1 FEBRUARIE

GEBEURE

1708 – Louis van Assenburgh word aangestel as opvolger van goewerneur Willem Adriaan van der Stel aan die Kaap

Louis van Assenburgh word aangestel as goewerneur aan die Kaap. Hy was ’n gerespekteerde militêre offisier. Anders as sy voorganger, Simon van der Stel, was hy egter nie ’n openbare figuur nie. Wat wel bekend was, is dat hy lief was vir ’n smaaklik ete en ’n glasie wyn. Daar is diegene wat beweer dat hy dalk te lief was vir die wyn. Hoe dit ook al was, met sy werk was daar nie fout nie. Die volgende voorbeeld toon duidelik watter soort man hy was. Op 17 Desember 1710 brand etlike privaat wonings en staatsgeboue in Stellenbosch af. Hy het nie gehuiwer om almal van voedsel en onderdak te voorsien nie. Hy is op 27 Desember 1711 in die Kaap na ’n lang siekbed oorlede, en is onder die vloer van die Grote Kerk in die Kaap begrawe.

1808 – Noord van Groot Bergrivier geannekseer

Die gebied noord van die Groot Bergrivier is geannekseer aan die nuwe distrik Tulbagh en het ’n aparte subdrosdy met sy landdroshof by Jan Disselsvlei verklaar. Op 21 Januarie 1814 word dit Clanwilliam hernoem.

1882 – Gedenkskool der Hugenoten geopen

Die Gedenkskool der Hugenoten op die plaas, Kleinbosch, in Daljosafat naby die Paarl, Wes-Kaap, geopen.

1891 – Onze Taal gestig

Hierdie Rederykerskamer is gestig met die doel om “die welsprekendheid van die Hollandsche taal” te beoefen en “de bevordering van gezellige verkeer in kleine kring”. Op 18 Maart 1891 is die eerste uitvoering van hierdie vereniging se ideale met voordrag van gedigte en musiek gelewer. Veral die invloed van D Balfoort en sy eggenote het ’n groot rol in die lewering van pragtige musiek en sang gespeel. Dit was net so ’n geslote vereniging soos die gewone Rederykerskamer van later jare. Die vergaderplek is deurgaans aangegee as die Good Templars Hall. Die tweejarige bestaan is deur geleentheidsdigters besing. Aan hierdie feesverrigtinge het onder andere JF Cilliers, D Balfoort en Anton van Wouw deelgeneem. Dr. FV Engelenburg ontvang in 1893 van die Taalfeeskommissie ’n silwerpenning namens Onze Taal. Die Tweede Vryheidsoorlog het Onze Taal gedwing om sy werksaamhede tydelik te staak. In Maart 1904 herleef die vereniging weer onder voorsitterskap van ds. Linkbeek. Met die opkoms van Afrikaans as volkstaal was die vereniging se ondergang onvermydelik.

1920 – Die Suid-Afrikaanse Lugmag gestig

Die Suid-Afrikaanse Lugmag is die lugkomponent van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en van sy voorganger die Suid-Afrikaanse Weermag. Die lugmag staan amptelik bekend as die South African Airforce (SAAF) met sy hoofkwartier in Pretoria. Die Suid-Afrikaanse Lugmag is op 1 Februarie 1920 gestig.

1932 – Die radio-telefoon word in Suid-Afrika in gebruik geneem

1934 – Die Suid-Afrikaanse Lugdiens gestig

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens kom amptelik tot stand en neem oor by Union Airways.

1968 – JJ Fouché word benoem en eenparig verkies tot president ná die dood van dr. TE Dönges

 

GEBOORTES

1855 – Joachim Christoffel Fourie, Boeregeneraal († 7 November 1900)

Die geboortedag van generaal Joachim Christoffel Fourie te Grahamstad. Gedurende die Eerste Vryheidsoorlog (1880/81) beklee hy reeds die rang van veldkornet. Ook is hy gedurende 1893 verkies tot lid van die Volksraad van die Zuid-Afrikaanshe Republiek. Gedurende die Anglo-Boereoorlog neem hy deel aan die Natalse offensief. Gedurende Maart 1900 word hy bevorder tot die rang van veggeneraal. Daarna veg hy onder meer by Dalmanutha en Chrissiesmeer. Op die 7de November 1900 neem hy deel, saam met genl. Smit-Dorien, aan ’n geveg by Witkloof in die Carolina distrik. Generaal Fourie en kmdt. Hendrik Prinsloo was die dag op die voorpunt van ’n stormloop gewees. Beide van hulle het die dag gesneuwel.

