1 AUGUSTUS
GEBEURE
1654 – Die fort aan die Kaap se verdedigingspunt, die Walvis, sak inmekaar
Die eerste fort wat aan die Kaap gebou is, het bekend gestaan as “Zandenburgh”. Die fort was gebou deur skipbreukelinge van die skip “Nieuwe-Haerlem”. Die tweede fort om aan die Kaap gebou te word, was dié van Jan van Riebeeck. Van Riebeeck se fort het bekend gestaan as “Fort De Goede Hoop”. ’n Bolwerk van die eerste fort wat bekend gestaan het as “Walvis” stort op hierdie dag inmekaar. In Junie 1655 het Van Riebeeck bevestig dat die fort nie die toets van tyd kon deurstaan nie.
1830 – Colesberg kom tot stand
Die dorp is vernoem na Sir Lowry Cole, goewerneur aan die Kaap, van 1828 tot 1832. Colesberg het ook ondermeer as Toornberg en Toverberg bekend gestaan. Aanvanklik het die dorp slegs uit ’n sendingstasie van die Londen Sendinggenootskap bestaan. Laasgenoemde het egter die plek verlaat waarna die grond aan die Hollandse kerk gegee is. Daarna het die dorp geleidelik begin ontwikkel.
1881 – Pretoria Konvensie onderteken
Die Zuid-Afrikaansche Republiek is in April 1877 deur Brittanje geannekseer. Die gevolg daarvan was die Eerste Vryheidsoorlog en die beslissende slag van Amajuba. Nadat die vrede onderteken is, het onderhandelinge egter voortgegaan en is die Pretoria Konvensie op hierdie dag onderteken. Dit het bepaal dat die ZAR in alle opsigte selfbestuur sou geniet. Die realiteit was egter dat die ZAR steeds nie volkome onafhanklik was nie en aan Britse soewereiniteit onderwerp was. In kort het dit beteken dat die ZAR intern vry was, maar steeds Brittanje se goedkeuring nodig gehad het rondom buitelandse beleid.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Kommandonek en Silkaatsnek
Generaal Ian Hamilton, met ’n mannekrag van sowat 6 000 mans met ses-en-twintig veldwapens, word gestuur om Kommandonek en Silkaatsnek tussen Brits en Pretoria te verower en Baden-Powell se aftrede na Pretoria te dek.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Die beleg van Schweizer-Reneke wat tot 9 Januarie 1901 sou duur
1913 – Die Suid-Afrikaanse Polisie kom tot stand
Die Suid-Afrikaanse Polisie kom tot stand deur ’n proklamasie van Goewerneur-Generaal Herbert John Gladstone.
1931 – Die Handhawer verskyn
Die Handhawersbond is in 1929 in Johannesburg met die leuse “Opsaal” gestig en was op die patroon van die kommandostelsel georganiseer. Vanaf 1 Augustus 1931 het die afdeling Rand-Sentraal van die Bond ’n eie tweeweeklikse blad, Die Handhawer, gepubliseer. Die doelstellings van die Handhawersbond was om deur georganiseerde optrede “die Hollands-Afrikaanssprekende Afrikaner op te wek tot sterker self- en volksbewussyn; die gees van oppervlakkigheid ten opsigte van staatkundige en kultuurvraagstukke te bestry; besieling op te wek in belang van die handhawing van die Afrikaner-eiegoed; om onverdraagsaamheid by die Afrikanervolk in geval van onderlinge meningsverskille te bestry; om suiwer Afrikaans oral en te alle tye tot sy reg te laat kom; om alle moontlike steun te verleen aan goedgekeurde verenigings en organisasies wat hulle, die op- en uitbouing van ’n suiwer Suid-Afrikaanse kultuur ten doel stel; om op ekonomiese gebied na die heil van die Afrikaner te strewe; en om die suiwerheid van die Afrikanervolk teenoor gekleurdes te bestendig en gelykstelling op maatskaplike gebied te vermy.” Afdelings van die Handhawersbond het veral aan die Rand gefunksioneer, en groot geesdrif vir die Afrikaanse taal en kultuur is opgewek in ’n tyd toe dit ’n moeilike bestaan in die stedelike sentra gevoer het.
1936 – Die SAUK kom tot stand
Die SAUK het tot stand gekom met die aanvaarding van die Uitsaaiwet (Wet 22 van 1936) op 1 Augustus 1936. Volgens die oorspronklike bewoording van die wet was die oogmerke van die Korporasie: “ a) om ’n uitsaaidiens binne die Unie voort te sit; en b) om onderhewig aan die goedkeuring van die Goewerneur-generaal, ’n televisiediens binne die Unie voort te sit, sowel as enige onderneming wat ondergeskik is aan die bedoelde uitsaai- of televisiediens.”
