AFRIKAANSE INSTELLINGS LOOP DEUR

Genl. Smuts het sterker as ooit gestaan ná die Geallieerde oorlogsuksesse in Noord-Afrika. Op 7 Julie 1943 is verkiesing gehou; die regeringsondersteuners in die Volksraad het gestyg tot 107, terwyl net 43 Nasionaliste verkies is. Dit was die grootste politieke triomf in Smuts se loopbaan. Sy ou teenstander, genl. Hertzog, is op 21 November 1942 eensaam en stil op sy plaas Waterval in die omgewing van Pretoria oorlede. Die teks by die begrafnisrede was uit Sagaria 11 vers 2: “Huil, o sipres, omdat die seder geval het.”

Die ou taalstryder Gustav Preller het op 6 Oktober 1943 op sy plaas, Pelindaba, gesterf. Soos hy dit wou hê, het die begrafnis op die tradisionele manier plaasgevind, en is ’n ligte ossewa as lykswa gebruik. Die diens is by die stewige plaashuis gehou, en nadat die begrafnisgangers “Als wij de doodsvallei betreên” gesing het, het die draers die kis op die wa geplaas. Twee van sy drie seuns was draers. Die derde, Bob, was in die noorde ontplooi as vlieënier in die Suid-Afrikaanse Lugmag. Een van sy tydgenote is in 1941 oorlede: “Vader Kestell”. Soos pres. Steyn en genl. De Wet is ds. JD Kestell, wat op 9 Februarie 1941 oorlede is, by die Nasionale Vrouemonument begrawe. Onder Kestell se boeke tel biografieë van genl. De Wet, sy skoonpa, prof. NJ Hofmeyr, en ’n goeie vriend, ds. Abraham Kriel (van die bekende kinderhuis). Kestell het sedert die Anglo-Boereoorlog gely aan asma wat hy as veldprediker in soms koue en nat weer opgedoen het.

Die kampvegters vir gelyke taalregte moes in die laaste jare van hul lewe sien dat Afrikaans opnuut die wind van voor gekry het. So is ’n paar Afrikaanse boeke verbied. Een daarvan was Só het hulle gesterf, ’n Afrikaanse verwerking van Hoe zij stierven van GJ Jordaan. Dit handel oor Kaapse rebelle wat in die Anglo-Boereoorlog tereggestel is. Ek rebelleer𝘳 deur ’n bekende OB-man, JA Smith (die ervaringe van ’n skoolseun wat weggeloop het om te gaan veg), is uit Port Elizabethse skole se biblioteke gehaal.

In die 1940’s het politici en koerante van die regerende Verenigde Party met ’n agitasie teen Afrikaanse enkelmediumskole gevoer. Hulle het betoog dat dubbelmediumonderwys tot ’n verenigde volk in Suid-Afrika sal lei. Afrikaneropvoedkundiges en politici het dit as ’n aanslag op Afrikaanse skole beskou en dit bitter teengestaan. Hulle het daarop gewys dat daar geen veldtog gevoer is teen Engelse enkelmediumskole nie. In Pietermaritzburg het Afrikaanse ouers ’n Christelik-nasionale bewaarskool begin toe die owerheid geweier het dat hulle hul kinders by ’n bestaande Afrikaanse laerskool inskryf.

Genl. Smuts en die VP-koerante en -politici het al meer aanvalle gedoen op die Broederbond. Op 15 September 1944 is dit tot verbode organisasie vir onderwysers en amptenare verklaar. Baie amptenare het eerder uit die staatsdiens getree as om uit die AB te bedank.

Een van die skrywers wat ook tydelik moes uittree, was NP van Wyk Louw, asook twee kollegas aan die Universiteit van Kaapstad, naamlik die taalkundige J du P Scholtz en die skrywer Boerneef (IW van der Merwe). Ook DJ Opperman was lid van die Broederbond. Hulle was egter geensins sonder kritiek nie, onder meer vanweë die groot rol wat die sakemense al meer daarin gespeel het. Aan die ander kant van die politieke spektrum was die digters C Louis Leipoldt en Uys Krige. Leipoldt het in ’n Nederlandse letterkundige tydskrif De Stoep in ’n gedigtesiklus “Holland 10 Mei 1940” met verontwaardiging te velde getrek teen die houding van anti-oorlogsgesinde Afrikaners. In ’n lang brief in Die Volkstem en Die Suiderstem het hy SA se deelname aan die oorlog geregverdig. Krige was in diens van die regering se inligtingsburo, het in 1940 oorlogskorrespondent geword en die veldtog in Oos-Afrika meegemaak. In November 1941 is hy by Sidi Rezegh saam met nog vier Suid-Afrikaanse oorlogskorrespondente gevang. Ná twee jaar in ’n krygsgevangenekamp in Italië het hy ontsnap en veilig in Suid-Afrika aangeland.

Leipoldt is op 12 April 1947 oorlede. Van Wyk Louw skryf in Die Burger dat dit ná 1900 gelyk het “asof ons as volk finaal verneder en reddeloos verlore was, toe dit gelyk het asof ons sou ondergaan en uit die ry van die volke verdwyn sonder om ’n woord na te laat van wat ons kon wees. Toe het Leipoldt gepraat, woorde gegee aan ons smart en hierdie Afrikaanse wêreld van ons laat opglans omring van ’n liefde wat in honderde jare gegroei het. Elke blommetjie, elke diertjie van ons veld het hy genoem asof dit die laaste keer was wat dit genoem sou wou word.”