
VREDEFORTWEG-KONSENTRASIEKAMP
Ligging: Langs treinspoor tussen Leeustroom en Greenlands spoorwegstasies
Koördinate: -27.1280976,27.6657202
Die Vredefortweg-konsentrasiekamp was die stiefkind van die kampstelsel.
Dit was geleë op die plat mielielande van die Vrystaatse hoëveld by ’n stasie wat deesdae as Greenlands bekendstaan, op die spoorlyn suid van die dorp Vredefort.
Dit was nie gewild onder die owerhede of die latere historici nie en is dalk net gestig omdat die militêre owerhede nie geweet het wat om te doen met die honderde swart en blanke mense wat teen die einde van 1900 naby die militêre kamp saamgedrom het nie. Inspekteur Daller het die omgewing in Mei 1901 beskryf as ’n kaal, klipperige en donker plek op die helling van ’n heuwel. George Brink, die superintendent se seun, het opgemerk dat dit uitgelê is op ’n kaal helling van ’n vuursteenkoppie in ’n omgewing wat berug was vir gereelde haelstorms. Daar was nie ’n boom in sig nie en die naaste water was amper 5 km weg.
Met baie min water, ’n ernstige tekort aan voorraad en vatbaarheid vir aanvalle deur die Boere het die inwoners van die kleiner blanke kamp en die groter swart kamp, moeilike en beperkte lewens gelei. Ironies genoeg is daar baie meer van die daaglikse lewe in die kamp bekend as in dié van baie ander kampe.
Die Vredefortweg-kamp het waarskynlik teen die einde van 1900 ontstaan en was aanvanklik onder bestuur van luitenant R. Splaine van die 3rd Durham Light Infantry. Toe burgerlike administrasie in Februarie 1901 oorgeneem het, was daar 163 blankes en byna ’n duisend swart inwoners. Splaine het gesukkel om die instroming van swart inwoners te beheer, want daar was nie meer plek nie en die kos het opgeraak. Hy is kort daarna verwyder en nie onmiddellik vervang nie. Die mediese offisier, J.P. Walker, moes onderhandel vir die oprigting van hospitaaltente en die voorsiening van mediese sorg.
Teen die einde van Februarie was daar ’n vorm van administrasie maar dit was steeds lukraak. Die kampe was glad nie by die Vredefort-stasie nie, maar 5 km verder suid en baie van die vlugtelinge is eenvoudig oral versprei. Hulle het ’n aaklige verblyf in die kamp gehad as gevolg van aanhoudende reën en tente wat in ’n swak toestand was. Daarby was daar min tente beskikbaar. Kolonel C.M. Keighly het opgemerk dat die voedselvoorraad nie goed was nie weens die groot toename in getalle. Die tekort aan tente het gemaak dat die hospitaal nie opgerig is nie en die watervoorraad was net “redelik”. Burgerlike personeel het op daardie stadium nog nie aangekom nie. ’n Mediese verslag wat drupsgewys bekendgemaak is, het die enigste ander inligting oor die kamp bevat. Hoewel tifuskoors hier en daar in die blanke kamp voorgekom het, was die gesondheid oor die algemeen goed.
In Maart 1901 is mnr. Nowers as superintendent aangestel maar hy het nie die vermoë gehad om die kamp goed te bestuur nie. Hy was ’n goeie landdros maar in die kamp was hy hulpeloos en senuweeagtig, en Inspekteur Daller het gemeen dat Nowers nie juis gesonde verstand aan die dag gelê het nie. Die klerk, wat die seun van die plaaslike kontrakteur was, was bloedjonk en onnosel en mnr. Daneel, die superintendent van die swart kamp, is as die enigste verstandige personeellid beskou.
Nowers het weliswaar ’n aantal probleme gehad wat opgelos moes word, waaronder ’n suinige en onsimpatieke hoofkantoor. Toe hy daar aangekom het, was die kamp nie juis in ’n goeie toestand nie. Die tente is onreëlmatig opgeslaan en te naby aan mekaar. Daar was baie bees- en skaapkrale in die omgewing en die aanhoudende reën het die verwydering van hierdie diere, asook hoenders en varke, bemoeilik. Tydens April en Mei 1901 was daar ’n instroming van gesinne en dit was onmoontlik om hulle van tente te voorsien. Teen die einde April het die superintendent opgemerk dat daar 1 370 kampbewoners was, maar dat daar net 234 tente vir hulle was, waaronder tente wat aan sommige inwoners behoort het. Sommige tente was so verslete en hulle kon net oor ander tente getrek word; dit het die gebrek aan verblyf verder vererger.
