1 MAART

GEBEURE

1686 – Oorlewendes van die Stavenisse arriveer in die Kaap

Die Stavenisse was ’n Nederlandse skip wat aan die Suid-Afrikaanse kus gestrand het. Die stranding van die Stavenisse op 16 Februarie 1686 het baie bygedra tot die Westerse wêreld se kennis van die ryk taal- en kultuurverskeidenheid van die inheemse volkere aan die ooskus van Suider-Afrika sowel as van die aardrykskunde van die gebied. Van die 71 opvarendes het 11 verdrink en 47 besluit het om ’n staptog na die nedersetting aan die Kaap die Goeie Hoop aan te pak. Op 1 Maart 1686 bereik 20 van die mense die Kaap.

1739 – Die opstand van Estienne Barbier

Gedurende 1837 het tien grensboere vanuit die Piketberg-distrik ’n handelsekspedisie na ’n Namakwa-stam aan die Oranjerivier onderneem. ’n Groot hoeveelheid beeste was tot almal se tevredenheid van die Namakwa-stam geruil. Die grensboere was omtrent feitlik terug op hul plase toe van hul Kleurling-bediendes na dieselfde stam teruggekeer het, en beeste van die mense geroof het. Die handel in vee met anderskleurige inheemse stamme was egter verbode. Na laasgenoemde insident het die Namakwa-kaptein ’n klag by die Kasteel ingedien. Die tien grensboere is gedaag om voor die hof op Stellenbosch te verskyn, en hul veestapels gekonfiskeer. Die tien man het geweier om voor die hof te verskyn op grond van die feit dat hul vee gekonfiskeer was, en dat dit nie bewys kon word dat hul handel gedryf het nie. Die tien man is daarna van minagting van die hof aangekla.

Estienne Barbier het daarna as leier na vore getree. Barbier het op Sondag 1 Maart 1739 saam met agt ander man by die Paarlse kerk aangekom. ’n Dokument is voorgelees waarin die Kaapse goewerneur, asook die landdros onder meer beskuldig is van korrupsie, en begunstiging van anderskleuriges. Die dokument is daarna teen die kerk se muur vasplak en ook versprei. ’n Kopie het kort daarna by die Kasteel aangekom waarna Barbier tot misdadiger verklaar is.

’n “Boesmans”-strooptog het kort daarna in die distrik uitgebreek. Amnestie is aan diegene wat gedeel het in die opstand gebied, mits hul sou help om die strooptog stop te sit. Barbier was egter nie bereid om te help nie. Hy is gevang en op 1 November 1739 ter dood veroordeel. Barbier is op 14 November 1739 tereggestel deur eers sy regterhand af te kap en daarna sy kop. Sy liggaam is daarna in stukke gekap en op pale dwarsoor die Kolonie geplaas as waarskuwing.

1803 – Kaap aan Bataafse Republiek teruggegee

Kommissaris JA de Mist (1749-1823) het op hierdie dag, in opdrag van die Bataafse regering van Nederland, vir JW Janssens as goewerneur, en die Politieke Raad en Raad van Justisie as belangrikste gesagsliggame van die Kaapkolonie ingestel, nadat die eerste Britse bestuurstyd (1795-1803) ten einde geloop het. Daarmee is die weg vir die amptelike toepassing van verligte Bataafse idees aan die Kaap geopen.

1838 – Briewe oor die Groot Trek verskyn in Graham’s Town Journal

Twee briewe met betrekking tot die Groot Trek verskyn op hierdie dag in die Graham’s Town Journal. In die eerste brief skryf ’n onbekende persoon dat hy uitstedig was na Grahamstad, en dat hy geskok was om te sien hoe baie, vernaamlik vooraanstaande gesinne, die distrik verlaat het. Die persoon voorspel dat “the Northern frontier will be entirley depopulated in less than a year, and return to its original state of savageness and solitude.” Die tweede brief is gedateer die 20ste Februarie 1838, maar het ook op die dag verskyn. Die brief kom in kort daarop neer dat die steunpilare van die gemeenskap hul vertroue in die regering en algemene welsyn verloor het, en dat hul vas van plan is om te trek.

