KERNWAPENS EN GRENSOORLOG
In die 1970’s het die bewindhebbers al meer gedink aan kernwapens as politieke afskrikmiddel. In dié tyd was daar Kubaanse soldate in Angola wat gevorderde Sowjetunie-wapentuig gebruik het. In 1979 het Suid-Afrika sy eerste kernbom gebou – die eerste van ses. Hulle was nie aanmekaargesit nie, maar die kern en ander komponente is apart in ’n kluis van beton en staal geberg. Almal wat by die bom betrokke was, het geweet dat Suid-Afrika dit nie as aanvalswapen wou gebruik nie. In 1990 het pres. FW de Klerk gelas dat Krygkor die projek beëindig. In Die bom. Suid-Afrika se kernwapenprogram gee Nic von Wielligh en Lydia von Wielligh-Steyn ’n omvattende beskrywing daarvan. Dit was die einde van ’n era “wat gekenmerk is deur uitsonderlike wetenskaplike en tegnologiese prestasie”. Dit was ook “die eerste keer in die wêreldgeskiedenis dat ’n land wat met groot koste en met veel vindingrykheid ’n inheemse kernvermoë opgebou het, dit sonder slag of stoot tot niet gemaak het.”
Die kernwapens is dus nie gebruik in die voortslepende Grensoorlog nie. Dié oorlog het sy neerslag gevind in die ernstige letterkunde (“grensliteratuur”), die ligter, gewilde lektuur, ook in tydskrifte, in rolprente en TV. Die grensvegters self het eers ná die oorlog aan die woord gekom, soos LJ Bothma in Die buffel struikel – ’n Storie van 32 Bataljon en sy manne (2006). At van Wyk laat in Die roem en die rou – stories agter Honoris Crux (2008) die helde van hul wedervarings vertel. Leopold Scholtz gee in Die SAW in die Grensoorlog 1966–1989 ’n gesaghebbende blik op die oorlog.
Hy maak melding van ’n studie van moderne oorlogsvoering deur James F Dunnigan wat die SAW hoog op ’n wêreldranglys plaas. Die hele 20ste eeu en dus die grensoorlog is hiervoor in ag geneem. Die SAW het hy eerste in Afrika geplaas met 68%. Slegs een land ter wêreld het beter gevaar: Duitsland met 75%. Ander lande wat goed gevaar het, is Japan (63%), Australië (61%), Israel (55%) en Brittanje (53%). Angola kry 18% en Kuba 14%.
Soos blyk uit die reaksie op die TV-reeks Grensoorlog (2008), asook die herdenking in Maart 2008 van die Slag van Cuito Cuanavale in 1987/88 in Suid-Angola, bly die oorlog omstrede. Bewerings is gemaak dat Kuba, die gewese Sowjetunie, en die bevrydingsbeweging Fapla gewen het.
Dit is betwis deur SAW-generaals, soos die gewese weermag-hoof, genl. Jannie Geldenhuys. Hy skryf in die voorwoord tot Die wat gewen het: “Geen nasie, ook nie die Kubane nie, sal toelaat dat hul seëvierende leër-generaal ná die oorlog deur ’n vuurpeloton tereggestel word nie, veral nie nadat hulle bevelvoerende lugmag-generaal reeds na Miami, Florida, gevlug het nie.”
Leopold Scholtz sê in ’n artikel: “Suiwer militêr is my oorwoë gevolgtrekking dat die SAW met punte gewen het, nie met ’n uitklophou nie.” Maar dit was tog ’n keerpunt. Kuba moes aan Suid-Afrika en Amerika se eise toegee en uit Angola padgee. Dit het Castro ’n enorme propaganda-oorlog gekos om die neerlaag in ’n oorwinning te omskep. Namibië het onafhanklik geword met Swapo (South West Africa People’s Organization) aan bewind, maar hy kon dit nie regkry deur die loop van ’n geweer nie, en van sy strewe om ’n Marxisties-Leninistiese diktatuur te vestig, was daar geen sprake nie, sê Scholtz.