DIE “KRISIS VAN VERTWYFELING”
Afrikaans en die Afrikaanse gemeenskap, maar veral Afrikaners het belangrike verliese gely in die kwarteeu van ANC-bewind. Soos ná die Anglo-Boereoorlog beleef die gemeenskap weer ’n “krisis van vertwyfeling”, soos NP van Wyk Louw dit noem. Dié soort krisis kom voor wanneer baie lede van ’n gemeenskap voel dat dit nie die moeite werd is om as ’n groep met ’n eie taal voort te bestaan nie. Simptome van die krisis is verengelsing, die geweldige emigrasie en besluite om nie kinders te hê nie.
Hy gee aanduidings van wat mense in so ’n krisis kan doen. Een ding is om die taal aan te hou gebruik uit selfrespek en solidariteit met die taalgemeenskap. ’n Tweede is om te probeer sorg dat Afrikaans ekonomiese waarde kry. ’n Derde strategie is om kultuur te skep en dit te waardeer, beskerm en verbrei. Hoe groter die verskeidenheid kulturele skeppings, des te beter. Soos dit sal blyk uit die stukkies van 25-30 Desember gebeur dit in die Afrikaanse media en openbare en private skole en instellings vir hoër onderwys. Moet die kerk onbetrokke bly? Dit is nie die kerk se taak om ’n taal te handhaaf nie, word maklik gesê. Maar Daar teenoor staan die vraag: is dit dan die taak van die kerk om ’n taal deur onbruik tot niet te maak? “Ons mag nie van taal ’n afgod maak nie” is dikwels ’n argument – veral by mense wat Engels verafgood.
Vroeë reaksies op die krisis van vertwyfeling het van Namibiese Afrikaners gekom. Baie gou nadat Namibië in 1990 onafhanklik geword het, moes al die staatskole Engels as voertaal aanvaar. Dit het die Afrikaners gedwing om dadelik Afrikaanse private skole aan die gang te kry. Dr. Callie Opperman van Netwerk is baie trots daarop dat die meeste van hierdie skole ’n uiters armoedige begin gehad het – baie het in ’n motorhuis of kerk se kelder begin, enige plek waar daar spasie was – maar vandag kan trots wees op die suksesse.
Daar was aanvanklik groot verdeeldheid onder Afrikaners, want sommige het gevoel die staatskole is hul skole, wat gebou is met belastinggeld wat húlle betaal het. Die gety het egter stadig gedraai, sodat daar in 2011 in ’n groot staatskool soos op Keetmanshoop tussen 700 leerlinge minder as 10 Afrikaners is. Die res van die dorp se Afrikanerleerlinge is by die Keetmanshoop Privaatskool.
Die meeste groot dorpe in Namibië het elk ’n Afrikaanse privaatskool, altesaam so 12 tot 15 in totaal. Die leerlingtal wissel van so 25 in die kleiner skole tot ongeveer 400 elk in Windhoekse Afrikaanse Privaatskool en Elnatan op Stampriet. Altesaam was daar in 2011 sowat 2000 kinders en 200 onderwysers. Die eindeksamens word afgeneem deur die Independent Examination Board van Suid-Afrika omdat baie na Suid-Afrikaanse universiteite wil gaan. Die koördinerende liggaam is NAVCO – Namibiese Afrikaanse Vereniging vir Christelike Onderwys. Wat die standaard betref, kan die staatskole meestal nie kers vashou by die privaatskole nie.
Die NBC het nog ’n Afrikaanse radiodiens, wat baie RSG-programme oorneem. Kanaal 7 is ’n Christelike stasie wat seker 80% in Afrikaans uitsaai. Daar is baie min Afrikaans oor televisie – die NBC is baie swak. Gelukkig is DStv, wat kykNET insluit, beskikbaar.
In Suid-Afrika speel godsdiens ’n belangrike rol in die beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (CVO) wat meer as 40 skole het; 22 gee opleiding tot en met matriek. Op een na het hulle almal in 2009 ’n 100%-slaagsyfer gehad. Die volkseie het betrekking op die gebruik van Afrikaans as voertaal en die inagneming van die Afrikaner-geskiedenis en -identiteit. Ook die Curro-groep van meer as veertig skole bied sommige van sy klasse in Afrikaans aan in parallelmediumskole.