Afgesien van die tekort aan tente, wat gemaak het dat gesinne van agt of tien mense in een tent moes tuisgaan, was die voorsiening van water ’n groot bron van kommer. Benewens die afstand was die voorraad min en daar was nie vervoer om dit na die kamp te neem nie. Karretjies wat deur bulle getrek is en watervate vervoer het, moes maande lank die afstand van 5 km tussen die waterbron en die kamp aflê, en selfs toe dit goed gegaan het, is die inwoners tot ’n gelling (net meer as 4,5 liter) per dag beperk. Hierdie gebrek aan water het enige vorm van was moeilik gemaak. Toe die dameskomitee die kamp in September 1901 besoek het, is die wasgoed in vuil en stagnerende poele omtrent 800 meter van die kamp af gewas. Toe die watervoorraad die volgende somer opgeraak het, is ’n poging aangewend om vir water te boor, maar dit het misluk. Die mediese offisier het dit as ’n absolute klug beskryf. Die gebrek aan water het dit onmoontlik gemaak om, soos wat ander kampe gedoen het, ’n groentetuin te plant. Toe een wel geplant is, het die meeste groente weens droogte verlore gegaan. Die superintendent het hartseer opgemerk dat die groentetuin uiters nuttig was toe ander voorraadbronne misluk het.
Daarby was dit ook nie seker wat Nowers se verantwoordelikhede teenoor die swart kampe was nie. Hy het gevra of hy hulle moes deursoek wanneer hulle aangekom het. Dit was onmoontlik om elke dag by die stasie aan te kom, want dit was ver weg en daar was nie vervoer nie. Die werk was soveel dat hy sy boeke en korrespondensie laat in die nag moes nagaan. Daarby is hy van die oggend tot die aand deur beuselagtighede gepla.
Inspekteur Daller het opgemerk dat die kampbewoners van die mees weerspannige in die hele kampstelsel was; ’n onbetroubare en astrante spul van Parys en Vredefort en van ’n heel ander klas as inwoners van ander kampe. Die vroue was verbitterd en die mans het nie net geweier om te werk nie; hulle het ook onder hulself baklei. Toe die superintendent die militêre kommandant gevra het om hom te help om dit te hanteer, het die kommandant oor die onbenulligheid van die sake gekla. Nowers het die hoofsuperintendent verseker dat hy alles in sy vermoë doen om orde in die kamp te vestig, maar dat sommige van die vroue moeilikheid gee. Kapt. Trollope, die hoofsuperintendent, was egter onsimpatiek, hy het beweer dat daar geen wrywing by die ander kampe was nie en dat die mense gelukkig en tevrede was.
As die blanke kamp wanordelik was, het dit nog erger by die swart kamp gegaan. Teen April 1901 was daar twee kampe met altesaam meer as 1 400 inwoners. Die een kamp was omtrent 800 meter van die blanke kamp af en die ander een 3 km weg, naby die stasie. Die westelike kamp, met omtrent 500 inwoners, was beter daaraan toe. Die hutte is net van sakke gemaak en sonder lewende hawe was daar geen brandstof nie, want die blanke en die swart kampe het die beesmis ewe veel gebruik. Al waarmee hulle kos kon maak, was steenkoolklinkers wat hulle by die stasie opgegaar het. Daneel het die superintendent in Junie, tydens die koue Hoëveldse winter, vertel dat mense honger gely het omdat hulle die brandstof wat hulle nodig gehad het, nie kon kry nie. Die mense het aan ingewandskoors en disenterie gely en daar was geen hospitaal nie. Die enigste versagtende faktor was dat sommige van die mans werk in die Weermag kon kry. Die kampe het in Mei 1901 een geword en Daneel, wat in die blanke kamp gewoon het, het by hulle ingetrek.
