’N NUWE HOOFSTUK – DIE VERHAAL DUUR VOORT

Dis 31 Desember – en hierdie reeks loop ten einde. Maar die verhaal van Afrikaans en sy mense duur voort; ons is reeds besig met ’n nuwe hoofstuk.

Ons verhaal begin reeds voor, maar veral met die koms van Jan van Riebeeck en kort daarna die instelling van vryburgers, wat teen die sin van die owerheid die land verken, daarvan gehou en dit hul permanente tuiste gemaak het. Taamlik gou was hulle bekend as Afrikaner. Hulle en hul landgenote het met mekaar gepraat in ’n nuwe taal wat hulle almal eers later leer waardeer het: Afrikaans. Hulle het aan God geglo en ’n beskawing gevestig wat baie van hul landgenote mettertyd ook aanvaar het.

Met ’n Groot Trek na vryheid is party Afrikaners met taal, godsdiens, beskawing en al noordwaarts. Hulle het republieke gestig – die eerste moes hulle as ’t ware kaalvoet oor die berge verlaat; die tweede het ’n modelstaat geword; die derde was besig om die modernste staat van ons wêrelddeel te word voordat dit die prooi van ’n magtige ryk geraak het. Die heldhaftige vryheidstryd was vergeefs.

Vele het geglo dis nie die moeite werd om as ’n volk met ’n eie taal voort te bestaan nie. Maar die gemeenskap het die eerste krisis van die vertwyfeling oorkom. Party het die taal geminag en verwerp, maar dit het die hoeksteen in die heropbou geword. Die veragte kombuis- en boeretaaltjie kon groei tot hul geliefde taal van die hart en ’n volwaardige kultuurtaal. Digters en prosaskrywers het kunswerke geskep wat ook in ander tale vertaal is. Te danke aan die taal het die Afrikaners nie in die vergeetboek beland nie. ’n Moderne land is saam met ander opgebou wat hulle weer eens aan nuwe maghebbers moes afstaan.

Die nuwe krisis van vertwyfeling moes die Afrikaanse gemeenskap aanpak onder ’n basies vyandiggesinde bewind in ’n land wat ly onder korrupsie, wanbestuur en klimaatsverandering.

Liefhebbers van die taal verdedig bestaande instellings en het met ondernemingsgees en kreatiwiteit is nuwe media begin: kykNET, LitNet, Netwerk24 floreer. Die onvriendelike regime dwing die nageslag van die vryburgers om as vrye burgers nuwe instellings op te bou: Sol-Tech, Akademia, private skole, kunstefeeste, ligte musiek, rolprente. Hul aantrekkingskrag verbaas soms vriend en nie-vriend. Die waardevolste besit van die gemeenskap is die groot verskeidenheid digbundels, romans en nie-fiksie wat filosofie, teologie, geskiedenis, regsgeleerdheid, literatuur- en taalwetenskap insluit. Om party name te noem en ander te verswyg, sou onregverdig wees.

Die Afrikanerverhaal speel nou af in ’n wêreld wat vir alle mense veel moeiliker geword het deur krisisse van godsdienstige aard, klimaatverandering (wat die suidwestelike deel van Suider-Afrika besonder swaar tref met droogtes), besoedeling, oorbevolking en die nog onvoorsiene gevolge van die korona-pandemie en moontlik toekomstige epidemies, en in ’n Suid-Afrika onder ’n regering wat die Afrikaners alles behalwe goedgesind is.

Hoewel die Afrikaners in baie romans nie goed daarvan afkom, bring dié skryfwerk die boodskap: “Ons is hier en ons wil nie padgee nie.” Dit is anders as by die Engelse skrywer JM Coetzee wat in Disgrace te kenne gee dat die wit mense maar alles moet verdra as deel van die prys wat hulle moet betaal vir wat hulle in Afrika verkeerd gedoen het.

’n Biografie gaan nie net oor onreg en boosheid in die lewe van ’n individu of volk nie, maar ook oor die foute wat met die beste bedoelings begaan is, nie net oor die dinge waaroor ’n mens jou skaam nie, maar ook dié waarop jy met ’n beskeie trots kan wys. Die 1996-Grondwet erken die onreg van die verlede, huldig dié wat daarteen geveg het en respekteer diegene wat die land opgebou en ontwikkel het. Afrikaners het soms onreg gepleeg, maar ook onreg beveg en die land help opbou en ontwikkel. Vir wat hulle tot stand gebring het, verdien hulle erkenning en respek.