DIE KORONA-KRISIS

‘nChinese medikus het sy kollegas in Desember 2019 op ’n kletsgroepie in die stad Wuhan ingelig hy is bekommerd oor ’n nuwe virus wat onder mense versprei. Die polisie het hom gedwing om te beken dat hy valse gerugte versprei wat die “openbare orde” bedreig. Op 31 Desember 2019 het China egter die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) laat weet hy het 27 gevalle van ’n virus wat ’n soort longontsteking veroorsaak. Op 11 Januarie 2020 is die eerste pasiënt daaraan dood, op 13 Januarie die eerste geval buite China. Op 22 Januarie het China met inperking begin.

Van China af het die korona-virus wat die siekte Covid-19 veroorsaak, oor die hele wêreld dood en ellende gebring. Op 29 September 2020 is aangekondig dat een miljoen mense daaraan gesterf het. Byna alle lande het die pandemie deur inperking in bedwang probeer hou, en orals is ekonomieë ontwrig. Al die gevolge is nog nie duidelik nie en bowendien was die siekte in 2021 nie uitgewoed nie. Nuwe golwe daarvan is gevrees. In elk geval is dit duidelik dat die pandemie die wêreld verander het.

In Suid-Afrika is ’n ramptoestand op 15 Maart 2020 afgekondig en op 27 Maart het ’n staat van inperking, oftewel lockdown of grendelstaat gegeld. Die enigste plekke wat oopgebly het, was polisiekantore, hospitale, apteke en winkels wat kos en ander noodsaaklike middele verkoop. Mense moes in hul wonings bly en slegs dié wat voedsel of medisyne moes gaan koop, is op straat toegelaat. Die streng maatreëls is stelselmatig verslap. Mense moes maskers dra, anderhalf meter afstand hou van ander, gereeld hande was en nog meer. Die maatreëls het waarskynlik groter lewensverlies help voorkom. Die meeste mense het sommige regulasies as sinloos en irrasioneel beskou. So is die verkoop van sigarette verbied – wat gelei het tot ’n groot sluikhandel in tabakprodukte, asook ’n geweldige verlies aan inkomste vir die staat.

Die maatreëls het die ekonomiese lewe erg geknou. Die staat het wel hulp verleen, maar tot skok vir baie is die vereistes vir swart ekonomiese bemagtiging in aanmerking geneem by aansoeke om hulp vir klein en medium ondernemings. Die klein besighede het baie swaar gekry en baie moes sluit. Daarby het die staat die uitdeel van voedselhulp probeer sentraliseer en beheer.

Die regsgeleerde, prof. Koos Malan, betoog (Rapport, 14 Junie 2020) dat die ANC-regime die krisis misbruik het om sy totalitêre greep op die Suid-Afrikaanse samelewing te verstewig. Die intimidasie het ’n gees van verset by die middelklas ontlok. ’n Betekenisvolle dimensie het bygekom: selfbestuur. Groepe tree georganiseerd op volgens hul eie norme en oortuigings en nie volgens die staat se dekrete nie.

Sommige groepe het openlik met hul lofwaardige optrede voortgegaan, al was dit in die oë van die owerheid onwettig. Solidariteit Helpende Hand het in samewerking met die landbou-organisasie Saai die stat se gepoogde onbehoorlike sentralisering van die uitdeel van voedsel verwerp en voedsel verskaf aan derduisende hulpbehoewendes. Die 1000 Women Trust het die staat aangesê om sy aanmatigende kloue weg te hou van hul sopkombuise. Die betekenisvolste is die reaksie van die kerke, wat eweneens die regering se strewe na sentralisering voortgegaan het en selfs hulle bereid verklaar het om oor te gaan tot burgerlike ongehoorsaamheid. (Die artikel is te vinde by https://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/staan-op-stuit-die-regime-20200613).

Dit het later geblyk dat die staat se hulpverlening met soveel korrupsie bedryf is dat pres. Cyril Ramaphosa in Augustus 2020 moes erken dat die ANC “beskuldigde nommer een” is en sy kop in skaamte moet laat sak. Kimi Makwethu, ouditeur-generaal, het die bedrogstorie “angswekkend” genoem. Oral het ANC-kamerade en amptenare eenvoudig vir hulself of hul kinders maatskappye gestig en leweringskontrakte vir mediese beskermingsmateriaal is na hulle gekanaliseer. Die kamerade het die land om elke hoek en draai besteel. Die beskermingsmateriaal was soms van swak gehalte.

