DIE OU EN NUWE KULTUURVERENIGINGS
Afrikaans het altyd politieke partye en kultuurorganisasies as verdedigers gehad. ’n Oudit van “Afrikaanse taalprojekte, verenigings en energieë” onder leiding van Karel Prinsloo in 2003 en 2004 bring ’n verbasende verskeidenheid aktiwiteite, infrastrukture en netwerke aan die lig. Dit spreek van lewenskragtigheid en toekomsgerigtheid – “beslis bates vir die Afrikaanse taalgemeenskap”. ’n Lys daarvan beslaan 70 bladsye.
Verskeie organisasies het die 1994-oorgang oorleef: die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die FAK, die ATKV, Die Voortrekkers, die Afrikanerbond (voorheen Afrikaner-Broederbond), Rapportryers en betreklik nuwes soos die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VIVA) en die Vriende van Afrikaans.
Die Akademie se taalkommissie versorg die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, ken belangrike pryse soos die Hertzogprys toe en gee twee vaktydskrifte uit – die Tydskrif vir Geesteswetenskappe en die Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie.
Die FAK is sedert April 2010 in vennootskap met die Solidariteit Beweging. In 2020 was prof. Danie Goosen voorsitter en dr. Danie Langner uitvoerende hoof. Wat belangstelling in die FAK laat toeneem het, is die publikasie van die FAK-Sangbundel Volume II in 2012 – met die beste Afrikaanse liedere sedert die 1979-uitgawe, maar ook heeltemal nuwes. Onder die nuwes is “De la Rey” (teks: Johan Vorster, musiek: Sean Else, bekend gemaak deur Bok van Blerk), “Hillbrow” (Johannes Kerkorrel) en “Stuur groete aan Mannetjies Roux” (teks en musiek: Christopher Torr, en bekend gemaak deur Laurika Rauch).
’n Belangrike uitvloeisel van die vennootskap tussen die FAK en die Solidariteit Beweging is die totstandkoming van die NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies. Die doel van die sentrum is die ontwikkeling van lewensbeskoulike idees en taalnavorsing met die gemeenskapsidioom as fokuspunt. Ter herdenking van NP van Wyk Louw se geboorte- en sterfdag op 11 Junie 1906 en 18 Junie 1970 bied die sentrum jaarliks ’n NP van Wyk Louw-kultuuraand aan.
In 2013 het die FAK die Groot Trek se 175ste herdenking gevier deur die spore van Retief te volg vanaf die Kaap tot Natal. Dit is sedert 1838 die vierde Groot Trek-herdenkingsrit. Die doel van die rit was nie ’n volksfees nie, maar om die Groot Trek-verhaal deur middel van ’n vieruurlange dokumentêre reeks vir kykNET te verbeeld.
In samewerking met kykNET het die FAK in 2015 ’n projek geloods om ’n dokumentêr te verfilm oor die suksesverhaal van Afrikaans in Namibië. Die dokumentêr bestaan uit vier halfuur-episodes en fokus veral op die belangrike rol wat Afrikaanse kultuurorganisasies, entrepreneurs en skole speel om kulturele groeiruimtes en ’n ekonomiese waarde vir Afrikaans te skep.
Die FAK probeer ook om geskiedenis op skool te bevorder. Hy ondersteun die professionele verenigings soos die Vereniging van Regslui vir Afrikaans. Die VRA vertaal belangrike wette in Afrikaans, reël seminare vir praktiserende regslui, gee beurse vir studente en sorg vir die indiensopleiding van studente gedurende wintervakansies, terwyl sy Arbitrasiegenootskap geskille tussen Afrikaanssprekendes besleg deur senior Afrikaanse regsgeleerdes, onder wie oudregters. Die filosofie agter die VRA se direkte strategie is verduidelik deur een van die stigters, Koos Malan: “Moenie iemand anders vra om iets vir jou te doen nie; moenie eers probeer om die regering te beïnvloed of om soos ’n party aan bewind te kom alvorens jy iets kan doen nie; doen dit self – summier. Jy kan baie dinge doen en so regstreeks iets vir jou taal en jou mense doen.” Soortgelyke Afrikaanse verenigings is een vir medici, ingenieurs, vir wiskunde- en vir geskiedenis-onderwysers en rekenmeesters, wat in 2011 onder andere ’n Afrikaanse belastinggids gepubliseer het.
Die FAK het ter viering van sy 90ste bestaansjaar in 2019 begin met ’n projek om nuwe monumente te bou. Die beelde is geskep deur Jacques Müller, ’n beeldhouer en skilder van Pretoria. Die eerste is ’n bronsbeeld van dr. NJ van der Merwe, stigterslid en eerste voorsitter van die FAK en die eerste hoofleier van Die Voortrekkers en is in Februarie 2019 onthul. Die Penkopmonument is op 12 Junie 2019 by die FAK se Udolpho Rivierplaas naby Parys in die Vrystaat onthul. Dié monument van sandsteen is van ’n jong seun, oftewel Penkop, wat tydens die Anglo-Boereoorlog noodgedwonge in die oorlog moes veg. Saam met die beeld is twee borde met die name van 2466 seuns tussen ses en 16 jaar wat dié oorlog oorleef het, en ’n aambeeld onthul. Die aambeeld is ’n simbool van die staal, die daadkrag en harde werk van die naoorlogse seuns. Die derde is die Sorg-monument van dolomiet, eie aan die Irene-omgewing en brons, wat in 2020 opgerig is. Die monument is in die Irene-konsentrasiekamp in Centurion. Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het gesê: “Op 16 Junie, vanjaar presies 120 jaar gelede, het Lord Roberts die verskroeideaardebeleid in Pretoria aangekondig. Hierdie beeld sê dat ons moet sorg vir ons erfenis, ons moet sorg vir ons verlede, ons moet sorg vir ons monumente, maar ons het ook ’n verantwoordelikheid om te sorg vir ons kinders se toekoms.” Op 10 Oktober 2020 is die Saaimonument op die terrein van die Nasionale Vrouemonument onthul wat die FAK aan Die Voortrekkers geskenk het. Daarmee is die beweging se honderdste bestaansjaar in die Vrystaat herdenk. Die 𝘴𝘢𝘢𝘪 verwys na ’n brief wat ’n onbekende vrou op 4 Augustus 1902 aan haar pa in die krygsgevangenekamp op Ceylon gestuur het oor ’n emmer koring wat sy gesaai het sodat die boerdery kan voortgaan.
Die ATKV bevorder musiek, toneel en boeke onder jong mense met projekte soos Kampustoneel, redenaarskompetisies, ATKV-Applous vir skoolkore, die ATKV-skryfskool, avontuurkampe en die Pendoring-reklamewedstryd.
Die Afrikaanse Taalraad (ATR) is “’n koördinerende netwerkskeppende en inklusiewe liggaam”. Die ATR onderskryf veeltaligheid en het die doel om naas Afrikaans ook ander tale te bevorder.
Die nalatenskap van toegewyde Afrikanernasionaliste dra by tot die bloei van die Afrikaanse kultuur: die LW Hiemstra Trust, die Dagbreektrust, Het Jan Marais Nationale Fonds en Het Jan Marais Fonds. Sonder die ruime subsidie van die Hiemstra Trust sou talle Afrikaanse boeke nie kon verskyn nie.