MABEL MALHERBE (1879-1964)

Mabel Malherbe was ’n Suid-Afrikaanse politikus en joernalis wat die eerste vroulike burgemeester van ’n Suid-Afrikaanse stad was.

Mabel Catherine Malherbe is op 9 Augustus 1879 in Pretoria gebore. Sy was die dogter van Frans Christopher Muller Rex en sy vrou Gezina Constantia Marais. Haar ma was die suster van die bekende skrywer Eugène Marais en haar oupa aan moederskant was Jan Nielen Marais, lid van die Transvaalse regering onder pres. TF Burgers. Jan en Catharina Marais het in 1868 van Stellenbosch na Pretoria verhuis; hulle het ses dogters en vier seuns gehad en Eugène was die jongste seun.

In Transvaal het die Marais-gesin hoofsaaklik met Engelssprekendes en oud-Kapenaars omgegaan en hulle kon vlot Engels praat. Hulle het blykbaar nie goed met die Afrikaners oor die weg gekom nie en nie veel van pres. Paul Kruger gedink nie. Volgens hulle was hy te onverfynd en daarby ’n Dopper.

Malherbe het haar skoolopleiding in haar geboortestad begin en later aan die Hoër Meisieskool Rustenburg in Rondebosch, Kaapstad gematrikuleer. Dit was dieselfde skool waar Leila Reitz, die eerste vrou in die Volksraad, in 1905 gematrikuleer het. Malherbe het reeds op skool besluit om ’n verslaggewer te word, maar haar ma was ten sterkste daarteen gekant. Op sewentienjarige ouderdom was sy egter terug in Pretoria en het af en toe berigte vir koerante geskryf. Terwyl sy vir die eggenote van pres. Kruger se sekretaris Piet Grobler lesse in Engels gegee het, het sy met pres. Kruger in aanraking gekom. Sy het enkele kere by hom aan huis gekom en groot bewondering vir hom ontwikkel. Die Jameson-inval was ’n keerpunt in haar politieke denke want dit het haar nog voor die Anglo-Boereoorlog tot Afrikanernasionalisme bekeer.

Sy het die behoefte gehad om haar land te dien, en toe die Anglo-Boereoorlog in 1899 uitgebreek het, het sy haar by die Rooi Kruis aangesluit. Sy het eers in Pretoria en later op die trein tussen Pretoria en Modderspruit verpleegwerk gedoen. Tydens die uitvoering van haar pligte het sy haar toekomstige man, Kenne N de Kock Malherbe, ’n prokureur, ontmoet. Hulle het op haar laaste besoek aan Modderspruit verloof geraak. Toe haar familie tydelik op Gordonsbaai gaan woon het nadat die Britse magte Pretoria op 5 Junie 1900 beset het, het sy daarin geslaag om, met die hulp van die groot Kaapse weldoener Marie Koopmans-de Wet, op die Duitse skip Herzog na Nederland te gaan, waar sy in Diakonessehuis in Haarlem ’n driejaarkursus in verpleging voltooi het. In Nederland het haar groot lewensdoel vorm aangeneem; om alles in haar vermoë te doen om haar volk se verlore vryheid te help terugwen. In die jare na haar terugkeer na Pretoria in 1904 het sy groot belangstelling in die openbare lewe en die lot van minder bevoorregtes getoon. Sy en haar man Kenne is op 13 April 1904 getroud. Die egpaar was bevriend met baie intellektuele figure in Pretoria, onder meer adv. Tielman Roos en die redakteur van De Volksstem, Gustav Preller.

In die omgang het sy Afrikaans gepraat, maar hul huistaal was Engels, waarskynlik omdat sy Engels grootgeword het. Twee kinders is uit die huwelik gebore, en albei is na Engelse skole gestuur. Hul dogter, Martha, is in 1905 gebore. Sy het ’n aktrise geword, 25 jaar lank in Londen gewoon en is nooit getroud nie. Sy het haar ma later verwyt omdat sy soveel tyd aan haar liefdadigheidswerk afgestaan het dat sy geen aandag aan haar gegee het nie. Nicolaas Samuel (Boet) is in 1906 gebore. Hy was ’n ware intellektueel en het later lid van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party geword. Malherbe het blykbaar albei haar kinders se leefwyses en uitkyke aanvaar. Sy het haar aan liefdadigheidswerk gewy en was van die begin af lid van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie vandat dit in 1904 gestig is. Sy het in 1917 op die hoofbestuur gedien.

Sy het vroeg in haar lewe reeds ’n liefde vir die joernalistiek geopenbaar. Een dag het sy en haar man ’n tentoonstelling bygewoon en hulle is oorgehaal om op Farmer’s Weekly in te teken. Toe sy by die huis gekom het, het sy die blaadjie The Homestead daarin gekry en besef dat ’n soortgelyke publikasie in Afrikaans nodig was. In Maart 1919 is Die Boervrou, waarvan sy die redakteur was, onder aanmoediging van haar oom Eugène Marais gestig. Herman Gilliomee het geskryf dat haar beweegrede was dat sy ’n Engelssprekende vrou was wat in ’n stoere republikeinse familie ingetrou het. Sy het selde Afrikaans gepraat, min kerk toe gegaan en haar eie gesin het verengels. As ’n jong vrou het sy gereeld op Transvaalse plase gekom waar vroue haar raad gevra het oor gesondheid, huishoudelike sake en kindersorg. Sy het Die Boervrou gestig omdat sy al die daaglikse probleme van hierdie vroue wou behandel in ’n taal wat hulle sou verstaan. Van 1920 af was die skrywer MER die assistent-redakteur en baie van MER se kortverhale is in Die Boervrou gepubliseer. Digters en skrywers soos AG Visser, Jan FE Celliers, Toon van den Heever en FW Reitz het gereelde bydraes gelewer. As gevolg van finansiële probleme wat deur die depressie vererger is, is publikasie van Die Boervrou in Desember 1931 gestaak.

