AFRIKANER-PLEITBESORGERS VIR SWART MENSE

Die botsing van “basiese instinkte” waarna Cillié verwys, kom ook tot uiting in die houding van Afrikaners teenoor die swart mense in die jare dertig. Aan die een kant het die teenstellings tussen die rasse toe verskerp; baie wit mense het maatreëls geëis teen veral woonbuurt- en sosiale integrasie en bloedvermenging. Tog was daar ook pogings om ’n verandering in gesindheid by Afrikaners teenoor swart en bruin mense teweeg te bring. Die Handhawer, offisiële orgaan van die Handhawersbond, het op 20 Mei 1934 in verband met die swartes gevra: “Watter kultuur gaan hulle ondersteun, Engels of Afrikaans? Is dit nie miskien die plek waar die stryd tussen die blanke kulture besleg sal word nie?” In een van verskeie liberale briewe deur uiteenlopende mense in De/Die Kerkbode en Die Burger, het ds. JLW Hofmeyr op 20 Augustus 1930 in De Kerkbode die vertroue uitgespreek dat openbare sprekers nie ’n woord soos witmansland sal gebruik nie omdat dit die land van sowel die wit as swart mense is, ook nie “kafferboeties” nie – “want wat anders is elkeen wat soek om iets te doen vir sy swart mede-Afrikaners?”

Maar die voorkeur aan rasseskeiding het, soos in die suidelike state van die VSA, oorheers. Ons Vaderland het dikwels woorde van genl. Smuts in 1917 aangehaal dat skeiding nodig is om te verhinder dat ons “ondergaan in die welsand” van Afrika soos ander beskawings wat eenmaal in Afrika gebloei het en waarvan net ruïnes oor is.

Gebiedskeiding is in 1913 die eerste keer wetlik vasgelê in die “Naturellen Grond Wet” (sien 30 Augustus). Die grond was veels te min vir die toenemende swart bevolking; volgens die 1936-sensus was daar 2 003 334 wit, 5 595 597 000 swart en 769 241 bruin mense en 219 691 Indiërs. In 1936 is wetlik meer grond aan swartes beskikbaar gestel. ’n Trust is gestig om dit aan te koop en oor die ontwikkeling toesig te hou. Nog ’n wet is in 1936 moontlik gemaak deur die samewerking tussen Hertzog en Smuts, want laasgenoemde het sulke wetgewing vroeër teengestaan. Deur dié wet is die Kaaplandse swart kiesers op ’n aparte kieserslys geplaas. Hulle kies dan drie wit verteenwoordigers vir die Volksraad en twee in die Kaaplandse provinsiale raad. Verder sou die swartes van die hele Unie indirek vier senatore kon kies deur ’n kieskollege van stamhoofde, plaaslike en adviserende rade. Ten slotte is ’n “Naturelle-Verteenwoordigingsraad” met adviserende magte vir die hele Unie geskep. Die raad het misluk en die eise om politieke regte vir almal het al sterker geword.

Die swart mense het al hoe meer wit pleitbesorgers gekry – een van hulle was die ou taalstryder, FS (Frans) Malan. Hy het in die verenigde vergadering van die Volksraad en Senaat sy toespraak oor die 1936-wet afgesluit met die woorde: “Daar is ’n eenvoudige gulde reël. ‘Doen aan andere wat jy wil hê hulle aan jou moet doen’. Wees regverdig en die res sal vanself reg kom. Geregtigheid verhef ’n nasie, laat ons doen wat reg is vandag, en die toekoms sal vir sigself sorg.” JH (“Kleinjan”) Hofmeyr, was so sterk teen die wet gekant dat hy in die Parlement daarteen gestem het. Hofmeyr, familielid en biograaf van “Onze Jan”, was daarteen omdat dit ’n gevestigde reg was en vervang is deur ’n gekwalifiseerde en minderwaardige burgerskap. “I believe that there is also a rising tide of liberalism in South Africa.”