ABRAHAM KRIEL (1850-1928)
Ds. Abraham Kriel was ’n predikant van die Nederduits-Gereformeerde Kerk en stigter van die Langlaagte-kinderhuis wat later sy naam gedra het.
Hy is op 1 Maart 1850 in Franschhoek gebore en was die elfde van dertien kinders. Hy is in 1880, ná sy studie aan die Kweekskool op Stellenbosch, as predikant in die NG-Kerk gelegitimeer. Sy eerste gemeente was Dutoitspan in Kimberley, waar hy hom reeds vir armesorgwerk beywer het. Onder sy leiding het die kerkraad ’n huis gekoop wat in ’n jeugtuiste, bekend as die Newton-tehuis vir verwaarloosde kinders, omskep is. Die kerkraad het ook ’n hotelgebou, wat omskep is as ’n tuiste vir jong Christen-mans, gekoop.
Op ’n besoek aan Europa het hy kennis gemaak met verskeie weesinrigtings; hy sou later weer sulke besoekreise onderneem. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het hy hom in die NG gemeente Witwatersrand-Wes, later Langlaagte, bevind. Hy was van 1893 totdat hy in 1918 met pensioen gegaan het, verbonde aan hierdie gemeente. Tydens die oorlog was hy twee en ’n half jaar lank veldprediker vir die Boeremagte onder genls. Lucas Meyer en Jan Smuts, en in die Noordwes-Kaap onder adjunk-genl. C.F. Beyers.
In 1896 is die gemeente Fordsburg van Langlaagte afgestig, met ds. Kriel as konsulent. Kort voor die afstigting het hy geld byeengekry vir die oprigting van ’n eenvoudige maar netjiese kerkgebou in die omgewing. Die gebou is in Desember 1895 in gebruik geneem. Vir Kriel was dit ’n plesier om daar te preek en die opkoms was altyd goed. Hy het gereken dat die kerkbesoek op Fordsburg die beste aan die Rand was.
Op Woensdagmiddag 19 Februarie 1896 het ’n groot ontploffing in Braamfontein, naby Fordsburg, plaasgevind. Daar is later vasgestel dat treinwaens vol dinamiet wat vir die myne bestem was, drie dae lank in die son op die stasie gestaan het en dat dit tot die geweldige ontploffing aanleiding gegee het. ’n Gat van vier verdiepings diep is in die grond uitgehol en huise in Vrededorp, Fordsburg en oral omheen is in puin gelê en ander is erg beskadig.
Maria Kloppers was destyds ’n werkster van die Vrouesendingbond (VSB) in Fordsburg en later stigter van die kinderhawe in Observatory. Sy was net besig om voor te berei vir die biduur toe daar ’n geweldige skok was. Die dak het op haar toegesak; sy het gesukkel om uit te kom en gewonder of enigiemand lewend daaruit sou kom. Iemand het na haar geroep en gevra of sy nog lewe. Daar het oral lyke rondgelê, sommige van hulle was so erg vermink dat hulle onherkenbaar was. Sommige van die beseerdes was ook onherkenbaar, maar hulle kon hul naasbestaandes herken. In ’n skoolgebou het ’n ry van hoofde van kinders en volwassenes gelê om uitgeken te word. Onder die puin was onder andere ’n menigte lede van die VSB se Sondagskool begrawe. Omtrent ’n dag later is die tweejarige Francina in ’n holte onder die puin van hul huis gevind; sy het met ’n emmertjie gespeel met die geraamte van ’n stoof oor haar. Sy was die eerste van dertien kinders wat na die VSB se sendinghuis gebring is. Hieruit het die kinderhawe in Observatory later ontstaan. Ds. P. Meiring, leraar van die gemeente Johannesburg-Oos en vader Daneel het gou by die plekke waar die verwoesting gesaai is, uitgekom. Die tentoonstellingsterrein is ingerig vir die gehawende mense en hulle het saam in een groot saal geëet.
Tydens die eerste begrafnisdag het ds. Kriel altesaam 127 lyke begrawe. Kiste is op muilwaens aangery en in tien van die kiste was daar net stukkies van menseliggame. Tientalle het aan hul beserings beswyk en daar was gedurig ’n begrafnisstoet op pad na die kerkhof. Die dag na die eerste begrafnis het ds. Kriel in die studeerkamer van ds. J.N. Martins van Johannesburg vooroor gesit en soos ’n kind gesnik.
