CR SWART (1894-1982)
CR Swart was die laaste goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika, en die eerste staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika.
Charles Robberts Swart is op 5 Desember 1894 op die plaas Morgenzon in die Winburg-distrik in die Vrystaat gebore. Hy was vyf jaar oud toe die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het, en hy het saam met sy ma en gesin in die Winburg-konsentrasiekamp gewoon. Hy was een van ses kinders, waarvan een tydens die oorlog dood is. Tydens die Slag van Paardeberg is sy pa gevange geneem en gewond. Sy pa het ’n krygsgevangene geword en in Groenpunt en Simonstad gebly tot aan die einde van die oorlog.
Toe hy sewe jaar oud was, het Swart aan die staatskool op Winburg skoolgegaan. Hy was later ’n leerder aan ’n Christelike Nasionale Onderwys-skool wat gestig is in weerstand teen Lord Milner se beleid van verengelsing by staatskole. Hy het hom in 1914 as prokureur bekwaam voordat hy ’n tyd lank ’n akteur in stil films in Hollywood was. Daarna het hy tot die openbare lewe toegetree. Hy was met Cornelia Wilhelmina (Nellie) de Klerk getroud en drie kinders is uit die huwelik gebore.
In 1932 is hy tot Volksraadslid vir die kiesafdeling van Ladybrand verkies, maar is in 1938 verslaan. In 1941 het hy die Volksraadslid vir Winburg en leier van die Nasionale Party (NP) in die Vrystaat geword. Toe die NP in 1948 aan bewind gekom het, is hy as minister van justisie aangestel, en hy was verantwoordelik vir wetgewing wat die magte van die Suid-Afrikaanse Polisie versterk het om anti-apartheidsbedrywighede te onderdruk. Tussen 1949 en 1950 het hy die portefeulje vir onderwys, kuns en wetenskap behartig en tussen 1954 en 1959 was hy adjunk- eerste minister.
Hy is in 1959 tot goewerneur-generaal verkies, maar soos sy voorganger, dr. EG Jansen, was hy ’n stoere republikein. In ’n referendum in 1960 het die kiesers ten gunste van republiekwording gestem, en hy het Koningin Elizabeth II gevra om hom van sy pligte te onthef. Die amp van staatspresident het dié van koningin en goewerneur-generaal as seremoniële staatshoof vervang, en hy is as staatspresident verkies. Nogtans het Nelson Mandela, en ander swart weerstandsleiers probeer om beswaar hierteen te maak deur ’n driedaagse staking deur nie-blanke werkers uit te roep, maar die regering het dit onderdruk deurdat die polisie maksimum geweld teen hulle gebruik het.
Hoewel hy vir ’n ampstermyn van sewe jaar verkies is, het hy op 11 Desember 1967 uitgetree. Dr. Eben Dönges is in sy plek aangewys, maar weens swak gesondheid is hy nooit beëdig nie. Die orde vir voortreflike diens is deur sy opvolger, Jim Fouché, aan hom toegeken. Hy is op 16 Julie 1982 in die ouderdom van 87 jaar oorlede.
deur Daantjie Badenhorst