1 SEPTEMBER
GEBEURE
1836 – William Cornwallis Harris begin met reis
William Cornwallis Harris begin op hierdie dag sy reis na binneland vanuit Graaff-Reinet.
1837 – De Aar kom tot stand
Die eerste plase in die gebied is op hierdie dag uitgegee. Die dorp se naam is ontleen aan die
plaas De Aar waar ’n put gegrawe was wat sterk standhoudende water aan almal gebied het.
Die eerste spoorlyn het in 1881 op die dorp aangekom. Hierdie spoorlyn was ’n aansluitingspunt in die geweste. Met verloop van tyd het die stasie ontwikkel, uitgebrei en ’n gemeenskap geword.
Die dorp was dan ook ’n belangrike militêre sentrum tydens die Anglo-Boereoorlog. Gedurende 1902 het die Friedland-broers, wat ’n winkel in die dorp besit het, die dorp gekoop van DF Grundling. Die broers het daarna die eerste amptelike erwe op 15 en 16 Desember 1902 verkoop. Tegnies kan hierdie dan as die eintlike begin van die werklike dorp – De Aar – beskou word. Kort daarna is ’n poging aangewend om die dorp se naam te verander na “Friedlanderdorp”. Die poging was egter nie geslaagd en het die oorspronklike naam De Aar behoue gebly.
1853 – Wêreld se eerste driehoekige posseëls in Kaapkolonie uitgereik
Op 1 September 1853 word die eerste gomposseël in Afrika in die destydse Kaap die Goeie Hoop, ’n Britse kolonie, uitgereik. Die driehoekige seël het bekend gestaan as die “Cape Triangle”. Die stempel is ontwerp deur Charles Davidson Bell, wat destyds die Landmeter-generaal van die Kaapkolonie was.
1870 – Cecil John Rhodes kom in Suid-Afrika aan
Cecil John Rhodes stap die eerste keer in Durban aan wal op grond van ’n dokter se aanbeveling om na ’n warmer klimaat te verhuis vir sy gesondheid.
1882 – Elektriese straatligte vir Kimberley
Sestien elektriese straatligte word op hierdie dag teen skemeraand in Kimberley aangeskakel.
Kimberley was op daardie stadium die eerste plek in die Suidelike halfrond om met elektriese straatligte te spog.
1900 – ZAR deur Engeland geannekseer
Lord Roberts was van mening dat wanneer hy in besit van Pretoria, die Transvaalse hoofstad, sou wees die Republikeinse magte hulle aan Britse gesag sou onderwerp. Toe Roberts op 5 Junie 1900 Pretoria aan die spits van sy troepe ongehinderd binnegery het, het daar, anders as wat die Britte verwag het, geen versoek om onderwerping van Boerkant gekom nie en moes die oorlog dus voortgesit word. Sowat twee maande later het die slag by Dalmanutha in die laaste week van Augustus plaasgevind. In die waan dat hierdie vir die Boere verlore slag die einde van alle Boereweerstand sou beteken, het Roberts op hierdie dag die ZAR tot Britse gebied geproklameer. Vir die tweede keer in sy bestaan – die eerste was op 12 April 1877 – is die Boererepubliek ten noorde van die Vaalrivier tot Britse gebied verklaar. Op 3 September het die Transvaalse regering, wat hom in daardie stadium te Nelspruit bevind het, egter ’n teenproklamasie uitgevaardig wat Roberts se proklamasie van nul en gener waarde verklaar het, en voorts dat die volk van die ZAR ’n vrye en onafhanklike volk, wat weier om hom aan Britse gesag te onderwerp, is en bly. Roberts se proklamasie het die Britse regering nietemin in die geleentheid gestel om die ZAR voortaan nie meer as ’n wettige oorlogvoerende party te beskou nie, maar om na die vegtende burgers as rebelle in die gewese Republiek te verwys.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Ladybrand ingeneem
Kommandant Piet Fourie, saam met Nieuwoudt en Kritzinger, neem Ladybrand, OVS, in deur ’n straat-tot-straat-stryd, maar versuim om die Britse garnisoen vas te vat wat na ’n posisie onder die Platberg vertrek.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Warmbad, ZAR
1904 – Stigting van die Zuid-Afrikaansche Christelijke Vrouwen-Vereeniging (die latere ACVV) in Kaapstad
Die Afrikanervrou as pioniermens en Voortrekkerleidster is oorbekend. Sy het wondere verrig. Die invloed van die Afrikanervrou ná die ellende van die Tweede Vryheidsoorlog en haar rol met die opheffing van ’n verwarde, vernederde volk wat verstedelik en verarm het, steek egter selfs hoër uit. Georganiseerde vrouebewegings het in ons land immers nie om stemreg en gesag gepleit nie, maar het ontstaan om die gemeenheid en beleid van uitwissing ten opsigte van die Afrikanervrou en Afrikanerkind in die konsentrasiekampe deur Brittanje, teen te gaan. Hulp is verleen en protesvergaderings gehou – in Kaapstad, Paarl en op Cradock. Vroueverenigings het oral ontstaan en kosbare werk verrig, maar