
VERNUWING: KUNSTEFEESTE, KYKNET, NETWERK24, LITNET
Soos die landbou en mynbou is kuns en vermaak een van die groot werkverskaffers. Dit is veral in 2020 uitgewys deur Lizz Meiring in ’n onderhoud met Ryk van Niekerk van Moneyweb. Suid-Afrika maak byvoorbeeld elke jaar gemiddeld 52 rolprente en by elkeen is honderde mense betrokke. Dan is daar die derduisende mense wat in verskeie hoedanighede werksaam is in teaters, musiekuitvoerings, die radio en televisie en nog meer. ’n Aanduiding van wat die bedryf behels, kry ’n mens in die Wikipedia-profiel van Meiring (Bizzy Lizzy): aktrise, regisseur, teatervervaardiger, TV-aanbieder, seremoniemeester, spreker, kunsteaktivis, kreatiewe konsultant en skrywer.
Tot in 2019 (dus voor die korona-krisis) was kunstefeeste ’n belangrike middel om Afrikaans in die wêreld van kuns en vermaak uit te bou en werk aan Afrikaanssprekendes te verskaf. Die eerste was die KKNK, gevolg deur Aardklop, die Volksbladfees, tans Vrystaat-kunstefees en talle ander. Veral toneel en musiek is bevorder, maar ook die oop gesprek oor aktuele sake. Boeke word bekend gestel en bespreek. Kraampies met eetgoed, kunswerke en snuisterye trek ’n deel van die gemeenskap. Vir ligte musiek is kunstefeeste ’n groot stimulus.
Ligte musiek vorm ’n deel van die hedendaagse kultuurlewe wat mense aantrek. Die gewildheid is soms verstommend. Toe die seremoniemeester in 2004 aankondig Steve Hofmeyr wen 2004 se SAMA (South African Music Award) met sy Afrikaanse album Toeka, het die gehoor uitgebars van die lag. Dis seker maar ’n grappie! Engelse albums wen gewoonlik. Sedertdien het Afrikaanse albums weer en weer gewen. Dis ’n bonus wanneer dit ’n Afrikaanse patriotisme help kweek. “De la Rey” van Sean Else en Johan Vorster, en gesing deur Bok van Blerk, het die land stormenderhand verower, en Deon Opperman se musiekspele Ons vir jou en Tree aan! het duisende mense vermaak. Die musiekbedryf moet hom steeds by tegnologiese vernuwings aanpas. Al minder CD’s word verkoop omdat musiek “gestroom” word en musiekvideo’s goedkoper aanlyn beskikbaar is. Kunstenaars verloor inkomste deur die mentaliteit van mense wat aanlyn vermaak geniet, maar nie daarvoor wil betaal nie. Sangers is dus vir inkomste veral aangewese op shows en ander openbare optredes. Wanneer ook dít in gedrang kom (kyk by 30 Desember), word dit vir hulle ’n krisis.
Die drastiese inkorting van Afrikaanse televisie oor die SAUK het gelei tot planne vir ’n Afrikaanse kanaal. Wat ’n privaat Afrikaanse diens moontlik gemaak het, is ontwikkelings in die Suid-Afrikaanse kommunikasiebedryf. M-Net (Media Electronic Network) het in 1986 tot stand gekom as ’n betaalkanaal, onafhanklik van die SAUK. Dit het ontstaan uit ’n idee van Koos Bekker, wat deur Ton Vosloo, besturende direkteur van Naspers, deurgevoer is.
M-Net was aanvanklik ’n analoog-diens wat op een kanaal uitsaai. In 1993 het Naspers ’n filiaal Multichoice gestig wat as die sake-arm van M-Net gedien het. Multichoice het in 1995 ’n nuwe digitale satellietdiens begin – DStv (Digital Satellite Television). Op 15 November 1999 het DStv ’n volwaardige Afrikaanse kanaal geskep. Met die derde verjaardag is bekend gemaak dat kykNET een van DStv se gewildste kanale geword het. Ná tien jaar was daar 1,8 miljoen kykers. Die diens het dokumentêres en drama-reekse laat maak, verskeie daarvan deur Deon Opperman, Chris Barnard, PG du Plessis en Jan Scholtz. Van 1 Julie 2010 bied kykNET ’n volwaardige nuusdiens aan. Met die tiende kykNET-verjaardag in November 2009 het sy hoof, Karen Meiring, gesê die sukses is daaraan toe te skryf “dat daar ’n kanaal is en al wat jy hoor, is Afrikaans”. Hulle wil gewilde programme goed maak en goeie programme gewild. Een van die DStv-kanale is BVN, wat programme van die Nederlandse en Vlaamse televisiedienste uitsaai.
Die digitale era het die gedrukte media geknou. Gratis digitale koerante het die sirkulasie van koerante en tydskrifte laat daal en ná heelwat eksperimentering het ’n nuwe digitale nuusdiens, Netwerk24, in September 2014 tot stand gekom waarin die nuus van Die Burger, Volksblad, Rapport en Beeld te lees is. Dit een van die grootste nuusplatform in die land geword.
Nog ’n voordeel wat die nuwe tegnologie vir Afrikaans gebring het, is LitNet. Die skrywer Etienne van Heerden, professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad, is die hoofredakteur. Hierdie meningsjoernaal is in 1999 op sy inisiatief geskep. Dit huisves verskeie rubrieke, onder meer LitNet Akademies, een van die mees gesogte akademiese joernale vir geakkrediteerde artikels.