Die blanke en swart inwoners was ewe bekommerd oor die moontlikheid van Boere-invalle. Hoewel die Vredefortweg-kamp, anders as die kampe by Pietersburg en Aliwal-Noord, nooit binnegeval is nie, is geweerskote gereeld in die verte gehoor. Die plaaslike militêre kommandant, wat meer as net ’n bietjie paranoïes oor veiligheid was, het in Mei 1901 daarop aangedring dat die Boeremans ’n dubbele heining moes oprig om die kamp te beskerm, tesame met ’n klein fort. Die mans het sterk hierteen beswaar gemaak; hulle het verklaar dat hulle vlugtelinge onder Britse beskerming eerder as krygsgevangenes was. Die kommandant het egter daarop aangedring en geweier om swart mense te gebruik, soos die superintendent voorgestel het. Hierdie saak is na die hoofkantoor verwys en kapt. Trollope was glad nie hulpvaardig nie. Die vlugtelinge moes verseker dat die kamp skoon en gesond moes wees en enige werk wat deur vlugtelinge verskaf word en nie eintlik vir die welstand van die persone in die kamp was nie, moes teen ’n billike loon betaal word.
In Mei 1901 het J.G. Brink, voorheen ’n landdros op Jagersfontein, by Nowers as superintendent oorgeneem. Sy posisie kon nie erger gewees het nie. Omdat hy ’n lojale Boer was, het die Britse owerhede hom met agterdog bejeën en omdat hy met die vyand saamgespan het, het die Boere hom wantrou. Die rekords van die Vredefortweg-kamp is vol verslae waarin daar vertel word van sy pogings om homself teen kritiek te regverdig en te verdedig. Brink het as ’n gawe man voorgekom, en hy het onder moeilike omstandighede probeer om die beste vir sy mense te doen, maar hy was nie so streng soos die mees doeltreffende superintendente nie. Die dameskomitee het opgemerk dat hy dit moeilik gevind het om die mans so ver te kry om behoorlik vir hom te werk. Daar was heelwat bitterheid in die kamp, maar daar was ’n traagheid om beheer daaroor te neem. Sy twaalfjarige seun George, wat later ’n bekende generaal in die Unieverdedigingsmag geword het, en tydens die Tweede Wêreldoorlog die bevelvoerder van ’n afdeling in die westelike woestynveldtog in Noord-Afrika was, het ook verslag oor die lewe in die kamp gedoen. Dit was ’n ongewone perspektief deur ’n jong seun wat die Boere goedgesind was, maar nie ’n gevangene was nie, hoewel hy ’n tyd lank in die kamp gewoon het.
Nog ’n amptenaar van wie daar baie inligting bekend is, was die senior mediese offisier, dr. John Alexander Graham, wie se loopbaan tipies was van die dokters wat in die kamp gewerk het. Hy was ’n energieke jong man, ’n sjarmante Skot met, soos George Brink dit beskryf het, ’n rooi Kaptein Kettle-baard. Hy is in 1875 in Paisley in Skotland gebore, maar die omstandighede waaronder hy na Suid-Afrika gekom het, is nie bekend nie. Dit is wel ’n feit dat daar heelwat mededinging om mediese poste in Groot-Brittanje was, en daarom het hy dalk gehoop dat hy op ’n beter lewe in Suid-Afrika gehoop het. Hy het aanvanklik as ’n burgerlike geneesheer in die Britse leër gedien voordat hy by kampdiens aangesluit het, en in Julie 1901 is hy by die Vredefortweg-kamp aangestel. Toe die kamp na die oorlog gesluit is, het hy eers in die kampe by Winburg en Bethulie gewerk. Hy was met ’n Afrikaanse vrou getroud en is in 1948 in Kaapstad oorlede.
Die amptenare in die kamp het onder beter omstandighede as die kampbewoners gewoon. Die huisvesting was ruimer; die Brink-gesin het in ’n markiestent eerder as ’n klokvormige tent gewoon. Die tent is deur middel van komberse in vier dele verdeel; die ouers was in een deel, hul dogter in die tweede deel en George en sy broer in die derde deel. Die vierde deel was ’n sit-en-eetvertrek. Die rantsoene wat die amptenare ontvang het, was dieselfde as dié van die kampbewoners en dit kon nie maklik aangevul word nie. Daar was nie winkels naby nie en die voorraad in die kamp se winkel was onvoldoende. Die seuns het konstant honger gely en George het verduidelik dat dit een rede was hoekom winsbejag plaasgevind het. Dit is deur verdere bewyse bevestig. Dr. Graham het die vleis by meer as een geleentheid as oneetbaar beskou omdat die diere vol siektes was.
