1 JANUARIE
GEBEURE
1823 – Engels enigste amptelike taal in regeringskantore
Die Kaapse goewerneur, lord Charles Somerset maak bekend dat Engels voortaan die enigste amptelike taal in regerings kantore sal wees. Gedurende 1827 word Engels ook die enigste taal in die geregshowe.
1876 – Eerste sooie
Mnr. Henry Bulwer, goewerneur van Natal, spit die eerste sooi van die spoorlyn van Durban-Pietermaritzburg.
1884 – Caledon in die Wes-Kaap verkry munisipale status
Die eerste vestiging deur blankes het in omstreeks 1715 begin. Mettertyd het die dorp ’n gewilde gesondheidsoord geword na aanleiding van die warm staalfontein. Dit het eers bekend gestaan as Zwarte Berg of Zwartebergbad, maar is op 13 Desember 1813 hernoem na die graaf van Caledon (Du Pré Alexander, graaf van Caledon), goewerneur van die Kaap van 1807 tot 1811. ‘n Dorpsbestuursraad is in 1840 ingestel en munisipale status op 1 Januarie 1884 toegeken.
1891 – Afstigting van gemeente
NG gemeente Tamboerskloof na ’n bittere stryd van NG gemeente Kaapstad afgestig.
1893 – Trein in Pretoria
Die eerste trein uit Kaapstad kom in Pretoria aan.
1895 – Gereelde spoorwegdiens
Die gereelde spoorwegdiens tussen die hoofstad van die ZAR, Pretoria en Lourenço Marques begin.
1896 – Stig van ’n ambulanskorps
Op Nuwejaarsdag 1896 nader vier geneeshere pres. Paul Kruger van die ZAR om ’n ambulanskorps te stig. Die doelstellings van die Suid-Afrikaanse Rooikruisvereniging kan saamgevat word in een sin: “To support and promote inmprovement of health, the prevention of disease and the mitigation of suffering.”
1904 – Bronkhorstspruit aangelê
Die naam van die plaas waarop die dorp aangelê is, was oorspronklik Hondsrivier gewees. Dit was so genoem omrede dit aan genoemde rivier geleë was. Die oorspronklike eienaar van die plaas was’n mnr C.J.G. Erasmus gewees. Om hierdie rede sou Bronkhorstspruit tot en met 1929 bekend staan as Erasmus. Daarna is die naam verander na Bronkhorstspruit. Laasgenoemde is gedoen om die slag van Bronkhorstspruit van die Eerste Vryheidsoorlog (1880) te gedenk. Die plaas is gedurende 1904 opgemeet, en die erwe gedurende 1905. Erwe het omrede die mooi ligging van die dorp goeie pryse behaal. Gedurende 1908 is die eerste bank opgerig.
1907 – Almanak van die NH Kerk verskyn
Op hierdie dag verskyn die eerste uitgawe van die Almanak, die jaarboek van die Nederduitsch Hervormde Kerk, aanvanklik uitgegee deur die inisiatief van die kerkvader, ds. Jac van Belkum. Dit het later ’n amptelike kerklike publikasie geword. Die Almanak bevat al die statistiek en ander gegewens van die kerk en sy gemeentes. Daarby word jaarliks ’n verskeidenheid artikels en lewensbeskrywings van kerkmense gepubliseer. Hierdie biografiese materiaal, tesame met al die historiese foto’s wat al opgeneem is, maak die Almanak ’n publikasie van groot waarde vir die genealoog, die kultuur- en die kerkhistorikus. Vanaf 1966 is ’n Bybelse Dagboek by die Almanak gevoeg.
1915 – Afrikanerrebellie: Skermutseling
’n Skermutseling tussen regeringsmagte en ’n groep rebelleverkenners onder bevel van Fred McDonald by Nurronges op die grens tussen Duitswes-Afrika en Suid-Afrika vind plaas. Die verkenners ly geringe ongevalle.
1938 – Posseëls ongeldig
Alle bestaande posseëls van die Vrystaat, Transvaal Kaapkolonie en Natal word ongeldig verklaar. Slegs seëls van die Unie van Suid-Afrika word erken en aanvaar.
1951 – Die naam ‘Suid-Afrikaanse Seemag’ is vervang met ‘Suid-Afrikaanse Vloot’
Die naam Suid-Afrikaanse Seemag word op dié dag met die naam Suid-Afrikaanse Vloot vervang. Daardie vloot het in die dekade wat gevolg het, ’n eg Suid-Afrikaanse karakter aangeneem. Nie net is die Simonstadse skeepswerf in April 1957 formeel aan die Suid-Afrikaanse Vloot oorhandig nie, maar is die titel HMSAS (Haar Majesteit se Suid-Afrikaanse Skip) voor die skeepsname in 1952 verkort tot SAS. Talle skeepsname is voorts uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis oorgeneem, SAS President Kruger en ander presidentsname vir die fregatte, en Maria van Riebeeck en ander prominente vroue se name vir die duikbote. Op hierdie manier word die ou seevaarttradisie van die Afrikaners, as nasate van Nederlanders, Skandinawiërs, Franse en Britte, weer geleidelik herstel. Terselfdertyd het ons taal ook in ons seebedryf meer tot sy reg gekom.
2006 – Skoner brandstof
Vanaf hierdie dag mag slegs “skoner” brandstof in die RSA verkoop word. Dit beteken brandstof wat lood bevat, is onwettig.
2007 – Suid-Afrika en die VN
Suid-Afrika neem sy plek in die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad in as nie-permanente lid.