verenigde optrede was nodig want die ellende was ontsaglik. Mev. Elizabeth Roos was die stigter van die Zuid-Afrikaansche Christelijke Vrouwen-Vereeniging, die later Afrikaanse Christelike Vrouevereniging (ACVV), waarvan die eerste tak in Kaapstad op 1 September 1904 gestig is. Uit hierdie daad en tak het die ander provinsiale vroueorganisasies gevolg – die SA Vrouefederasie in 1904 in Transvaal en die Orangia-Vrouevereniging in die OVS. Later het die Natalse Christelike Vrouevereniging gevolg. In 1920 is die Federale Vroueraad gestig ten einde hierdie liggame te bind en te versterk. Die grondslag was Christelik-nasionaal, terug na die Kerk, ywer vir volk en taal, opvoeding en opheffing, die bestryding van armoede, agterlikheid en geestelike onvermoë, die verspreiding van die goeie boek en die teengaan van die verdere insinking van soveel armblankes. Jaarvergaderings is gehou en takke is gestig. Die Afrikanergesin is geleer om homself te help en nie op aalmoese te bly teer nadat die eerste hulp verleen is nie. In 1928 is mev. ME Rothmann as sekretaresse van die ACVV aangestel en sy het oral persoonlike hulp verleen. Die vrouebewegings het geld vir liefdadigheid ingesamel, onkunde teëgegaan, gesondheidsvoorligting verskaf, ons mense besiel, voorstelle aan die owerhede gedoen om spesiale kursusse en behuisingskemas te begin, huisvlyt te bevorder en kultuurverbondenheid onderstreep. Die samewerking met die drie Susterkerke was pragtig. Maatskaplike werksters is opgelei en landwyd aangestel om probleme betyds te ondervang en uit te skakel. Gesinsorg, groepwerk en inrigtingsorg, maatskaplike euwels en volksgesondheid het aandag geniet, maar volksopvoeding is voorop gestel. Daarom is ’n opvoedingsfonds in 1905 gestig sodat mense kon gaan studeer; ’n kunsfonds is gestig om die estetiese gevoel te bevorder; te vroeë skoolverlating is ywerig beveg, universiteit en huishoudskool is op elke denkbare wyse gesteun; goeie losieshuise vir dames is help inrig om verval of uitbuiting teen te gaan. Kortom, vroue soos M Schonken, H Retief en A Theron het wondere verrig. Maar dit was veral die individuele lid wat deur besoek en meelewing, voorbidding en geldhulp, volharding en opvolgwerk, mede-Afrikaners weer vas laat staan het.
1913 – Posseëls vir Unie van Suid-Afrika
Die eerste posseëls van die Unie van Suid-Afrika verskyn en beeld Koning George V uit.
1939 – Die Tweede Wêreldoorlog begin toe Duitsland Pole binneval
1980 – Andries Treurnicht verkies
Dr. Andries Treurnicht, Minister van Openbare Werke, Statistiek en Toerisme, word eenparig herkies as die Nasionale Party se leier in Transvaal.
1963 – Lugmaggedenkteken op Bays Hill
Die nuwe lugmaggedenkteken op Bays Hill, suid van Pretoria, word deur staatspresident CR Swart ingehuldig en word deur sowat 8 000 mense bygewoon. Die monument is ’n gedenkteken vir bykans 3 000 lede van die Suid-Afrikaanse Lugmag wat tydens die jare in oorlog en vrede in aksie gesterf het.
2000 – Konstruksie op die 9-m-SALT-teleskoop begin
Konstruksie op die 9-m-SALT-teleskoop by Sutherland, die grootste enkele teleskoop in die suidelike halfrond, begin amptelik met ’n baanbrekende seremonie.
2004 – Ontploffing by Sasol
Ten minste ses mense sterf en meer as 100 is beseer in ’n reuse-gasontploffing by Sasol in Secunda.
GEBOORTES
STERFTES
1974 – Gertruida Anna (Trudie) Kestell, deskundige oor historiese kleredrag (* 9 September 1891)
Gertruida Anna (Trudie) Kestell, dogter van die bekende dr. JD Kestell, is op 9 September 1891 gebore. Gedurende die Eeufeesjare rondom 1938 het sy intensiewe navorsing oor die kleredrag van die Voortrekkers gedoen, veral met die doel om ’n historiese juiste volksdrag vir die Afrikaner met die Eeufeesvieringe daar te stel. Sy het deeglike studie gemaak van Voortrekkerkleredrag in die Voortrekkermuseum in Pietermaritzburg en die Nasionale Museum in Bloemfontein, en uitgebreide korrespondensie gevoer met persone wat kennis van die Voortrekkerkleredrag gehad het. Die resultate van haar navorsing is in 1940 gepubliseer in ’n boekie Ons Volksdrag en iets oor die kleredrag van ons voorgeslagte en in ’n artikel in die Hertzog-annale van Maart 1954. Trudie Kestell het baie daartoe bygedra om trots in en waardering vir die kleredrag van sy voorgeslagte by die Afrikaner te kweek. In ’n tyd toe daar oor die stoflike kultuur van die Afrikaner baie min geskryf is, was sy op hierdie gebied ’n baanbreker.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.