Die vroue se kennis van die plaaslike omgewing het gemaak dat hulle nou en dan hul rantsoene met kos van die veld kon aanvul. Die mense het ’n wortel soortgelyk aan ’n patat, wat algemeen as “gamma” bekendgestaan het, uitgekap, maar toe sommige vrou en kinders siek geword het, is dit laat vaar.
Daar was ’n winkel wat van yster en hout gebou is, en die eienaars, mnre. Cheyne en Wright, het in weelde in ’n soortgelyke struktuur gewoon. Mnr. Cheyne het ’n glasoog gehad. Omdat die winkel op die dorp ’n monopolie gehad het weens geen mededinging uit ’n naburige dorp nie, het die winkel sy klante skaamteloos uitgebuit. Toe die dameskomitee besoek afgelê het, het hulle gevind dat die materiaal buitensporig duur was en dat die voorraad kruideniersware en voedsel uiters beperk was. Die dameskomitee het gemeen dat die vroue se klagtes geregverdig was. Volgens hulle was die mense aangewese op die winkel vir gesonde variasies op hul dieet. Indien daar behoorlik toesig gehou is, kon die winkel ’n noodsaaklike deel van die kamplewe uitgemaak het.
Hoewel dié kamp ’n skool, wat George Brink ’n tyd lank bygewoon het, gehad het, was die onderrig van lae gehalte, en dieselfde kon van die ligging daarvan, wat so sleg soos die klokvormige tente was, gesê word. Die markiestent was oop; gevolglik het die leerders in stof versmoor as dit droog was en dit het gelek as dit gereën het. Die skoolhoof was mnr. Higgs; ’n Boer wat, volgens Brink op kommando moes wees. Hy was nie goed genoeg gekwalifiseer nie en die onderwyseresse kon net vir die jonger kinders klasgee. Higgs het die leerders bloot geleer om te lees, te spel en eenvoudige wiskunde te doen. In die proses het hy homself ook geleer en hy was nie voorbereid op die eise wat hoër standerds aan hom gestel het nie. Dit het hy tot sy nadeel uitgevind nadat die oorlog verby was en die onderwys meer ernstig opgeneem moes word.
Te midde van die eentonigheid van die kamplewe kon die seuns hulself op ’n manier vermaak. George Brink, wat vlot Engels kon praat en voor die oorlog aan Grey-kollege in Bloemfontein skoolgegaan het, het lang gesprekke gevoer met die soldate wat die kamp bewaak het. Daar was gereelde krieketwedstryde tussen die kampspan, waarvan George deel was, en die garnisoen, en hulle het ook kaalvoet sokker gespeel. Daar was ook soms atletiekbyeenkomste, waaraan die garnisoen ook soms deelgeneem het.
George se pa het egter ’n moeiliker tyd gehad; sy verhouding met die plaaslike Britse kommandant was vir hom ’n bron van irritasie omdat die kommandant gedurig met die bestuur van die kamp ingemeng het. Hy het geïrriteerd geraak nadat genl. De Wet die plaaslike militêre pos aangeval het en die Britse troepe het gereeld klopjagte uitgevoer op die kampe “op soek na Boere”. Mans en vroue is vir ondervraging in hegtenis geneem. Brink was woedend. As so iets toegelaat sou word, het hy gesê, sou hy heeltemal beheer oor die kampbewoners verloor. Die Boervroue, wat daaraan gewoond geraak het om die veld in te gaan op soek na beesmis, is verhinder om die kamp te verlaat of om mis aan te koop. Hulle het Brink gevra om ’n groter voorraad van hout en steenkool, wat van Kroonstad afkomstig was, te voorsien, maar die voorraad was altyd min. Die vroue kon hul wasgoed gaan was, maar net in groepe van 70 tot 100, en onder polisiebegeleiding. Die “noodsaaklikheid” van hierdie reël het ’n natuurlike grief onder vroue met siek of baie jong kinders veroorsaak. Die dameskomitee het ’n aantekening hiervan gemaak, maar daar was geen ander uitweg nie.