1847 – Kaapstad die eerste keer met gas verlig

1849 – Die Kaap Agulhas-vuurtoring begin werk

1900 – Anglo-Boereoorlog: Kruger en Joubert in Glencoe

President Paul Kruger en generaal Piet Joubert spreek die burgers by Glencoe toe en praat hulle moed in.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Alfred Milner aan die stuur

Die “Orange River Colony”, (m.a.w. Vrystaat en omliggende) asook die “Transvaals Colony” word onder siviele bestuur, en direkte bestuur van sir Alfred Milner geplaas.

1902 – Anglo-Boereoorlog: Vroue-laer bevry

Generaal Kemp en kommandant Wolmarans span saam en bevry ’n vroue-laer wat deur die Britse magte gevang was.

1941 – Volkspelebeweging gestig

In die begin van 1941 het die Reddingsdaadbond na vore gekom om Volkspele onder sy pas gestigte Afdeling vir Vryetydsbesteding onder sy vleuels te neem. Dit is toe dat die Uniale Komitee vir Volksang en Volkspele en Provinsiale en Gewestelike Volkspelekomitees in die lewe geroep is. Die eerste Uniale Komitee bestaan o.a. uit: dr. SH Pellissier (voorsitter); adv. JF Marais (sekretaris); dr. N Diederichs (namens die Reddingsdaadbond). Die eerste vergadering is deur dr. SP van der Walt geopen. Wat baie interessant en van historiese belang is, is die feit dat die notule van hierdie vergadering deur adv. JF Marais geskrywe is op 22 Maart 1941 in die Marshall plein-polisieselle, waar hy destyds aangehou is en daarna na die Interneringskamp op Koffiefontein gestuur is. Die organisasie van die Volkspelebeweging het dus in moeilike tye begin, maar met die drie Afrikaanse Kerke verteenwoordig in sy sentrale bestuur, en met die goeie wil en belangstelling van die Afrikanervolk, het hy van krag tot krag gegroei.

1945 – Ontploffing by die Sentraalmagasyn in Pretoria

Altesaam 32 mense is die nag van 1 Maart 1945 dood en meer as 40 beseer in ’n ontploffing by die Sentraalmagasyn in Pretoria. Dit was aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog en was ’n jaar nadat die destydse Rand Daily Mail berig het oor chemiese wapens wat onder die uiterste geheimhouding in ’n staatsfabriek by Klipfontein vervaardig word. Brittanje het net ná die uitbreek van die oorlog sy steun aan Suid-Afrika gegee vir ’n chemiese wapenprogram. Oor die ontploffing self, is min bekend en selfs in die gesaghebbende South Africa’s Yesteryears, is niks daaroor geskryf nie. Die koerant van 2 Maart berig net dat dit by die magasynstore gebeur het en dat bakstene en dakplate hoog die lug in geskiet is van die fabriek waar DDT vervaardig is. Van die stene en sink is later in tuine in Pretoria-Wes gekry.

1994 – Walvisbaai word amptelik deur Suid-Afrika aan Namibië oorhandig

2006 – Die Nuwe Nasionale Party ontbind

Die Nuwe Nasionale Party (NNP) is in 1997 gevorm vanuit die ou Nasionale Party, nadat dié party onttrek het aan die Regering van Nasionale Eenheid saam met die ANC.

 

GEBOORTES

1797 – Gerhardus Marthinus (Gerrit) Maritz, Voortrekkerleier († 23 September 1838)

Gerrit Maritz was ’n vername Voortrekkerpionier en -leier. Hy was een van die belangrikste leiersfigure van die Groot Trek. Na die moord op Piet Retief en die neerlaag by Italeni, het hy die leiding in Natal waargeneem en grootliks daartoe bygedra dat die Groot Trek nie in Natal doodgeloop het nie.