1873 – Pieter Gert Wessel (Piet) Grobler, politikus en adviseur vir pres. Paul Kruger († 22 Augustus 1942)

1888 – Hans Anton Aschenborn, bekende skilder en grafiese kunstenaar († 10 April 1931)

Hans Anton Aschenborn, bekende skilder en grafiese kunstenaar (houtgravures en etse) is in Kiel, Duitsland, gebore, ontvang aan die Reform-Realgymnasium kunsonderrig om ’n talent wat hy klaarblyklik van sy vader geërf het, te ontwikkel. In 1909 emigreer hy na SWA waar hy hom op die plaas Quickborn, Okahandja, vestig. Ondanks ernstige terugslae tydens en na die Eerste Wêreldoorlog, het hy hierdie nuwe land liefgekry, wat weerspieël word in sy kunswerke. Hy keer na Duitsland terug met die vaste voorneme om hom later weer in Suidwes te vestig, maar sterf op 10 April 1931 in Kiel, voordat hy die ideaal kon verwesenlik. Op Stellenbosch, waar hy gewoon het na die Eerste Wêreldoorlog, het hy met Pierneef, JFW Grosskopf en Sangiro bevriend geraak. Hy illustreer baie van Nasionale Pers se publikasies met pensketse, en sy eie prosasketse oor die dierelewe word deur Sangiro vertaal en in 1925 onder die titel Die Adelaar en ander Diereverhale uitgegee.

1896 – Stephanus le Roux Marais, komponis van Afrikaanse musiek en pionier van die kunslied († 25 Mei 1979)

Stephanus le Roux Marais was ’n Suid-Afrikaanse komponis, orrelis en musiekonderwyser. Marais, hoofsaaklik ’n liedere-komponis, is een van die eerste baanbrekers van die Afrikaanse kunslied. Hy het begin in ’n tydperk toe die Afrikaanse taal nog in sy babaskoene was, die getal digters beperk en die bruikbare gedigte skaars was. In hierdie opsig dien sy eenvoudige, vloeiende, singbare liedere as fondament vir die opbou van ’n oorspronklike Afrikaanse liederekuns. Hy is by uitstek ’n romantikus en dus oorheers die emosionele aspekte in van sy musiek. Sy direkte benadering, verbonde aan sy fyn aanvoeling vir die Afrikaanse taal, die trefkrag van sy melodieë en sy begrip van die vereistes van die menslike stem, het algemene gewildheid vir sy liedere verwerf. Marais se gewildheid as liedere-komponis Iê daarin dat die gewone luisteraar dit kan waardeer en tog is die kunsgehalte van sy werke hoog.

Gedurende 1946 het die komponis ’n brief ontvang waarin hy meegedeel is dat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns sy erepenning vir musiek aan hom toeken blyk van waardering vir die wat hy ter bevordering van die Afrikaanse musiekkuns gedoen het. In sy huldigingsrede het prof. dr. WFC Arndt Marais se prestasie soos volg opgesom: “’n Mens kan sy betekenis t.o.v. sang vergelyk met dié van Langenhoven op die gebied van die letterkunde: toe daar ’n innerlike behoefte en drang by die volk was om in hul eie taal te sing, het Marais dit vir hulle moontlik gemaak deur vir die volk te komponeer. Sy werk het beslis die meeste bekendheid en gewildheid verwerf.” Wat sy bydrae betref, het Anton Hartman gesê: “Hy het waarskynlik meer as enige ander persoon gedoen om die Afrikaanse sanger van liedere in sy eie taal te voorsien.”

As ywerige en nougesette komponis het hy 91 Afrikaanse kunsliedere voortgebring, waarvan 56 reeds teen 1946 gepubliseer was. Sy “Heimwee” is deur Mimi Coertse internasionaal bekendgemaak.

 

STERFTES

1964 – Mabel Malherbe, politikus, joernalis, die tweede vrou wat tot die Volksraad verkies is en die eerste burgemeesteres van ’n Suid-Afrikaanse stad (Pretoria) (* 9 Augustus 1879)

Mabel Catherine Malherbe was ’n Suid-Afrikaanse politikus, joernalis, die tweede vrou wat tot die Volksraad verkies is en die eerste burgemeesteres van ’n Suid-Afrikaanse stad.

2013 – Louis Luyt, sakeman, politikus en sportadministrateur (* 18 Junie 1932)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/