Soos soveel ander geboue is die nuwe kerkgebou in Fordsburg in puin gelê. Dit is net twee maande tevore in gebruik geneem en nou het net die mure daarvan oorgebly. Een gewel was tot op die helfte weggeslaan. Die deure en vensters was verbrysel en die dak is ingedruk binne die mure in. Die lidmate kon nie veel doen om met die herstelwerk te help nie, want hulle was self in ellende gedompel en hulle moes hulle toespits op die herstel van hul eie woonplekke. Die meeste van hulle was buitendien arm. Daar is ’n tent by die plek opgeslaan en bidure is gereeld daarin gehou. Talle mense het om voorbidding gevra, mense was oral besig om na hul geliefdes te soek en huise is in hospitale verander.
Ds. Kriel het egter dadelik aan die werk gespring en lyste uitgeskryf wat hy aan betroubare mense gegee het sodat hulle fondse kon insamel. Binne ’n kort tyd is £ 32 000 ingesamel. Gratis reiskaartjies is beskikbaar gestel vir mense wat familie elders wou besoek. Ds. Kriel kon staatmaak op die publiek se welwillendheid omdat lidmate hul huise met uiterste moeite moes herstel; selfs dit kon baie nie doen nie. Daarom kon die konsulent met groot vrymoedigheid by ander aanklop, nie net in Johannesburg nie, maar ook so ver as Harrismith, waar hy in die kerk van ’n ou vriend gekollekteer het. In een van die dienste het hy die saak uitgelê. Onder die kollekte het die orrelis begin speel, maar hy het gevra dat dit nie gedoen moes word nie, omdat hy die gemeente verder oor die ramp wou inlig. Terwyl die gawes in die bordjies geval het, het hy alles vertel wat in Fordsburg gebeur het. Die geld is ingesamel en die kerk is nie net herbou nie, maar ook vergroot. Die gemeente het eers op Sondag 28 April 1940 van die kerkgebou afskeid geneem en na Mayfair verhuis.
Die nagenoeg 12 000 oorlogswesies het ds. Kriel so diep geraak dat hy ’n klompie van hulle in die pastorie gehuisves het en die Langlaagte-kinderhuis op 4 September 1902 met sewe kinders geopen het. Voor die einde van die eerste jaar was daar reeds 92 kinders opgeneem en teen September 1903 was daar 245 kinders. Hy het egter sedert sy bevestiging in Langlaagte gehelp met die versorging van wees- en hawelose kinders. Maria Kloppers het ds. Kriel van 1896 af bygestaan en was van die begin af betrokke by die kinderhuis.
Benewens Langlaagte is daar twee verdere kinderhuise opgerig. Ds. J.M. Louw van Boksburg en ds. A.P. Burger van Middelburg (Transvaal) het onderskeidelik in Oktober en November 1902 ook kinderhuise gestig. Hierdie kinderhuise is onderskeidelik in 1904 en 1908 by Langlaagte ingelyf. Onder Kriel en Kloppers se leiding het die kinderhuis al hoe meer erwe, en selfs twee plase, gekoop. Die kinderhuis het geen vaste inkomste gehad nie, maar kon deurentyd kop bo water hou en die nodige middele kry. Volgens ds. Kriel was dit “in antwoord op gebede”. Hy het op ’n stadium aan dr. William Nicol, leraar van Johannesburg-Oos-gemeente van 1913 tot 1938, gesê: “Ek dank die Here dat ek gehoorsaam was, maar vol geloof was ek ongetwyfeld nie. Telkens as ek vir myself sê ek moet glo, word ek bang; maar as ek sommer in gehoorsaamheid my oë toemaak en my opdragte aanpak, sorg die Here dat alles regkom.”
Alhoewel die kinderhuis geen vaste inkomste gehad het nie, het antwoord op gebede van die stigter en sy personeel die nodige middele voorsien sodat dit nooit nodig was om vir skenkings te vra nie. Van die begin af het ds. Kriel gewys hoe prakties hy ingestel is deurdat hy die kinders nie net in gewone skoolvakke laat onderrig het nie, maar ook in ambagte soos steenmakery, kleremakery, skrynwerk, boerdery, loodgieterswerk en onderwys.
Ds. Kriel is op 9 Junie 1928 oorlede; met sy dood is die kinderhuis se naam verander na die Abraham Kriel-kinderhuis.
Daantjie Badenhorst