1850 – Abraham Paul (Abraham) Kriel, leraar en stigter van die Langlaagte-kinderhuis († 9 Junie 1928)

Abraham Paul Kriel, die stigter van die bekende kinderhuis wat vandag sy naam dra, is op die plaas Keerwater, Franschhoek, gebore. In 1880 is hy op Stellenbosch gelegitimeer as predikant van die NG Kerk. Veral word hy onthou vir sy belangstelling in die jeug. Reeds in sy eerste gemeente Du Toitspan by die Kimberleyse diamantveld, beywer hy hom veral vir armesorgwerk en onder sy leiding koop die kerkraad ’n huis, wat omgeskep is in ’n jeugtehuis. Op ’n besoek aan Europa maak hy kennis met verskeie weesinrigtings. Later sou hy weer sulke besoekreise onderneem. Met die uitbreek van die Engelse Oorlog, bevind hy hom in die gemeente Witwatersrand-Wes (Langlaagte) en word hy veldprediker by die Boeremagte. Na die oorlog besluit sy gemeente om ’n kinderhuis in Langlaagte op te rig vir die kinders van ouers wat op die slagveld of in konsentrasiekampe oorlede is. Die kinderhuis het aanvanklik geen vaste inkomste gehad nie, maar word in antwoord op die gebede van die stigter en sy personeel steeds van die nodige middele voorsien. Na Kriel se dood op 9 Junie 1928 is die kinderhuis se naam verander in die Abraham Kriel-kinderhuis.

1878 – Andries Gerhardus (AG) Visser, mediese dokter en digter († 10 Junie 1929)

Andries Gerhardus Visser is in ’n tent “in die tuin met die groot saffraanpeerboom” op die plaas Zaaifontein in die distrik Fraserburg gebore. Tot sy dertiende jaar bly hierdie later beminde digter en geneesheer in die vrye Karoo-omgewing, waarna hy sy skoolloopbaan as tydgenote van Totius en DF Malherbe in die Hugenote-Gedenkskool voortsit. Nadat hy hom as onderwyser bekwaam het, hou hy van 1896 in Carnarvon skool, waar hy op 20-jarige ouderdom hoof van die skool word. Tydens die Engelse Oorlog toon hy openlike simpatie met die Transvaalse burgers en bots met die militêre owerhede op die dorp. Hy bedank uit sy pos en gaan hom bekwaam as medikus in Edinburg, Skotland. By sy terugkeer praktiseer hy aanvanklik op Carnarvon, later op Steytlerville, waar hy Lettie Conradie ontmoet en in 1913 met haar in die eg verbind word. In 1916 vestig hy hom op Heidelberg, Transvaal. Na die dood van sy eerste vrou in 1920 ontmoet hy ’n jong onderwyseres, Marie de Villiers, in 1923, met wie hy in 1927 in die huwelik tree, ’n egverbintenis wat nie lank geduur het nie, want Visser sterf skielik aan ’n hartaanval op 10 Junie 1929. Reeds gedurende sy skooljare het hy gedigte geskryf wat onder die voorletters AV of AGV in Ons Kleintji gepubliseer is. Dit was egter na die dood van sy eerste vrou dat hy, onder die aanmoediging van Eugène Marais, hom met erns aan die poësie gewy het. In 1925 verskyn Gedigte, hoofsaaklik minnepoësie, patriotiese verse, ligte satire en vrolike verse. Die volk het dit toeganklik gevind, en dit beklemtoon die besondere bydrae wat Visser as digter gespeel het – om die Afrikanervolk poësie te laat lees. In 1948 is hierdie bundel die sestiende keer herdruk. Voor sy dood verskyn Rose van Herinnering (1927) en na sy dood word Die Purper Iris (1930) en Uit ons prille jeug (1930) gepubliseer. As geneesheer het Visser die harte en vertroue van mense met woord en daad verower en sy opofferende – en dikwels gratis – diens veral in die griepepidemie het bewondering by die gemeenskap afgedwing. Die Hertzogprys is twee keer aan hom toegeken. Dit is uitsonderlik dat ’n kunstenaar 47 jaar oud word voordat hy in erns begin dig en dan sy belangrikste werk in minder as een jaar tot stand bring. Eugène Marais skryf in sy In Memorium voor in Gedigte: “… indien dr. Visser vier jaar vroeër die Ewige Stilte ingegaan het, Suid-Afrika nooit een van sy mees populêre digters sou geken het nie …”

