ORANIA GRYP BAIE SE VERBEELDING AAN
“Orania is veel groter in die Afrikaner-gemoed as in Orania,” het prof. Koos Malan in 2014 gesê by ’n geleentheid waarop die stigting van die Oranje-Vrystaat in 1854 gedenk is. Orania is ’n dorp waarin die strewe na groter selfstandigheid sedert 1991 uitgeleef word. Aanvanklik is die Oraniërs bespot en gehoon, maar deesdae word met nuwe oë en groter erns na hulle gekyk. Internasionaal is dit een van die bekendste dorpe van Suid-Afrika.
Dié dorp is in 1965 deur die Departement Waterwese ontwikkel vir werkers wat die kanaalstelsel aan die Oranjerivier moes ontwikkel. Daarna wou niemand dit hê nie. Die dorp het leeggestaan. In 1990 het ’n advertensie daarvan in Landbouweekblad verskyn. ’n Vriend het prof. Carel Boshoff se aandag daarop gevestig. Hy was professor in sendingwetenskap aan die Universiteit van Pretoria en voorsitter van die Afrikaner-Vryheidstigting (Avstig) wat in 1987 tot stand gekom het. Sy vrou Anna, was die administratiewe dryfkrag agter die stigting. Avstig se standpunt was dat Afrikaners hulle in ’n dunbevolkte gebied in die Noord-Kaap moes konsentreer en dat dit die enigste lewensvatbare gebied langs die Oranje is. Die voorwaardes vir voortbestaan was die volgende: ’n eie grondgebied, eie instellings en eie arbeid. Iemand wat deur boeke en ander publikasies die gedagte aan ’n eie gebied bevorder het, was die sosiale demograaf dr. Chris Jooste. Een van sy boeke is ‘n Volkstaat vir Boere-Afrikaners: Lesse uit die Joodse besetting van Palestina.
Ná heelwat gesukkel om geld bymekaar te kry, het ’n aantal mense die dorp op 31 Maart 1991 gekoop en begin ontwikkel. Een van die vroeë projekte was die aanplant van 19 000 pekanneutbome; party is dood, ander deur die eienaars uitgehaal, sodat daar nog so 16 000 oor is, wat goed dra. Verder is lusern verbou. Daarby is talle bedrywe geloods en ondernemings aangepak: ’n besproeiingskema gebou, ’n jeugsentrum opgerig, ’n sakekamer gestig, ’n supermark gebou, vakansiehuise en ’n spa by die Oranjerivier ingerig en ’n Orania-jeugbeweging op die been gebring. Die Orania Beweging het duisende ondersteuners buite die dorp. Baie van hulle het bygedra tot die Helpsaamfonds, wat die Orania-kliniek befonds het.
Dié dorp funksioneer goed, in kontras met dorpies elders in die land wat toegang het tot meer hulpbronne. Dit is toe te skryf aan sterk politieke en administratiewe leierskap deur mense soos Carel Boshoff, seun van prof. Boshoff, Frans de Klerk, Jaco Kleynhans en ander, asook goeie verhouding met die regering en ander gemeenskappe. Die voorsitter van die Orania beweging was aan die einde van 2020 dr. John Strydom.
Wêreldwyd staan twee belangrike denkrigtings teenoor mekaar. Die eerste is die hiperindividualisme, wat geneig is om die strewes van etniese minderhede te minag en teen te staan. Die tweede is republikanisme wat minderhede in staat stel om beheer te kry oor sake wat hulle raak, soos onderwys, maatskaplike versorging en die beskerming en bevordering van hul kulturele erfenis. Orania is by uitstek so ’n republikeinse dorp.