Selfs voordat sy redakteur van Die Boervrou geword het, het sy ’n aktiewe rol in Pretoria se openbare lewe gespeel. Met genl. JBM Hertzog se uittrede uit genl. Louis Botha se kabinet het die Malherbe-egpaar hom beskou as die leier van die volk wat hulle na hul bestemming sou lei. Van toe af het Malherbe al haar kragte ingespan om op politieke gebied vir die saak van die Afrikaner te werk. Op 4 Augustus 1914 het sy aan die vroueoptog na die Uniegebou deelgeneem en in daardie jaar was sy ’n stigterslid van die Nasionale Vroueparty. Met die stigting van die eerste tak van die Nasionale Vroueparty in Pretoria het sy die eerste president daarvan geword. Sy het van 1927 tot 1933 op Pretoria se stadsraad gedien en in 1932 het sy die eerste vroulike burgemeester van enige Suid-Afrikaanse stad geword. Tydens haar ampstermyn het sy baie gedoen vir noodleniging en werksgeleenthede is vir werklose mense geskep. Haar toewyding tot haar moedertaal het haar gelei om geld in te samel om die Transvaalse Universiteitskollege (vandag die Universiteit van Pretoria) in die 1930’s te help om ’n onafhanklike Afrikaanse universiteit te word.

Malherbe was ook aktief op politieke gebied. Sy en Elsie van Broekhuizen, die eggenoot van die Hervormde predikant ds. Herman van Broekhuizen, is in Januarie 1919 na die groot onafhanklikheidskongres in Bloemfontein afgevaardig. Hulle was die eerste vroulike afgevaardigdes en sy het hier met genl. JBM Hertzog in aanraking gekom. Sy het hom dadelik gevra wat sy standpunt oor vrouestemreg was; hy het haar belowe dat hy haar sou laat weet as die tyd reg was daarvoor. Intussen moes die vroue opgelei word om hul taak en plig as stemgeregtigde burgers te verstaan wanneer die tyd daarvoor sou aanbreek. As lid van die hoofbestuur van die Nasionale Vroueparty het sy haar van 1927 af beywer vir die stemreg van vroue. Nadat genl. Hertzog onderneem het om self ’n mosie vir vrouestemreg in 1930 in te dien as hy in 1929 nog aan bewind sou wees, het Malherbe op die Transvaalse kongres van die Nasionale Vroueparty ’n pleidooi vir vrouestemreg gelewer. In Maart 1930 het Hertzog die wetsontwerp vir vrouestemreg ingedien en op 19 Mei 1930 het dit wet geword. Met die samesmelting van die Nasionale Party (NP) en die Nasionale Vroueparty het Malherbe uitvoerende lid van die Transvaalse NP geword.

Genl. Hertzog het die verkiesing in 1929 met ’n volstrekte meerderheid gewen en die volgende verkiesing sou in 1934 plaasvind. As gevolg van die Groot Depressie het Hertzog en genl. Jan Smuts besluit om ’n koalisie te vorm. Dit het gelei tot ’n vervroegde algemene verkiesing waarin NP- en SAP-kandidate mekaar nie sou teenstaan nie. Met die stigting van die Verenigde Party op 5 Desember 1934 het Malherbe dadelik haar plek in die uitvoerende komitee van die nuwe party ingeneem. Vroue het reeds op 27 Januarie 1932 vir die eerste keer in die kiesafdeling Von Brandis die kans gekry om te stem. Die eerste vroulike parlementslid was Leila Reitz, wat onbestrede vir die kiesafdeling Parktown verkies is.

In Junie 1933 het die verkiesings vir die vier provinsiale rade plaasgevind en Malherbe het die eerste vroulike LPR (Lid van die Provinsiale Raad) geword. In Augustus 1933 het ’n tussenverkiesing in die kiesafdeling Wonderboom plaasgevind nadat ds. Herman van Broekhuizen bedank het om Suid-Afrika se spesiale gesant in Nederland te word. Malherbe het ’n onafhanklike kandidaat verslaan en die eerste Afrikaanssprekende vrou in die Volksraad geword. Haar tydperk in die Volksraad het tot 11 April 1938 geduur.

In 1941 het Anna Neethling-Pohl, Eldie Buurman en Christie Muller haar genooi om ’n vroueoptog na die Uniegebou te lei om ’n klagskrif aan genl. Jan Smuts, waarin hulle betoog het teen Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog, te oorhandig.

Malherbe is op 1 Februarie 1964 in die ouderdom van 84 jaar oorlede.

deur Daantjie Badenhorst