In hierdie krisistyd het ook AfriForum sy waarde bewys met morele en praktiese steun aan hulpbehoewendes verleen. Deur AfriForum Netwerk is 15 000 besighede gelys om hulle gratis te bemark. Dit is al so vyf jaar lank gedoen, maar teen Maart 2020 was daar minder as 3000 besighede op die lys. AfriForum het met die hulp van vrywillige arbeidsregkenners etlike duisende navrae beantwoord oor mense se probleme in die tyd en deur middel van ‘n weeklikse nuusbrief, 𝘎𝘳𝘰𝘦𝘪𝘯𝘦𝘵, inligting gegee oor algemene navrae, soos hoe verlof in die tyd hanteer moet word, wat gedoen moet word om mense van die huis af te laat werk, wat wanneer heropen mag word of nie. Die vrywilligers gee steeds advies oor kwessies soos sakeredding en afleggings. Solidariteit het werknemers se navrae beantwoord, maar AfriForum werkgewers s’n. Geen finansiële hulp kon verleen word nie, die aanvraag was bloot te groot. AfriForum het wel het regsmenings gekry oor verwante sake soos versekeraars wat nie eise wil uitbetaal nie en die reg van sekere sektore om te heropen.

AfriForum se afdeling veiligheid- en gemeenskapsake het hulp verleen aan Helpende Hand met die uitdeel van voedsel en het self ook sanitasiemiddels en maskers vir die polisie, tehuise vir bejaardes en ander instellings uitgedeel. Ander takke van AfriForum was betrokke by hulp aan skole en kleuterskole en mense wat uit die buiteland gerepatrieer is en was ook ’n applikant in die saak teen die minister van toerisme oor die rassediskriminasie teen die toerismesektor. Solidariteit se SOS het met hulle wolkskool vir duisende kinders skoolgehou.

Desondanks het die inperking duisende mense nadelig geraak. Die Afrikaanse kultuurlewe is swaar getref. Die Afrikaanse kunstefeeste van 2020 is afgelas. Dit het die hele kulturele ekosisteem beïnvloed. Sangers en toneelmense het hul inkomste verloor, veral omdat hul optredes by sulke feeste een van hul grootste bronne van inkomste is. Skole en universiteite moes sluit, kerkdienste is gekanselleer en teen Oktober 2020 was 10% van die NG gemeentes in geldnood. Dit blyk uit ondersoeke dat baie gelowiges kerkdienste erg gemis het. Maar met WhatsApp, YouTube en ander tegnologie is nuwe moontlikhede vir Afrikaans (ook godsdiensbeoefening) ontgin. Boekwinkels was weke lank toe. Die inperking het ’n groot tol onder kleuterskole geëis: duisende voorskoolse sentrums moes sluit onder meer deur die toedoen van die betrokke staatsdepartement. Veral omdat daar nie buitelandse toeriste was wat toegangsgeld kon betaal nie, het die Voortrekkermonument in geldnood beland en Afrikaners het tot die instandhouding bygedra.

Om uitvoerende kunstenaars en tegnici by te staan is in Junie 2020 die Tribuo-fonds gestig. Kunsliefhebbers en ondersteuners van die kunstefeeste kon geldelik bydra tot dié fonds, 𝘵𝘳𝘪𝘣𝘶𝘰 is die Latyn vir “ek gee”. Die inisiatief hiervoor is geneem deur Karen Meiring van kykNET, Cornelia Faasen van die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief en die Feesforum (KKNK, Aardklop, Inniebos, Suidoosterfees, Vrystaatfees en die US-Woordfees).

Dit was gou duidelik dat ook die media weens die ekonomiese krisis gaan ly. Advertensies is geldelik die lewensbloed van koerante. Kort na die begin van die inperking het koerante feitlik sonder advertensies verskyn. Die uitgewer Caxton het gevestigde tydskrifte soos Rooi Rose en Vrouekeur gestaak, terwyl Naspers Son op Sondag en Sunday Sun gesluit het. ’n Aantal tydskrifte is uitgekontrakteer, soos Sarie, Weg!, Tuis en Kuier. Hulle word wel gedruk, maar op kontrak deur redaksionele spanne saamgestel. Volksblad is die swaarste getref. Die gedrukte uitgawe is gestaak; dit verskyn egter nog digitaal. Vir die lesers en werknemers van dié geliefde blad, die oudste Afrikaanse koerant (opgerig in 1904), was dit ’n bittere belewenis. Die dagblad het op 8 Augustus 2020 vir die laaste keer op papier verskyn. Op 7 Augustus is ’n gedenkuitgawe gepubliseer. Een medewerker het gewys op die eervolle rol wat dié koerant in die verdediging en uitbouing van Afrikaans gespeel het.