AFRIKAANSE ONDERWYS EN OPLEIDING BEDREIG
Soos in die staatsdiens en SABC-televisie het die politiek van vergelding Afrikaners in die onderwys swaar getref. Die aantal Afrikaanse skole het verminder en van enkelmedium-hoëronderwys in Afrikaans is daar niks oor nie. Afrikaans is dus as volwaardige kultuur- en wetenskapstaal in gevaar. Hierdie status het die taal met moeite en harde werk verwerf. Verdrietig is die steun van sommige Afrikaanssprekendes hiervoor. ’n Wrange grappie oor die Nazi-tyd lui: toe Hitler roep: “Weg met die Jode!”, eggo ’n Jood vol selfhaat: “Ja, weg met ons!” Afrikaanssprekendes wat hul taal verwerp, roep as ’t ware: “Weg met ons!”. Of sou hulle DJ Opperman se woorde in “Springbokke” wil waar maak? “Ons is geroepe om ’n groot afspraak / met die dood te maak”.
Twee kenmerke van Afrikaanse openbare skole en universiteite val op: hulle lewer leerlinge en studente op wat oor die algemeen presteer en ten tweede: hulle word as Afrikaanse instellings deur die owerheid en rassistiese politici geteiken. Elke jaar lewer die slaagsyfers en getalle onderskeidings van matriekuitslae bewys van die hoë gehalte van die Afrikaanse skole.
Veral in Gauteng oefen die onderwysdepartement druk uit op Afrikaanse skole om leerlinge te aanvaar wat Engels verkies en dus na parallelmedium oor te skakel. Op die oog af lyk dit billik, maar die skole kry nie ekstra vergoeding vir die ekstra onderwysers wat hulle vir parallelmedium moet aanstel nie. Op die ou end moet die skool om geldelike redes Afrikaans laat vaar en word die skool Engels.
Van die sowat tien Afrikaanse technikons en 150 Afrikaanse beroepskolleges wat voor 1990 bestaan het, is daar nie ’n enkele universiteit vir tegnologie of Afrikaanse enkelmediumkollege oor nie. Vanweë die verengelsing het daar ’n krisis ontstaan in die opleiding van twee groepe: die sowat 75% van die Afrikaanse skoolverlaters wat nie universiteit toe gaan nie, maar loopbaangerigte en beroepsopleiding nodig het, en die duisende wat ’n betrekking het en verdere opleiding wil hê. Dié krisis hou ernstige gevolge in vir Afrikaanse jongmense se opleidings- en werkgeleenthede. Dit behels ook ingrypende gevolge vir Afrikaans as werktaal, ekonomiese taal en uiteindelik as landstaal. Driekwart van die Afrikaanse jong mense is dus oor die algemeen swakker opgelei as hul ouers en nie voorbereid op die eise wat ’n moderne ekonomie stel nie.
In 1990 was daar vyf Afrikaanse universiteite (dié van Pretoria, Stellenbosch, die Vrystaat, Potchefstroom en die Randse Afrikaanse Universiteit), terwyl die Universiteit van Wes-Kaapland enkele jare tevore ook oorwegend Afrikaans was. Vandag is daar geen enkele Afrikaanse universiteit oor nie. Die RAU, UWK, UP en UV het verengels. By die US is Engels prakties die enigste voertaal. Die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit is Afrikaans en maak gebruik van tolkdiens en parallelmedium. Ook daar is Afrikaans onder druk. (Sien verder 25 Desember.)
Op 23 Junie 2016 het koerante die besluite van die UP- en US-rade die vorige dag aangekondig met die opskrifte: “Swart dag vir Afrikaans”, “Dubbele slag vir Afrikaans”, “Tot siens Afrikaans” en “Maties en Tukkies sê JA, vir Engels”. Die UP is van 2017 af volledig Engels. Willie Spies, ’n raadslid van die UP, het gesê: “Daar was ’n obsessie om die EFF te paai en dít het die deurslag gegee.” Die EFF het met geweld gedreig as Afrikaans nie totaal afgeskaf word nie. Vrees vir EFF-geweld het ook ’n rol gespeel by die UV-besluit.
Die verwydering van pres. MT Steyn se standbeeld van die kampus van die Universiteit van die Vrystaat in 2020 is – ná die verengelsing van dié universiteit – onbedoeld simbolies van ’n terugkeer na die koloniale era se Engels-eentaligheid. Hierdie stryder teen kolonialisme was een van die staatsmanne wat verseker het dat Afrikaans en Engels gelyke regte kon geniet.
Unisa het eweneens in 2016 besluit om te verengels, maar AfriForum het daarteen geappelleer en in 2020 het die Appèlhof die besluit as ongrondwetlik verwerp. Unisa het na die Konstitusionele Hof geappelleer om sy sin te kry.
Sommige Afrikaners steun die verengelsing van universiteite. Die debat hieroor het gelei tot die herlewing van ’n ou skelwoord uit die 1960’s, taalbulle, vir die stryders wat ’n plek vir Afrikaans aan die gewese Afrikaanse universiteite wil behou. Onder die taalbulle is Hermann Giliomee, Breyten Breytenbach, wyle Pieter Kapp, Jan Heunis, wyle Leopold Scholtz, Lina Spies, Sonja Loots en Piet le Roux by Stellenbosch; Hennie van Coller, wyle Jaap Steyn, Pieter Duvenage, Johann Rossouw, Charles Smith en Gert Coetzee in Bloemfontein en Danie Goosen, Koos Malan, Kallie Kriel en Alana Bailey in Pretoria. Taalbulle beskou die skeldwoord al meer as ’n erenaam. Giliomee: “Dit is tog veel beter as om ‘taalos’ of ‘taalversaker’ of nog erger ’n Engelse taalbul’ te wees”. Steyn sê: “Ek is liewer ’n taalbul as ’n taaltollie”.
Die digter Daniel Hugo plaas die woord in sy historiese perspektief: die soort mense wat deesdae taalbulle genoem word, tree op soos SJ du Toit, Langenhoven, JHH de Waal en ander wat verseker het dat die taal “oor die afgelope 150 jaar doelbewus van ’n kombuis- en straattaal tot ’n kultuurtaal met hoë funksies verhef is. Dis met groot moeite bereik deur mense wat passievol oor hul moedertaal was. Hulle was veral bekommerd dat hul taalgenote gedoem is om ’n agtergestelde lewe in die vreemde tale Nederlands en Engels te lei.”