HILDA POSTMA (1985-1993)

Hilda Postma was ’n Afrikaanse skrywer wat bekendheid vir kindergedigte verwerf het.

Sy is op 7 September 1985 op die Oos-Kaapse dorp Burgersdorp gebore; haar pa was ds. Stephanus Postma en haar oupa ds. Dirk Postma, een van die grondleggers van die Gereformeerde Kerk. Haar suster, Rikie Postma, het kinderprosa geskryf.

Twee jaar nadat Hilda gebore is, is haar pa na Middelburg in die Oos-Kaap beroep. Hy is hier oorlede en haar ma en ses kinders het op die dorp agtergebly. Hier het sy deeglike opvoeding met Engels as hooftaal en Nederlands as tweede taal ontvang. In 1918 is haar ma met JSM Rabie getroud en die gesin het na Bloemfontein verhuis.

In 1922 het sy haar kleuterskooleksamen met lof aan die Normaalkollege in Bloemfontein afgelê en in 1924 is sy by die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein aangestel. Sy was tot minstens 1949 aan hierdie skool verbonde.

Haar eerste gedig, “My lappop”, het die eerste prys gewen in ’n kompetisie vir kindergedigte wat deur Die Huisgenoot uitgeskryf is en haar kindergedigte het baie gewild onder die jeug geword. Onder die boeke wat sy vrygestel het, was Na towerland, Varkieboer, Ons Afrikaanse ABC-boek, Ons outjies en Tuinversies.

Sy was nooit getroud nie en is op 1 Augustus 1993 in die ouderdom van 97 jaar oorlede. Sy is uit die Gereformeerde Kerk in Potchefstroom begrawe en sommige van haar persoonlike besittings word by die Middelburgse Kultuurhistoriese Museum bewaar.

deur Daantjie Badenhorst