AANHITSERS VAN OORLOG
Die vyand was vir die meeste Afrikaners nie die Engelssprekendes as sodanig nie, maar die kapitaliste, mense soos Rhodes en Phillips, wat albei ’n belangrike rol in die Jameson-inval gespeel het. Die kapitaliste het Suid-Afrika reeds ekonomies beheer, en hulle wou dit ook polities beheer en van die Afrikaners knegte maak in hul eie land. Dit was die opvatting van leiers soos pres. Steyn tot koerante soos De Expres en De Volksstem.
Die mynbase Beit, Wernher en Fitzpatrick was inderdaad aanhitsers van oorlog. Die kapitalisme en imperialisme was bondgenote. Die kolonies kon grondstowwe vir die koloniale moondheid lewer, wat weer kapitaal en verwerkte produkte daarheen kon uitvoer. Transvaal met sy goud was ’n begeerlike buit, en bowendien wou Brittanje sorg dat sy vernaamste mededinger, Duitsland, nie Britse belange in Afrika bedreig nie. Die Duitse keiser Wilhelm II, het ná die suksesvolle beëindiging van die Jameson-inval ’n telegram van gelukwensing aan Kruger gestuur. Duitsland het egter besef dat Engeland oppermagtig ter see is en sy vriendelikheid teenoor Transvaal het verkoel. In 1898 het Engeland en Duitsland ’n verdrag oor Portugese kolonies gesluit, wat Transvaal aan Britse genade oorgelaat het.
Die meeste uitlanders was nie van plan om van hul burgerskap afstand te doen nie, maar sommige mynmagnate het seggenskap in die landsbestuur geëis. Hoewel pres. Kruger grootmoedig teenoor die Jameson-invallers opgetree het, het die verhouding tussen die regering en die uitlanders versleg. In Brittanje het ’n Unionistiese (konserwatiewe) regering in Junie 1895 aan bewind gekom en Afrikanerleiers was tereg van mening dat dié regering en veral sy minister van kolonies, Joseph Chamberlain, by die beplanning van die inval betrokke was.
Van 1896 af het die verhouding tussen Engeland en Transvaal al hoe meer gespanne geraak. Daar was ’n gedurige briefwisseling met Chamberlain wat aangehits en gesteun is deur Rhodes en die South African League, ’n nuwe organisasie van die Kaapse vyande van Transvaal. Hulle wou ’n verenigde Suid-Afrika onder die Britse vlag hê, en dit het ingehou dat die republieke vernietig moes word.
Chamberlain het sir Alfred Milner in Mei 1897 aangestel as die Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika. Milner se ideaal was die bevordering van die Britse Ryk. Self het hy verklaar: “I am an imperialist … because I am a British race patriot.” Bo alles wou hy die “heerskappy van Afrikanerdom” breek, soos hy later aan die Kaapse politikus James Molteno gesê het. Milner het ’n stryd met Transvaal probeer uitlok oor elke uitlandergrief. Die belangrikste griewe was dié van die mynmagnate. Hulle het aangevoer dat Kruger se industriële beleid die mynkoste aansienlik verhoog. Dit was veral die geval met die toekenning van industriële konsessies of monopolieë aan bevoorregte persone. Dit het vrye mededinging onmoontlik gemaak. Die toekenning van konsessies vir die vervaardiging van dinamiet en drank asook spoorvervoer was die oorsaak van konstante onenigheid.
Milner het tydens ’n besoek aan Brittanje aan die einde van 1898 deur wanvoorstelling van die toestand in Suid-Afrika die imperialistiese kabinet en die Britse publiek voorberei om oorlog as oplossing van die “Transvaalse vraagstuk” te aanvaar. Milner het, soos ’n historikus dit gestel het, opgetree soos Hitler voor die Tweede Wêreldoorlog. In Mei 1899 het hy in ’n telegram aan Chamberlain verklaar dat duisende Britse onderdane in die ZAR in dieselfde posisie as slawe verkeer – iets wat die reputasie van Brittanje ondermyn.
Terwyl Milner bang was dat Chamberlain dalk minder kragtig teen Transvaal kon optree, het die minister van oorlog, lord Lansdowne, as opperbevelhebber van die Britse troepe in Suid-Afrika iemand gestuur wat oorlog wou keer. Hy was genl. sir William Butler. Met sy aankoms in 1898 het hy sy verbasing uitgespreek oor die wyse waarop die Engelse pers alles wat “Dutch” was, beskimp en belaster. Die stelselmatige verdraaiing van feite en die verspreiding van valse berigte het hy beskou as ’n ontsaglike sindikaat van leuenagtige beriggewing wat doelbewus op oorlog afgestuur het. Agter alles het hy die verderflike invloed van Rhodes bespeur. Rhodes en sy makkers het inderdaad die hele Engelse pers beheers.