GEBOORTES
1833 – Andries Petrus Cronjé, krygsman en staatsman († 20 September 1916)
Andries Petrus Cronjé is op Nuwejaarsdag in 1833 in die distrik Riversdal gebore. In 1839 verhuis die gesin Cronjé na die Transgariep. Hy onderskei hom van sy jeugjare af as kryger: as seun in die slag van Boomplaats op 29 Augustus 1848, en as veldkornet in die Basoetoe-oorloë. Later was hy heemraadslid, spesiale vredesregter en twee keer Volksraadslid vir Zandrivier in die Vrystaat tot 1899. In 1895 word hy kommandant, en met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in Oktober 1899 veggeneraal. Hy het hom in verskeie groot veldslae onderskei en is deur pres. MT Steyn as lid van die Vrystaatse Regering-te-velde benoem. Op 11 Julie 1901 is hy saam met die res van die regering (met uitsondering van pres. Steyn) gevang en na Bermuda verban. Ná die Vrede van Vereeniging het hy oor New York na Suid-Afrika teruggekeer en in 1907 lid van die Wetgewende Raad van die Oranjerivier-kolonie geword, totdat hy hom in 1910 aan die politiek onttrek. Hy is op Welgelegen, in die distrik Winburg, oorlede.
1858 – Dirk Balfoort, komponis en weldoener vir kultuurlewe († 24 Januarie 1921)
Dirk Balfoort was ’n Nederlander wat in 1890 in Pretoria aangekom het; hy word regisseur en later direkteur van die Rederykerskamer Onze Taal, direkteur van die “Hollandsche Mannekoor” en komponis. Hy het deur genotvolle aande ’n besondere bydrae tot die kultuurlewe van Pretoria in die negentigerjare van die vorige eeu gelewer.
1861 – Esias Renier Grobler, politikus en administrateur van die Oranje-Vrystaat († 31 Augustus 1937)
As seun van Philippolis, het Essias Renier Grobler hom onderskei as lid en ondervoorsitter van die Vrystaatse Volksraad. Met die uitbreek van die Engelse Oorlog beklee hy die rang van generaal by die suidelike kommando’s. Ná die oorlog keer hy terug na die politiek en verteenwoordig hy onder meer die Nasionale Party in die Senaat. Van 1924 tot 1929 beklee hy op waardige wyse die administrateurskap van die Oranje-Vrystaat. Hy is op 31 Augustus 1937 in Bloemfontein oorlede.
1871 – Johann Franz (Hans) Endler, komponis, regisseur en medestigter van die Stellenbosch musiekkonservatorium († 30 Junie 1947)
Hans Endler is op 1 Januarie 1871 in Oostenryk gebore. Hy het van 1903 op Stellenbosch gewoon. Endler was een van die belangrikste baanbrekers op musiekgebied in Suid-Afrika. Hy was ’n musiekopvoedkundige (medestigter van Stellenbosch se Konservatorium in 1905), tjellis, dirigent en komponis van Afrikaanse liedere (onder meer “Wiegeliedjie), die eerste Afrikaanse operette (Pa se dogter, 1935) en ander werke. Hy is in Pinelands oorlede.
1898 – Paul Oliver Sauer, politikus (†11 Januarie 1976)
1900 – Ds. Jacobus Delarey (Jac) Conradie, leraar en voorsitter van die uitvoerende raad van die Reddingsdaadbond († 17 Maart 1987)
Jacobus Delarey (Jac) Conradie is op Klerksdorp gebore, ontvang sy skoolopleiding op Lichtenburg, waarna hy hom as predikant op Stellenbosch bekwaam. Hy was onder meer voorsitter van die Uitvoerende Raad van die Reddingsdaadbond, en ook lid van die Bestedingskomitee van die Reddingsdaadbond.
1954 – Eric Nobbs, akteur († 23 Oktober 2022)
1962– Jaco Reinach, rugbyspeler en atleet († 21 Januarie 1997)
Jaco Reinach was die laaste sportman wat Springbok-kleure vir atletiek en rugby behaal het; hy was lank die Suid-Afrikaanse rekordhouer in die 400 meter en het twee toetsdrieë teen die Nieu-Seelandse Kavaliers gedruk. Hy is op 21 Januarie 1997 oorlede, maar sy seun, Cobus, is self ’n Springbok-rugbyspeler.
STERFTES
2009 – Helen Suzman, Volksraadslid van die Verenigde Party, Progressiewe Party, Progressiewe Reformisteparty, Progressiewe Federale Party en Demokratiese Party (* 7 November 1917)
Helen Suzman was ’n lid van die Volksraad van 1953 tot 1989. Veral nadat sy in 1959 uit die Verenigde Party bedank het weens die amptelike opposisie se halfhartige bestryding van afsonderlike ontwikkeling en van 1961 tot 1974 die Progressiewe Party se enigste Volksraadlid was, was Suzman dikwels die enigste teenstem in die Parlement tydens die aanvaarding van die mees drakoniese apartheidswette. Sy was ook ses jaar lank die enigste vrou in die Unie-Volksraad. Hoewel nie een enkele van haar tientalle mosies in die loop van 36 jaar aanvaar is nie, het sy meer vrae as enige ander LV gestel en so inligting aan die lig gebring oor die regering se toepassing van apartheidswetgewing wat andersins verskuil sou gebly het. Vanaf die tweede helfte van die 1960’s het sy gereeld gevangenisse besoek om ’n verbetering in aangehoudenes se omstandighede te bewerkstellig, iets wat deur haar toedoen geleidelik wel gebeur het.
2021 – Bromley Cawood, televisieregisseur (* 12 Augustus 1948)
Bromley Cawood was ’n Suid-Afrikaanse rolprentregisseur.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.