In Januarie 1902 was daar, volgens inspekteur C. Hamilton, min verbetering. Hy het bevind dat die kamp skoon was, maar nie die onmiddellike omgewing nie. Die superintendent het verduidelik dat sy administratiewe werk te veel van sy tyd in beslag geneem het en Hamilton het hiermee saamgestem. Teen Februarie het dit gelyk asof die kamp in ’n beter toestand was; inspekteur Tonkin was ’n meer simpatieke man wat hoë agting vir Brink gehad het en wat berig het dat die algemene toestand van die kamp goed was.
Anders as Bethulie, Brandfort en Mafikeng was die Vredefortweg-kamp nie ’n “slegte” kamp nie en afgesien van die maselsepidemie wat die sterftesyfer tot op sy hoogste vlak laat styg het, was die syfer binne die aanvaarbare norm. Tifuskoors was nie ’n ernstige probleem nie en dit het ook gelyk asof die kamp nie onder eindelose ernstige siekte gebuk gegaan het nie. Miskien was die afgeleë ligging van die dorp ’n rede hiervoor. Aan die ander kant het swak voorrade en winkels gemaak dat skeurbuik ’n bron van kommer was. Die kamp is egter nie deur ’n besoedelde rivier of ’n onhigiëniese dorp beïnvloed nie. Die maselsepidemie het die kamp relatief laat, in Augustus 1901, getref. Die eerste gevalle is te midde van teenstand van die kampbewoners af, in die hospitaal opgeneem maar namate die tekort aan tente vererger het, was hospitalisasie mettertyd onmoontlik. Dit het gelyk asof die siekte nie baie ernstig was nie, maar dit het verander toe die epidemie uitgebreek het.
Teen 1902 wou Milner aan sy Britse kritici bewys dat die sterftesyfer onder kleuters nie hoër was as tydens vredestyd in die republieke nie. Hy het die mediese personeel genooi om aan hierdie projek deel te neem, maar dit het gelyk asof Graham die enigste dokter was wie se antwoord ingestuur is. Graham het gekyk na gesinne waarin twaalf kinders gebore is. In Vredefort was daar 24 sulke gesinne met altesaam 288 kinders. Onder hulle is 105 kinders dood; twaalf in die kamp en 93 by die huis. Onder die 93 wat by die huis dood is, was 78 jonger as vyf jaar oud. Onder die 24 gesinne het sestien se kinders almal oorleef en agt gesinne het kinders gehad wat in die kamp en by die huis dood is.
Daar was 373 gesinne in die kamp, met altesaam 2 746 kinders. Onder hulle is 980 dood; 258 in die kamp en 722 by die huis. Altesaam 78,2% van hierdie kinders was jonger as vyf jaar oud.
Teen 1902 het die kampowerhede die voorstel gemaak dat die jong Boere-proefleerlinge meer formele opleiding moes ontvang. Sommige dokters was geesdriftig hieroor maar Graham was nie, omdat hy gemeen het dat sy eie personeel van ’n klas mense gekom het was hy as te arm beskou het. Net vyf van sy assistente kon Engels praat en hoewel die ander ’n bietjie kon verstaan, was dit nie goed genoeg om selfs ’n eenvoudige lesing te volg nie. Volgens hom kon hulle nie die elemente van anatomie en fisiologie verstaan nie en hulle kon slegs praktiese verpleging toepas.
Nadat die oorlog ten einde geloop het, was Vredefortweg een van die eerste kampe wat gesluit is. Die verwydering van die kampbewoners het in repatriasie verander, maar Graham was besorg oor die toekoms van die Boere. Hulle sou na verskroeide huise terugkeer, sonder klere, kos, mediese geriewe of dokters. Hy het vir hul lewens gevrees en voorgestel dat hulle tot ná die winter in die kamp moes bly. Die repatriasie was nie ’n maklike taak nie; nie het die Boere geen huise gehad waarna hulle kon terugkeer nie, hulle was ook nie gekwalifiseer vir geskoolde arbeid nie. Die bewoners is na Heilbron en Kroonstad gestuur van waar hulle gerepatrieer sou word en die kamp het sy deure in September 1902 gesluit.
Daantjie Badenhorst
Bron: https://www2.lib.uct.ac.za/mss/bccd/Histories/Vredefort_Road/
Klik hier om te sien of daar van jou familie hier begrawe is.