VAN LUGBRUG TOT VOLKSFEES

Die hoofkenmerk van die internasionale politiek ná die Tweede Wêreldoorlog was die “koue oorlog” tussen die kommunistiese Sowjet-blok en die Weste. Suid-Afrika het die Weste gesteun. Een van die eerste dade van die bewind was om hulp aan te bied met die Berlynse lugbrug. Die Russe, wat Oos-Duitsland beset het, het ’n blokkade van Wes-Berlyn ingestel om die Westerse moondhede daar uit te druk. Die enigste roete was dié deur die lug. ’n Afdeling van die SA Lugmag het deelgeneem aan die lugbrug totdat Rusland die blokkade in Mei 1949 opgehef het.

Suid-Afrikaanse vlieëniers het in Korea gaan veg nadat leërs van die Kommunistiese Noord-Korea in 1950 ’n inval gedoen het in Suid-Korea. Die VSA het met die goedkeuring van die VN ingegryp, en oproepe om hulp is op ander lidstate van die VN gedoen. Daarop het Suid-Afrika ’n Lugmageskader met ’n personeel van 200 gestuur, deels ook om weer vir die Weste aanvaarbaar te word.

Die Verdedigingsmag was intussen ’n deel van die staatsapparaat waarvan die karakter al hoe meer beïnvloed is deur die regering se taalbeleid. Die militêre lewe het in die Tweede Wêreldoorlog ’n sterk Engelse gees gekry, maar nou is daar ook plek ingeruim vir Afrikaners en Afrikaans. Nuwe uniforms en rangtekens is ontwerp. Tweetaligheid is streng toegepas. ’n Krygstaalraad het Afrikaanse tegnies-militêre terme geskep. Ook elders in die staatsdiens is die taalregte van Afrikaanstaliges ná jare van onverskilligheid en vyandigheid in ere herstel. Die tweetaligheidsvereiste is strenger toegepas, en dit het die tweetalige Afrikaners in baie gevalle sterker bevoordeel as die minder tweetalige Engelstaliges. So kon Afrikaans ná jare van agterstelling weer vorder.

Twee feeste van dié jare het veral die Afrikaanse nasionalisme gestimuleer. Die eerste was die inwyding van die Voortrekkermonument. Op 16 Desember 1949 was daar tussen 150 000 en 250 mense byeen – die grootste skare in die land tot dié stadium. Rapportryers het op vyftien roetes van dorp tot dorp gery en boodskappe van die gemeenskappe na die inwydingsfees gebring. In Maart en April 1952 is die Van Riebeeckfees gevier. Daarmee is die koms van Van Riebeeck in 1652 herdenk. Plaaslike feeste oor die hele land het die weg voorberei vir die sentrale viering in Kaapstad. Poskoetse, getrek deur spanne perde, is van oor die hele land na Kaapstad. Die feestelikhede het ’n paar weke geduur: onder meer ’n groot skou op ’n terrein van 25 morg, ’n optog van 24 000 seuns en dogters deur die spesiaal geboude stadion, ’n groot volkspelevertoning en ’n simboliese landing van Van Riebeeck. In Februarie 1954 is die totstandkoming van die republiek van die Oranje-Vrystaat in 1854 gevier. Vroeg die volgende jaar (3 Januarie 1955) is die Vrystaatse presidentsvrou, mev. Rachel Isabella (Tibbie) Steyn, oorlede. Op aandrang van dr. Malan is sy by haar man aan die voet van die Nasionale Vrouemonument te ruste gelê.

Afrikanernasionalisme is deur Die Burger, Volksblad, Transvaler en Vaderland uitgedra. Die Volkstem en Suiderstem het die neerlaag van hul party, die Verenigde Party, nie lank oorleef nie. Hulle het verdwyn, soos De Zuidafrikaan, verenigd met Ons Land, op sy honderdste verjaarsdag op 9 April 1930, omdat die Afrikaners hul kulturele beleid verwerp het. Die Nasionale koerante het egter tot in die jare 50 swaargekry. Die Volksblad is lank teen ’n verlies uitgegee. In Augustus 1953 het die wins darem een pennie bedra! Nogtans was dit die eerste Afrikaanse dagblad wat ’n Engelse mededinger sirkulasiegewys kon klop in sy streek. Hy het The Friend in 1950 verbygesteek. (The Friend is in 1985 gestaak.)

Hoewel nog nasionaalgesind, was Afrikaanse joernaliste nie meer so openlik Nasionalisties as vroeëre redakteurs wat eintlik openbare figure was nie, soos DF Malan van Die Burger en AJR van Rhyn van Die Volksblad. ’n Burger-grootbaas, dr. Phil Weber, maak in sy korrespondensie met WEG Louw (oor laasgenoemde se aanstelling as kunsredakteur) op 6 Junie 1957 die opmerking dat Louw van sy nuwe kollegas sal hou. Die meeste van hulle sou in ander werkkringe meer kon verdien vir aansienlik minder werk, “maar hulle bly Burger-manne omdat hulle meen dat hulle ons volk deur Die Burger kan dien. Daaroor word egter selde gepraat en dan gewoonlik slegs in spottende sin.”