DC ESTERHUYSE (1815-1897)
Daniël Christiaan Esterhuyse was die eerste gepubliseerde Afrikaanse digter en een van die eerste kerkraadslede van die NG-gemeente Sutherland.
Hy is op 1 Augustus 1815 in die Midde-Roggeveld in die distrik Sutherland gebore as seun van Johannes Hermanus Esterhuyse en Anna Hendrina Engela du Plessis. Hy het arm grootgeword en slegs nege weke lank by ’n rondreisende onderwyser wat hom leer lees en skryf het, skoolgegaan. Daarna het hy hom met behulp van die Trap der Jeugd in die leeskuns kon bekwaam. Hy was verstandelik besonder begaafd en het het só goed as kneg by ene Hendrik Jooste van Vijffontein gewerk dat hy later Jooste se plaas kon koop.
Hy het eers in die Klein-Roggeveld gewoon en daarna lank op Vijffontein; in sy latere lewe eers op Klipbank en op die ou einde op Baviaansdrift naby Sutherland. Hy was in 1855 een van die stigters van die dorp Sutherland, waar hy boedels beredder en afslaerswerk gedoen het. Hy was lid van die boukommissie van die NG-gemeente en jare lank ’n ouderling.
Hy was bekend vir sy eksentrieke karakter; ’n voorbeeld hiervan was dat hy die kopsteen van sy graf self ontwerp het en die woorde, gelukkig sonder sy sterfdatum, daarop uitgebeitel het.
Die dood van sy eerste kind, Hermanus, het tot sy digwerk aanleiding gegee. Hermanus was twee jaar oud toe sy pa, sonder dat hy bewus van die aard daarvan was, ’n giftige soort kraaitulp vir hom gegee het om te eet. Hy is ’n paar uur later oorlede. Hierdie tragedie het in 1846 op Swanepoelshok in die Karoo plaasgevind. Die treursang op hierdie gebeurtenis was die openingsgedig van sy digbundel Dertig Liederen ; die eerste Afrikaanse digbundel, wat hy privaat vir sy familie uitgegee het. In Het Volksblad van 2 November 1861 is die publikasie van die digbundel aangekondig en daar is gemeld dat “rijm en versificatie geheel naar het Kaapsche tongval ingericht is.” Hierdie bundel is nog nie geïdentifiseer nie maar daar bestaan ’n sterk vermoede dat dit moontlik die verlore eerste druk van Esterhuyse se Dertig liederen is. Hoewel die taal basies nog Nederlands was, bevat dit baie van die latere eienskappe van Afrikaans. Een eksemplaar van die bundel is vir elk van die digter se kinders gedruk. Benewens die treursang na aanleiding van sy kind se dood het die digbundel hoofsaaklik godsdienstige gedigte bevat. Na aanleiding hiervan word Esterhuyse beskou as die digter van die eerste digbundel in Afrikaans en die bundel is meer as een keer herdruk; die eerste keer in 1890 en die laaste keer in 1935. Gerrit Komrij het ses gedigte uit hierdie bundel in sy omvattende bloemlesing, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, opgeneem.
Esterhuyse is in September 1843 met Christina Johanna Jordaan getroud; vyf seuns en twee dogters uit die huwelik het tot volwassenheid gegroei terwyl vier kinders jonk dood is. Hy is op 2 September 1897 in die ouderdom van 82 jaar as een van die mees gesiene en vermoënde inwoners van die distrik oorlede. Sy vrou is in Mei 1904 oorlede.
deur Daantjie Badenhorst