgemerk dat die winkel in die kamp nie veel voorraad gehad het nie aangesien die meerderheid van die kampbewoners verkies het om dorp toe te gaan vir hul inkopies. Die klein hut waarin Poynton se winkel op die kamp geleë was, was nie aantreklik vir die kampbewoners nie, hoewel die winkel ’n wins van meer as £ 1 000 in ’n goeie maand gemaak het. Die winkeleienaar het gemeen dat die winkel selfs nog meer winsgewend kon wees as die eienaars van die winkels op die dorp nie na die kamp toe gekom het om klante te werf nie. Daarby het ondernemende Indiërs stalletjies buite die kamp opgerig en onder meer vleis, groente, vrugte en limonade verkoop. As die rantsoene onvoldoende was, kon die kampbewoners dit ten minste aanvul.

Die voorkoms van skeurbuik het King aangemoedig om groentetuine te begin. Hy was bewus daarvan dat die meeste Boere geboer het, en hy het die plaaslike bevelvoerder gevra om grond vir hierdie doel te voorsien. Hy het ’n groot stuk grond beskikbaar gestel; dit was omhein om diefstal te verhoed en te sorg dat elkeen op sy eie stuk grond bly. King het trouens ’n obsessie met die moontlikheid van diefstal in die groentetuine gehad. Daar was net een hek en elkeen wat ’n stuk grond gehad het, moes ’n kaartjie, geteken deur King, kry vir toegang tot die grond. Die Boere was so geesdriftig oor die groentetuine dat hulle die oeste wat dit gelewer het, verkoop het. Teen November 1901 was daar tweehonderd stukke grond wat daarvoor toegewys is.

Superintendent King was besonder trots op die skool; daar was vyftien onderwysers en die leerders se ouderdomme het van twee tot 22 jaar gewissel. Daar was ook klasse vir volwassenes, benewens die Standerd B- tot 5-klasse wat aangebied is. Die grootste probleem, het King gemeen, was dat die Boere-onderwysers, asook dié van Nederland, nie goed Engels kon praat nie. Hy het ’n beroep gedoen op die owerhede om onderwysers wat Engels magtig was, van die Kaapkolonie eerder as Engeland te kry. Die skool het konstant gegroei en teen November 1091 was daar meer as ’n duisend leerders en 25 onderwysers. Die enigste rede waarom verdere uitbreiding onmoontlik was, was ’n gebrek aan ruimte. Sport en ander feesvieringe was ’n manier om Britse waardes by die leerders in te prent. Met Kersfees het die kinders lekkers gekry en ’n sportdag is aangebied. Die meeste kampbewoners het vakansieklere aangetrek en die hele affêre was ’n groot sukses. Die kampbewoners het ’n brief aan die superintendent geskryf om dankie te sê daarvoor. Een besondere kenmerk van die feesvieringe was die Engelse speletjies wat gespeel is en die Engelse rympies wat die kinders geleer is. Dit was ’n teken dat die Engelse taal vinnig besig was om veld te wen.

Kaptein Featherstone het King teen die einde van die oorlog as superintendent opgevolg en dr. McConnell het dr. Marshall vervang. Dit was ’n gesukkel om mans te kry om die kampwerk te verrig omdat die meeste beter werk buite die kamp kon kry. Daar was egter ’n gebrek aan vervoer wat repatriasie belemmer het. Teen Desember 1902 het die meeste mense huis toe gegaan en die kamp is aan die einde van die maand gesluit.

Klik hier om te sien of daar van jou familie hier begrawe is.

Bron: https://www2.lib.uct.ac.za/mss/bccd/Histories/Volksrust/