10 FEBRUARIE – REGSTELSEL EN KERK VERSTERK POSISIE VAN AFRIKANERVROU
Afrikanervroue het reeds van vroeg af in die Suid-Afrikaanse samelewing as sterk persoonlikhede na vore getree. Die reeds aangehaalde Duitser, OF Mentzel, wat in die 1730erjare aan die Kaap was, het die Kaapstadse vroue beskou as te glad met die mond en te statusbewus. Die plattelandse vroue het hom meer beïndruk. Hermann Giliomee haal die volgende oordeel van hom aan:
“In die algemeen het plaasvroue die mans oorskadu in aard en intelligensie, goeie gedrag en die vermoë om enigiets te verstaan, daarom word hulle byna altyd hoër geag deur Europeërs as die vroue van Kaapstad. Hulle is gewoonlik vlytig, goeie huisvroue en uitstekende ma’s. Hulle is nie so ambisieus as die stadsvroue nie, hulle kibbel nie oor wie voorkeur moet kry nie en dit maak nie vir hulle saak of hulle links of regs aan tafel sit of eerste of laaste bedien word nie.”
Wat vroue in die stad en op die platteland se selfvertroue moes versterk het, was die feit dat die Romeins-Hollandse regstelsel die regte van mans, vroue en slawe erken het. Die Romeins-Hollandse reg het in 1652 saam met die Hollanders na die Kaap gekom. In Nederland is dié reg in 1809 deur die Napoleontiese Kode vermag, maar in die Kaap het dit voortgegaan om te ontwikkel op ’n wyse wat dit onderskei van verwante regstelsels.
’n Vrou het die reg gehad om onder bepaalde omstandighede haar man vir ’n egskeiding te dagvaar. Dit het die vrou teen mishandeling beskerm. Teen 1720 het endogamie binne die wit geledere, volgens Giliomee, die hoeksteen van die gemeenskap geword, veral buite Kaapstad. Teen die einde van die 18de eeu het Clara, die slaaf van Carel Greyling, ’n kind gekry. Sy vrou het gedink dis syne al het hy die skuld op sy seun gepak. Sy het hom onmiddellik verlaat, het welslae aansoek gedoen om ’n bevel tot ontbinding van haar huwelik en ’n eiendomskikking.
Wit vroue het ’n belangrike rol gespeel in die vestiging van endogamie (dit wil sê huwelike binne die groep) as die norm. Daar was wel ook ander faktore. Soos ander koloniste van dié tyd was die Hollanders oortuig van die meerderwaardigheid van hul kultuur en geloof. Giliomee haal die mening van geleerdes aan wat verklaar dat die Hollanders selfs voor 1652 ’n sterk afkeer van Afrikane getoon en hulle beskou het as “seksueel losbandig, barbaars en mense wat ’n diaboliese godsdiens aanhang”.
Voorhuwelikse seksuele omgang tussen wit mans en slawevroue het dikwels voorgekom, maar die kinders is nie in die burgers se gesinne opgeneem nie, maar in die slawebevolking opgeneem. ’n Man wat met ’n slavin wou trou, moes haar eers by die eienaar koop, maar die meeste van hulle was veels te duur.
Daarby was daar mettertyd al hoe meer (wit) vroue in die samelewing as in die beginjare van die nedersetting. Die kerk was teen die einde van die 18de eeu onmisbaar in die opkoms van endogamie en die sterk posisie wat vroue bereik het. Vroue het die leiding geneem om bevestigde lidmate van die kerk te word. Teen 1770 was 90% van die volwasse wit vroue in die groot gemeente Stellenbosch bevestigde lidmate teenoor net ’n derde van die mans. Om al hierdie redes (genoem deur Giliomee) het dit die norm geword dat ’n wit man wat wou trou, vir hom ’n wit vrou moes vind.
In vorige stukke is reeds gewys op alles wat die Afrikanervroue gedoen het om die boerdery aan die gang te hou terwyl die mans om militêre redes opgeroep is of nadat hul mans oorlede is. In die komende (19de) eeu het hulle ’n belangrike rol tydens die Groot Trek gespeel en later, in die vryheidsoorloë, die mans aangemoedig om te volhard.