NAMIBIË WORD ONAFHANKLIK

Omstreeks 1980 het dit nog gelyk of Afrikaans in Namibië onaantasbaar sterk staan. Dit is as onderhandelingstaal gebruik op die Turnhalleberaad oor ’n nuwe bedeling. Een van die senior vennote was die Demokratiese Turnhalle-alliansie (DTA). Daarin het ’n Afrikaner, Dirk Mudge, ’n leidende rol gespeel. Die DTA was naas Swapo, wat nie aan die beraad deelgeneem het nie, die grootste politieke groepering. Een lid van die alliansie was die Republikeinse Party, wat Afrikaans, Engels en Duits as amptelike tale wou hê. Sy mondstuk was Die Republikein wat tans nog bestaan. Die NP-blad, Die Suidwester, is gestaak.

Die kragte wat vir Engels gewerk het, was egter oorweldigend. Swapo het, naas ’n gewapende stryd, ook ’n taalstryd gevoer. Om die bevolking te laat wegbeweeg van Afrikaans is dit gestigmatiseer as die taal van die verdrukker, wat deur die blanke Suid-Afrikaanse regering op Namibiërs afgedwing is. In werklikheid is Afrikaans in die 19de eeu deur bruin en later wit Afrikaanssprekendes ingebring.

Die DTA het ook geswig. Met sy steun het Engels die enigste amptelike taal geword. Die uitsaaiwese is die eerste geraak. Die Afrikaanse nuusuitsendings oor TV is vanaf 1 Junie 1990 afgeskaf. Gou was daar geen Afrikaanse programme oor die TV nie. Verder is die radiodiens in Afrikaans afgeskaal. Talle mense het beswaar daarteen gemaak, maar die uitsaaikorporasie het gesê Engels is die amptelike taal en die radio en televisie moet dié feit weerspieël.

Die administrasie het Afrikaans as onderwysmedium afgeskaf. Van die begin van die 1991-skooljaar af is Engels as die verpligte onderrigmedium vanaf standerd 6 ingevoer. Die regering het ’n “vergunning” gemaak: laerskole sou nog in die moedertaal onderrig. Op minstens een plek het ouers besluit dat, aangesien die kinders in Engels onderrig gaan word, dit van graad 1 af moet gebeur.

Party ouers het kinders na Afrikaanse skole in Suid-Afrika, byvoorbeeld op Upington en Springbok, gestuur. Verder is ’n paar private skole gestig (kyk ook by 24 Desember.). Die verengelsing het tot gevolg gehad dat die ministerie van onderwys derduisende nuwe en bruikbare Afrikaanse skoolboeke ter waarde van R12 miljoen tot niet gemaak het.

Die taal van die geregshowe was Engels, hoewel dit die beleid is dat tolke verskaf word vir diegene wat ’n ander taal verkies.

Heelparty Namibiese Afrikaners het nie saamgestem met die houding en taalbeleid van hul leiers nie. Iemand het in 1992 geskryf: “Ons gewone ouens het met verstomde verwondering gesit en kyk en veral geluister wat doen en sê ons ‘leiers’. Hulle doen niks. Hulle sprak geen sprook. Hulle is besig met versoening. Engels, wordende die amptelike taal, is deel van versoening.” Die skrywer sê dat daar “gekruip” is en vervolg: “Daar is een ding wat maak dat ’n mens glad nie meer Engels kan praat nie: die dag as jy aan ’n vriend, gewese Broederbonder, ’n pak biltong gee en hy gee dit dieselfde aand aan die streekkommissaris van Swapo.”