GERRIT MARITZ (1797-1838)

Gerrit Maritz was een van die belangrikste leiersfigure van die Groot Trek.

Gerhardus Marthinus Maritz is op 1 Maart 1797 in die Suurveld in die Graaff-Reinet-distrik gebore en was een van sewe kinders. Sy ouers was Salomon Maritz en Maria Elizabeth Oosthuizen, wat daarvoor bekend was dat hulle die Evangelie onder swart mense verkondig het. Hy het op 14-jarige ouderdom saam met sy ouers na Graaff-Reinet verhuis en hy was toe reeds bewus van die onveilige toestande aan die Kaapse Oosgrens. Hy is op 14 Mei 1820 met Agnethina Maria Olivier getroud. Hy het hom op Graaff-Reinet op wamakery toegespits en ’n suksesvolle sakeman geword. Hy het ’n leidende rol in die openbare lewe van die distrik gespeel en benewens sy wamakery was hy wykmeester, waarnemende veldkornet, grondeienaar, regsverteenwoordiger en raadgewer. Toe die trekgedagte in 1834 begin posvat het, het hy self voorbereidings getref om te trek, en ander voornemende trekkers het hom as hul leier aanvaar. Maritz het die Kaapkolonie in September 1836 verlaat.

Maritz se trek het bestaan uit ’n honderd waens en omtrent 700 mense, waaronder ongeveer 200 volwasse mans; sy trek was op daardie stadium die grootste. Twee van Maritz se broers, asook sy suster wat met eerwaarde Erasmus Smit getroud was, het saam met hom getrek. Die Maritz-trek het die Oranjerivier by Sanddrif oorgesteek en in November 1836 by Thaba Nchu, die vooraf bepaalde bymekaarkomplek van die Trekkers, aangekom.

By Thaba Nchu het Andries Hendrik Potgieter, wie se geselskap die Slag van Vegkop kort tevore gewen maar al hul vee verloor het, Maritz gevra om saam met hom op ’n strafekspedisie teen die Matabeles te vertrek. Maritz het ingestem, op voorwaarde dat ’n regering eers gekies moes word om wet en orde te handhaaf. Op 2 Desember 1836 is Maritz tot voorsitter van die burgerraad, wat uit sewe lede bestaan het, verkies.

Dit het beteken dat hy die siviele hoof van die Trek was, met Potgieter as “laerkommandant” of “kommandant-generaal”. Die ekspedisie het in Januarie 1837 plaasgevind, en Maritz en Potgieter was elk in bevel van hul eie kommando. Op 17 Januarie is Silkaats by sy stat , Mosega, verras en weswaarts verdryf. Die stat is verwoes en omtrent 7 000 beeste is gebuit. Op pad terug na Thaba Nchu het Potgieter en Maritz ’n uitval oor die verdeling van die buit gehad en hierdie twis is vererger toe Piet Retief en sy trek in April 1837 daar aangekom het. Potgieter is nie ingesluit by die nuwe regering wat hierna gekies is nie; Maritz het “regter-president” geword en Retief “goewerneur”. Daar was onenigheid oor die trekrigting wat ingeslaan moes word; Maritz het hom by Retief, wat na Natal wou trek, geskaar maar hy het saamgestem met Potgieter se mening dat die Matabeles se mag eers finaal gebreek moes word.

Hy het nie saam met Potgieter en Piet Uys aan die tweede ekspedisie deelgeneem nie. Hy het egter by Suikerbosrand, tot waar sy trek intussen nooderwaarts gevorder het, weer in ’n geskil oor die verdeling van die buit betrokke geraak. In Desember 1837 het Maritz en sy volgelinge die Drakensberge by De Beerspas oorgesteek en in Noord-Natal het hulle by Retief, wat vooruit getrek het, aangesluit. Maritz was ontevrede met Retief se besluit om self na Dingaan se kraal te gaan om oor grond te onderhandel. Hy was ook nie gelukkig met die feit dat Retief soveel manne saam met hom geneem het nie omdat hy gemeen het dat dit die verdediging van die laers verswak het. Volgens hom het Retief te outokraties opgetree omdat die ander Trekkers nie genoeg geraadpleeg is nie. Anders as Retief het Maritz nie vir Dingaan vertrou nie. Sy agterdog teenoor Dingaan het gemaak dat sy laer wat langs die Boesmansrivier gestaan het, nie heeltemal onvoorbereid was soos die ander toe die Zoeloes die Trekkers in Februarie 1838 in Natal aangeval het nie.

Na die moord by Bloukrans en Moordspruit het die Trekkers na Maritz opgekyk, veral nadat Potgieter se strafekspedisie teen die Zoeloes in April 1838 by Italeni, waar Piet Uys gesneuwel het, misluk het. Baie Trekkers was mismoedig en wou Natal verlaat. Die feit dat die Groot Trek nie in Natal doodgeloop het nie, kon aan Maritz se geduld en oorredingsvermoë toegeskryf word.

Maritz het die haweloses gehelp om weer op hul voete te kom en na die weduwees en weeskinders omgesien. In Mei 1838 het hy Port Natal besoek om lewensmiddele vir die Trekkers te verkry en ’n verdrag met die Engelse teen Dingaan te sluit. Met sy terugkeer het hy die laers na veiliger plekke verskuif en die Trekkers aangemoedig om te begin saai. Nadat ’n tweede Zoeloe-aanval by Veglaer afgeweer is, het Maritz besluit om die Trekkers in die omgewing van Sooilaer, wat hy ingerig het, saam te trek. Toe hy Port Natal ’n tweede keer besoek het, het hy koors opgedoen en hy is op 23 September 1838 in die ouderdom van 41 jaar oorlede.

Maritz se nalatenskap leef voort deurdat die stad Pietermaritzburg na hom en Piet Retief vernoem is, terwyl ’n hoërskool in die noorde van Pretoria ook sy naam dra.

deur Daantjie Badenhorst

Foto: Jackie Grobler-versameling