11 JANUARIE
GEBEURE
1772 – TA Theron se langdurige stryd om ouderlingsamp
Op ’n kerkraadsvergadering van die Drakensteinse gemeente is ’n besluit van die Politieke Raad aan Tielman Roos, Pieter Cilliers, Jan Nieuwoudt en Pieter le Riche voorgelees, dat hulle daarin moet berus dat Thomas Arnoldus Theron wel as ouderling mag dien. Hy is reeds in 1770 in die amp verkies, maar daar is beswaar aangeteken. Die saak is herhaaldelik terugverwys en uiteindelik is die vier klaers onder sensuur geplaas, omdat hulle nie die besluit van die Politieke Raad wou berus nie. Die bitterheid in die gemeente het toe drasties vererger; siviele aksies het byna-byna gevolg, en ook die Klassis van Amsterdam het betrokke geraak, sodat die rusie naderhand ook om die predikant gewentel het. Die kerklike lewe het ernstig daaronder gely. Op 9 April 1781 het ds. Van der Spuy eervolle ontslag van die regering ontvang en hom op Stellenbosch gaan vestig. Die onrus in Drakenstein het nogtans voortgeduur, en dit was eers in 1784, toe RN Aling, as jong leraar, deur sy voorbeeld en versoenende optrede die geskil bygelê het. Interessant genoeg, was een van die persone wat weer die kerk na ds. Van der Spuy se vertrek besoek het, die heer Jacobus Retief, die vader van Piet Retief, toe hy die kindjie op 3 Mei 1781 ten doop gebring het.
1879 – Die Anglo-Zoeloeoorlog breek uit
1887 – FW Reitz word tot president van die Vrystaat verkies
1948 – Hennenman is as dorp geproklameer
Hennenman is op hierdie dag as dorp geproklameer. Die dorp is vernoem na die oorspronklike eienaar Petrus Ferdinand Hennenman. Dit was voorheen bekend as Venterburgweg. Die huidige naamsverandering het geskied op die 25ste Mei 1927. Pertrus Hennenman was ’n dapper burger van die Oranje-Vrystaat, en was teenwoordig die dag toe Kmdt. Louw Wepener by Thaba Bosigo gesneuwel het. Hy word ook onthou as agtingswaardige Boer in die distrik, wat nie geskroom het om ander te help nie.
GEBOORTES
1875 – Dr. Charles Robert (Charlie) Louw, ekonoom († 19 September 1970)
Charles Robert Louw is op hierdie dag op Murraysburg gebore as die jongste van sewe seuns van wyle ds. AA Louw van Noorder-Paarl. Sy moeder was ’n nooi Murray, suster van dokter Andrew Murray. Na voltooiing van sy studie aan die Paarlse Gimnasium en op Stellenbosch, is hy na Transvaal waar hy sy klerkskap as ingeskrewe prokureursklerk in Pretoria voltooi het. Nadat hy hom op Ermelo gevestig het verhuis hy in 1916 met sy gesin na Kaapstad. Hier het CR Louw hom vir die uitbou van verskeie Afrikaanse sake-ondernemings beywer. Hy was een van die stigters en oprigters van Santam en Sanlam en het later ook hierdie maatskappy as voorsitter gedien. Verder was hy ook gemoeid met die oprigting van Federale Volksbeleggings en ander maatskappye in die Federale groep. CR Louw het hom nie slegs beywer om Afrikaans ’n prominente aandeel in die sakewêreld te gee nie, maar het ook op ander terreine van die samelewing waardevolle gemeenskapsdiens gelewer. Reeds in 1916 beywer hy hom vir die oprigting van ’n Afrikaanse skool aan die Kaap, en dit was grootliks aan sy ondernemingsgees te danke dat daar ’n begin gemaak is met ’n Afrikaanse klas van vyf kinders, wat later tot die bekende Jan van Riebeeckskool ontwikkel het.
1878 – Paul Christiaan de Groot, akteur († 10 Mei 1940)
Paul de Groot word deur talle beskou as die vader van die Afrikaanse toneelkuns. Hy was ’n beroepsakteur wat in die vroeë dae van die professionele rondreisende toneelgeselskappe ’n belangrike groot rol gespeel het in die vestiging van ’n professionele Afrikaanse beroepsteaterkultuur.
1903 – Alan Stewart Paton, skrywer en politikus († 12 April 1988)
Alan Stewart Paton, die skrywer van Cry, the beloved country (1948), is gebore in Pietermaritzburg. Hy is ook stigter en later President van die Liberale Party in Suid-Afrika.
1911 – Philippus Jacobus Olivier, staatsman en goewerneur van Kaapland († 27 Maart 1958)
STERFTES
1952 – Hendrik Andries Hanekom, baanbreker van Afrikaanse toneel (* 17 Julie 1896)
Hendrik Andries Hanekom, op 17 Julie 1896 op Beaufort-Wes gebore, was een van die eerste Afrikaners wat ’n heeltydse toneelspeler geword het. Hy en sy eggenote, Mathilde, word allerweë beskou as van die belangrikste baanbrekers op die gebied van die Afrikaanse beroepstoneel. In 1925 het Hendrik sy werk as stadsklerk op Lydenburg laat vaar en het hy en Mathilde ’n toneelgroep gestig. Hulle eerste opvoering van Oom Gawerjal se dogters en die stemregkoors het op 16 September 1925 op Premiermyn plaasgevind. Daarna het hulle die lang pad gevat en meer as 25 jaar lank alle uithoeke van ons land besoek met toneelstukke soos Oorskotjie, Die uur van vergelding, Die Silwer-koning, Onskuldig veroordeel, Oom Paul, Generaal De Wet, Hans die Skipper, Ds. Snuffelaar en Die stille haard. Oom Paul was ongetwyfeld hulle grootste sukses. In die opvoering het Hendrik ’n grootse vertolking van die Presidentfiguur gelewer, en die stuk is byna drie jaar lank dwarsdeur die Republiek en Suidwes-Afrika voor geesdriftige gehore opgevoer. Hulle bydrae tot die Afrikaanse toneel word in 1945 beloon toe die eerste Erepenning vir Toneel deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan die egpaar toegeken is. Hendrik Hanekom het in 1937 ook deelgeneem aan Tamboere in die nag, die eerste vervolgverhaal wat in Afrikaans deur die SAUK uitgesaai is. Hulle was albei lede van die Nasionale Toneelorganisasie in die jare 1948 tot 1950, en Hendrik sal veral onthou word vir sy rol as Just, die Jobsfiguur in Nag het die wind gebring en die beminlike ou speurder in Oupa Brompie, wat in hierdie tyd deur die geselskap opgevoer is. Terwyl hy in 1951 besig was met die instudering van Die Koopman van Venesië waarin hy die rol van Shylock sou vertolk, het Hendrik Hanekom siek geword, en hy is in die Strand oorlede. Met sy dood is die Hanekom-geselskap ontbind, maar Mathilde het tot 1966 voortgegaan om af en toe vir Nasionale Toneel en die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste te speel. Sy is op 29 Desember 1976 in Pretoria oorlede.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.