 

STERFTES

1924 – Sir Cornelius Hermanus Wessels, politikus (* 26 April 1851)

1979 – Dr. Marthinus Smuts (Tinie) Louw, sakeman, entrepreneur; medestigter en president van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) (* 15 Augustus 1888)

As nederige, eerlike en opregte mens het Marthinus Smuts Louw ’n ontsaglike aandeel gehad in die uitbouing en opheffing van die Afrikaner op verskeie terreine, sodat sy persoonlike mylpale monumente geword het in die volksgeskiedenis van Suid-Afrika. Tinie Louw is as pastorieseun op Ladismith, Kaap, gebore. Hy beskik oor ’n besondere intellek, en in 1907 behaal hy sy graad BA (Hons) met Fisika as hoofvak aan die Universiteit van Stellenbosch. In sy studentejare toon hy ’n intense belangstelling in die toekoms van die Afrikaner en die Afrikaanse taal, en op die jeugdige ouderdom van twintig jaar is Tinie Louw ’n vurige kampvegter vir die Afrikaanse taal en Afrikanerregte. Hy tree as spreker op by talle taalkongresse, waar hy hom beywer om Afrikaans in die ereplek as die taal van die Afrikaner te help vestig. Met dr. Louw se toetrede tot die sakewêreld in 1918, het hy hom steeds beywer vir Afrikaanse taalregte; hierdie keer met ’n ietwat ander dimensie, naamlik om Afrikaans ook in die sakewêreld sy regmatige aandeel te laat geniet. As een van die stigterslede van die Ekonomiese Instituut van die FAK en later ook as lid van die Dagbestuur, beywer dr. Louw hom om die Afrikaner-idealisme ook by die Afrikaner-sakeman te laat ingang vind, en in dié verband was hy een van die voorste stryders van die regte van Afrikaanse sakeondernemings. Op sy voorstel is vroeg in 1940 die eerste konferensie vir verteenwoordigers van Afrikaanse sakeondernemings gehou. Nadat hy verkies word as voorsitter van die Ekonomiese Instituut in 1943, en veral na sy aanstelling as president van die AHI, ’n organisasie in wie se totstandkoming hy ‘n leidende aandeel gehad het, en wat vandag die invloedryke en gerespekteerde spreekbuis van die georganiseerde Afrikaanse sakeondernemings is, lewer dr. Louw sy grootste bydrae om die Afrikaanse sake, net soos die Afrikaanse taal, tot selfstandigwording te lei. In sy lang sakeloopbaan het hy verbintenisse met verskeie groot Afrikanerorganisasies gehad, van sommige waarvan hy voorsitter was en van ander waarin hy gedien het as direkteur – dink in die verband aan Sanlam, Bonuskor, NOK, Sasol, Saambou-(Permanente) Bouvereniging en vele ander. Sy aandeel in die ekonomiese bewuswording van die Afrikaner, laat in die dertigerjare, dien vandag nog as inspirasie vir ’n Afrikaner-sakegemeenskap, wat nie slegs met trots sy aandeel in die ekonomie handhaaf nie, maar steeds doelgerig daarin slaag om hierdie aandeel verder uit te bou. In 1965 is hy die eerste ontvanger van die HF Verwoerd-prys en in 1977 word die FAK se goue Erepenning vir Volksdiens aan hom toegeken. Dr. Louw is op 1 Maart 1979 oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/

Frikkie Wallis Facebook