1 JANUARIE – ’N RUSTIGE SATERDAG IN TAFELBAAI

Saterdag 6 April 1652 het besondere betekenis vir baie mense. Dié dag is vir hulle die begin van groot dinge in Suid-Afrika. In later jare is soms gepraat van volksplanting en stigtingsdag.

Maar eintlik was dit net ’n rustige dag in Tafelbaai – al wat anders was, was dat twee mans op ’n eensame sloep na die land gevaar en Leeukop beklim het om te kyk of daar nie vreemde skepe is nie. Hulle was besig met ’n verkenningstog vir drie skepe in die nabyheid: Die Reijger, Drommedaris en Goede Hoop.

Die mense op die skepe was afkomstig van ’n jong republiek in Europa, die Verenigde Nederlande. Dié republiek was in ’n oorlog met Portugal, en oorlog het met Engeland gedreig. Die versigtige 33-jarige bevelhebber, Jan van Riebeeck, wou dus nie dadelik aan wal gaan toe hulle op 5 April die land gewaar nie. Op 6 April het hy ’n sloep uitgestuur om te laat kyk of daar nie seerowers of skepe van ander nasies in Tafelbaai lê nie. Twee uur voor sononder was die twee mans terug: die baai was stil en verlate, en dus veilig. Die Reijger, Drommedaris en Goede Hoop het die baai binnegeseil en naby die kus geanker.

Hoewel Jan van Riebeeck en sy geselskap dus nie op 6 April aan wal gestap het nie, het hy die dag altyd as die “verjaarsdag” van die nedersetting beskou. In 1654 beloof hy in sy dagregister om “hierdie dag, die 6de April wesende, tot Gods eer met danksegging te vier en vir altyd tot ’n vasblywende dank- en biddag in te stel”.

’n Groep matrose en soldate het op Sondag 7 April 1652 aan land gegaan. Hulle het volop vis en by latere geleenthede ook groenigheid soos suring en mosterdblare saamgebring sodat die mense op die skepe hul eerste maaltye met gesonde vars voedsel in meer as drie maande kon geniet. Teen die aand is Van Riebeeck en ’n paar ander land toe. Twee inheemse mense is saam met Van Riebeeck-hulle terug na die skip – lede van die Khoi-Khoin, of “die groot manne van die skepping”, soos hulle hulleself genoem het. Van Riebeeck wou dié twee mans uitvra oor die moontlikheid om met hulle handel te dryf om vee te bekom. Een van hulle, Herry, kon gebroke Engels praat, en verder het hulle van gebare gebruik gemaak.

Die belangrike woord hier is “handel”. Die koms van die Nederlanders het alles daarmee te make gehad. Van die vroegste tye af het die volke van Europa handel gedryf met Indië en China. Die drang na die warm en ryk Ooste was baie sterk by die mense van die koue Noord- en Wes-Europa.

Die verkeer tussen die Ooste en Weste het vir ’n groot deel oor land gegaan. Teen die middel van die 15de eeu is die handelsverkeer na die Ooste verlam weens veroweringstogte van die Turke. Portugal was reeds ’n handelsentrum vir Oosterse ware, en was die vanselfsprekende land om ’n “seeweg” te soek, ’n nuwe handelsroete na die Ooste oor see.

So het dit gekom dat Bartolomeus Dias (±1450–1500) in 1488 om die suidpunt van Afrika gevaar en by die huidige Mosselbaai geland het. In April 1488 het hy ’n kaap ontdek en weens die stormweer die naam Cabo Tormentoso, “Stormkaap”, daaraan gegee. NP van Wyk Louw se drama Dias word afgesluit met die mooi gebed van die ontdekker: “En wees / by dié land, by daardie eensaam land / wat ek gevind het … nie wou vind nie […]” Die Portugese koning Johan II het die naam van “daardie eensaam land” egter verander in Cabo de Boa Esperanca, “Kaap van die Goeie Hoop” – omdat Dias se ontdekking goeie hoop vir die seeweg na Indië gegee het. Die hoop hét nie beskaam nie; die seeweg ís ontdek in 1498. Vasco da Gama het tot by Kalikoet in Indië gevaar.