Voorts is bepaal:
Programme is aanvanklik net in Afrikaans en Engels uitgesaai, maar op 1 Mei 1950 is ’n derde programdiens, die tweetalige Springbokradio, ingestel. Intussen het die behoefte aan ’n uitsaaidiens vir die Nguni- en die Sotho-bevolking groter geword en op 1 Augustus 1952 is ’n rediffusiediens in drie tale vir swartes na dorpe wes van Johannesburg herlei. Ten einde beter ontvangs vir luisteraars te verskaf en meer kanale vir uitsendings te open, is in 1960 begin met die beplanning van ’n omvattende FM-netwerk. Die eerste FM-uitsendings vind plaas op Kersdag 1961 van die SAUK-toring in Johannesburg. FM het bykomende uitsaaikanale verskaf sodat daar afsonderlike programdienste in die verskillende tale vir swartes ingestel kon word. In September 1964 is die eerste streekdiens, Radio Hoëveld, oor die eter in Johannesburg gehoor, gevolg deur Radio Goeie Hoop in Kaapstad in Julie 1965 en Radio Port Natal in Mei 1967 in Durban. Op 13 Oktober 1975 het Radio 5, voorheen LM-Radio, vir die eerste keer vanuit Johannesburg uitgesaai. Teen die einde van Julie 1979 was daar reeds 98 FM-sendstasies in Suid-Afrika in werking en kon die hele bevolking op FM-uitsendings inskakel. Die Buitelandse Diens in tien tale is in Mei 1966 ingestel. Hierdie dienste staan bekend as Radio RSA. Op 15 Desember 1969 stel die Regering ’n Kommissie van Ondersoek aan om oor die moontlike instelling van ’n televisiediens verslag te doen. Op 5 Januarie 1976 het die televisiediens amptelik begin.
1941 – Die Universiteit van Stellenbosch se studentekoerant, Die Matie, se eerste uitgawe verskyn
1951 – Herenigde Nasionale Party kom tot stand
NC Havenga se Afrikaner Party sluit by die Nasionale Party onder dr. DF Malan aan en word die Herenigde Nasionale Party.
1959 – Die Nasionale Bouvereniging gestig
Die totstandkoming van Nasionale Bouvereniging, die tweede Afrikaanse bouvereniging, was die resultaat van Volkskas en Sanlam om die Afrikaner se aandeel ook op ekonomiese gebied te versterk. Op 1 April 1970 het dit met Saambou (Permanente) Bouvereniging geamalgameer om Saambou-Nasionale Bouvereniging te vorm, ’n Afrikaanse vereniging wat in 1979 meer as 550 takkantore en agentskappe gehad het.
GEBOORTES
1815 – Daniël Christiaan Esterhuyse, bekend as die eerste gepubliseerde Afrikaanse digter met sy bundel Dertig Liederen wat in 1861 verskyn († 2 September 1897)
DC Esterhuyse was een van die interessantste figure wat die Roggeveld opgelewer het en een van die eerste kerkraadslede van die NG gemeente Sutherland. Hy is ook bekend as die eerste gepubliseerde Afrikaanse digter met sy bundel Dertig Liederen wat in 1861 verskyn.
STERFTES
1926 – John X. Merriman, laaste eerste minister van die Kaapkolonie (* 15 Maart 1841)
John Xavier Merriman was die laaste eerste minister van die Kaapkolonie voor die Uniewording van Suid-Afrika in 1910.
1966 – Sidney Robey Leibbrandt, bokser en politieke stormvoël (* 25 Januarie 1913)
Sidney Robey Leibbrandt is op Potchefstroom gebore. As bokser bereik hy in 1936 die halfeindronde op die Olimpiese Spele in Berlyn, waar sy bewondering vir die Duitse Führer, Adolf Hitler, gestimuleer is. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog bevind hy hom in Duitsland, terwyl die Unieregering Engeland teen Duitsland steun. Met behulp van die Duitse Weermag, keer hy in 1941 in die geheim na Suid-Afrika terug met die seilboot Kyloe en maak kontak met die Ossewa-Brandwag, wat ten sterkste teen die Regering se oorlogsbeleid gekant was. Hy bring ’n kerngroep van 300 man op die been om die Smuts-regering in sy oorlogspoging te verlam. As rebel het hy in die Afrikanersaak geglo en wou hy sy volksgenote (soos Hitler) tot ongekende hoogtes aanspoor. Na sy inhegtenisneming word hy in 1943 ter dood veroordeel, wat later in lewenslange gevangenisskap verander is. Hy is in 1948 vrygelaat, en op 1 Augustus 1966 is hierdie figuur uit die tyd van die Ossewa-Brandwag oorlede.
1993 – Hilda Postma, skrywer (* 7 September 1895)
Dié dogter van ds. S Postma is op hierdie dag op Burgersdorp gebore. In 1922 word sy onderwyseres, en sy is daarna jare lank aan die personeel van die Oranje-meisieskool in Bloemfontein verbonde. Sy is veral bekend as skryfster van kindergedigte en kinderboeke.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.