SOLIDARITEIT BEWEGING BRING HOOP VIR ’N TOEKOMS
Terwyl Afrikaans as onderwystaal in openbare skole en instellings vir hoëronderwys onder druk is, het twee belangrike nuwe inrigtings tot stand gekom. Die eerste is Sol-Tech, ’n Afrikaanse tegniese kollege wat in 2007 gestig is, en die tweede is Akademia, ’n Afrikaanse telematiese instelling vir hoër onderwys (eintlik dus ’n universiteit), wat in Januarie 2012 begin funksioneer het en in verskeie vakrigtings grade en sertifikate opleiding toeken. Dié twee instellings is ’n deel van die Solidariteit Beweging se antwoord op die verengelsing van die hoër onderwys. Akademia bied al hoe meer vakke in die fakulteite natuur-, geestes- ekonomiese en bestuurswetenskappe aan.
Die vakbond Solidariteit en die Solidariteit Beweging is een van die bekendste instellings in Suid-Afrika en ’n toonbeeld van vernuftige vernuwing. Die oorsprong daarvan lê in die Transvaal Mineworkers’ Association wat in 1902 gestig is en in 1913 die nuwe naam South African Mineworkers’ Union gekry het. Die unie het mettertyd al meer Afrikaans geraak, maar het polities en finansieel in die 1990’s in die knyp geraak. Dit het verander nadat Flip Buys in 1997 op 34-jarige leeftyd as hoofsekretaris van die Mynwerkersunie aangestel is en hy dit met ’n span met onder andere Dirk Hermann hervorm het.
Die MWU het gou opgeval deur sy standpunt teen onbillike rassediskriminasie en die miskenning van Afrikaans in die werkplek. Dit het teen hierdie tyd nie meer slegs uit mynwerkers bestaan nie. In 2001 het ’n nuwe entiteit, die MWU-Solidariteit tot stand gekom ná die inskakeling van ander bedrywe. Buys het verklaar dat dit noodsaaklik was dat MWU-Solidariteit moes groei om as teenvoeter teen die diskriminasie teen die Afrikaanse minderheid te dien, en na hulle “breë kulturele belange” om te sien. Die naam Solidariteit is geïnspireer deur die Solidarinosc, die Poolse vakbond wat in die 1980’s die werkers deur die vakbond gemobiliseer en gehelp het om van die kommunistiese regime ontslae te raak.
Die bedrywighede het so uitgebrei dat die vakbond die Solidariteit Beweging geword het met Flip Buys as voorsitter. Nuwe instellings het tot stand gekom en werksaamhede sluit vyf hoof-komponente in: (1) werkbeskerming deur die vakbond Solidariteit met Dirk Hermann as uitvoerende hoof, (2) bemagtiging deur Solidariteit Helpende Hand met Hannes Noëth as uitvoerende direkteur, (3) burgerregte-inisiatiewe deur AfriForum, (4) opleiding deur Sol-Tech en Akademia en (5) taal- en kultuurbevordering deur die FAK (kyk by 29 Desember), Maroela Media en Kraal Uitgewers. Die Solidariteit Beweging het aan die begin van 2020 sowat 500 000 lede gehad. Die uitvoerende hoof van AfriForum is Kallie Kriel. Twee van die bekendste ampsdraers is Ernst Roets, hoof van beleid, en Alana Bailey, hoof van kultuursake. Sy is ook die uitvoerende hoof van Kraal. Elders word uitgewei oor AfriForum se suksesse: die oorwinning oor Unisa in die Appèlhof (23 Desember); AfriForum sakenetwerk en sy platform vir Afrikaanse besighede wat in 2020 van sowat 3 500 tot 16 000 lede gegroei het (30 Desember); verder die registrasie by ECOSOC (22 Desember); asook die stig van buurtwagte en streekstakke.
Die oogmerk van die Solidariteit Beweging is groter selfstandigheid vir die Afrikaanse gemeenskap. Flip Buys, voorsitter van dié beweging, het op 10 Oktober 2015 in Pretoria ’n “Helpmekaar-plan” van R 3,5 miljard aangekondig. Hy het gesê die beweging beplan nie ’n parallelle regering nie. Ook nie ’n volkstaat, isolasie of afskeiding nie, maar “groeiende selfstandigheid” waarin gemeenskappe verantwoordelikheid aanvaar vir funksies wat die staat nie kan of wil lewer nie. Buys sê ’n Afrikaanse akademikus het in 1994 aan prof. Samuel Huntington, politieke wetenskaplike aan die Harvard-Universiteit in die VSA, gevra hoe hy Afrikaners se toekoms in die nuwe bedeling sien. Huntington se antwoord was veelseggend: “Julle sal moet afskeid neem van die staat en selfstandig op jul eie bene begin staan – sonder staatsafhanklikheid. Die ANC gaan die staat oorneem en aanwend om hul beleid uit te voer; om hul beloftes aan kiesers na te kom; om hul ondersteuners werk te gee; en om hul politieke doelwitte met die staat se belastinginkomste te finansier.” Die monopolisering van die staat deur bewindhebbers en die uitsluiting van minderhede is iets wat wêreldwyd voorkom.
AfriForum het help voorkom dat die lewens van die sogenaamde “Coligny-twee”, die plaasbestuurders Pieter Doorewaard en Philip Schutte, totaal verwoes word. Hulle het in 2017 ’n seun betrap wat sonneblomsaad gesteel het en hom met ’n bakkie na die polisiekantoor gebring. Hy het egter in die ry van die bakkie afgespring en is dood weens sy beserings. Die twee is aangekla van moord omdat hulle hom sou aangerand het, en is skuldig bevind ondanks talle teenstrydighede in die getuienis van die enigste beweerde ooggetuie. Die verhoor is gekenmerk deur intimidasie deur ANC- en EFF-lede en geweld in Coligny en die omgewing. Die twee beskuldigdes het gevangenisstraf van 18 en 23 jaar gekry en die regter het verlof tot appèl geweier. Die vonnis is gevel nadat Rapport op sy voorblad onthul het dat die getuie erken het hy het gelieg. AfriForum het ingegryp en die appèlhof is regstreeks op AfriForum se koste genader. Drie regters van dié hof het op 27 November 2020 die skuldigbevinding en vonnis tersyde gestel. “Dit is ’n groot ongeregtigheid wat reggestel is”, skryf 𝘙𝘢𝘱𝘱𝘰𝘳𝘵 in sy hoofartikel daaroor. Twee regsgeleerdes, Koos Malan en Llewelyn Curlewis, meen dat dit uit die uitspraak blyk dat die hooggeregshof nie noodwendig meer ’n waarborg van bekwaamheid en geregtigheid is nie. Dit blyk verder dat die regspleging nie die instrument van woedende populistiese uitbarstings behoort te wees nie (Rapport, 6 Desember 2020).
Die aktiwiteite van die Solidariteit Beweging kom neer op ’n herlewing van die republikeinse gedagterigting. Dit behels dat die burgers self verantwoordelikheid vir hul welsyn aanvaar. Die beweging gee Afrikaners hoop vir ’n toekoms. Hulle ervaar met dankbaarheid dat hulle nie alleen staan nie en dat ’n groep belangrike kundige organisasies vir hulle omgee.
Die kommentator RW Johnson noem die Solidariteit Beweging en AfriForum wat deur Afrikaners opgebou is, “onteenseglik die magtigste en mees indrukwekkende burgerlike organisasies in die land” (Rapport, 27 Desember 2020).