SIMON VAN DER STEL AS BRUIN ROLMODEL

“Ons volk was baie verlate,/ Van vele min geag,/ Hul kyk nou dieper in sake,/ En lees wat ons vermag”. So lui ’n strofe van ’n vers, “Ons ‘Son’”, wat op 13 April 1934 geplaas is in The Sun. Dit was ’n lofgedig vir dié weekblad as “bron van lig en lewe”, wat “skyn oor ons kleurling volk”. The Sun het van 1932 tot 1956 verskyn. Die vers was in daardie jare een van die min Afrikaanse bydraes. The Sun was sterk teen die 1936-wetgewing oor die swartes, en veral die skeidingsbeleid van die Gesuiwerdes. Die blad het trots by bruin lesers probeer wek deur te wys op die prestasies van mense wat nie wit was nie. ’n Hoofberig op 7 September 1934 is gewy aan “revolusionêre historiese feite” dat Simon van der Stel en Willem Adriaan van der Stel in werklikheid kleurlinge was. Op 21 Augustus 1936 is ’n lang artikel van KM Jeffreys geplaas onder die veelseggende opskrifte: “Simon van der Stel was a Man of Mixed Blood/Coloured family who left a noble heritage.” (Soos vermeld op 11 en 15 Januarie was Simon se moeder inderdaad die dogter van ’n Nederlandse seekaptein en ’n inboorlingvrou van die Ooste.) Die Kleurlingleier Abdullah Abdurrahman, wat hoogs krities was teenoor die Voortrekkers, het op 23 Desember 1938 dit betreur dat met die herdenking van die Groot Trek geen melding gemaak is van die baie bruin mense wat lojaal aan die kant van die Trekkers gestaan het nie.

Dikwels het The Sun berigte geplaas oor onreg wat blankes elders teen swartes pleeg. Baie aandag is veral aan die Amerikaanse swart bevolking gegee. Op 31 Julie 1936 het John Gomes ’n artikel gehad oor die les wat die National Negro Congress vir Suid-Afrikaanse nie-blankes inhou. Dit was “the greatest achievement yet in the history of the Negro in the United States”.

Dit was te verstaan dat die Gesuiwerdes wat ten gunste was van aparte kieserslyste en skeiding, nie steun van die bruin mense sou kry nie. In 1929 was daar al soveel bruin kiesers dat hulle in tien van die 53 Kaaplandse kiesafdelings kon bepaal wie wen. Wit kandidate het openlik om bruin steun gewedywer. Daar was in 1924 ’n mate van bruin steun vir genl. Hertzog. Die “Kleurling-komitee” van Swellendam het laat weet dat die Nasionale Party die enigste party is wat werklik simpatiek teenoor die kleurling staan. Tog kon Smuts ’n spesiale “word of praise” rig aan “our coloured friends who stood by us”. Voor 1924 het Hertzog meermale laat blyk dat bruin en wit mense dieselfde politieke en ekonomiese regte moet geniet. Voor die Vrystaatse NP het hy op 13 Oktober 1921 gesê die bruin mense “is deel van ons”, en ook: “Ons kan die stemreg van die Kleurlinge nie weerhou nie. Ons wil hulle eerlik behandel en hulle as ons vriende behou.” Ook dr. DF Malan en Die Burger was ten gunste van politieke regte vir bruin mense.

Ná 1924 het Hertzog en Malan voorstanders van gelyke regte vir wit en bruin gebly, en het dit in die openbaar gesê. Die Afrikaanse nasionalisme was dus taamlik breeddenkend oor bruin mense, maar die wedywering om steun van kiesers het miskien tot hierdie liberale houding bygedra, soos trouens ook by die SAP-leiers. Die Kaaplandse NP-kongres het die regering in 1932 gevra om die wenslikheid van aparte kiesafdelings vir wit en bruin te oorweeg. Daarmee wou die kongres dus ’n einde maak aan ’n toestand wat sedert 1854 bestaan het. Dit is nie vreemd dat die bruin mense so ’n party nie sou steun nie. Die gedagte van rasseskeiding het veld gewen in die 1930’s en 1940’s. Die toestand in die agterbuurte was haglik. Tussen dié situasie en onbeteuelde rasse-integrasie was daar vir baie mense ’n noue verband.

Die grootste bruin politikus van dié tyd en teenstander van die NP-beleid was die reeds gemelde dr. Abdullah Abdurrahman (1872-1940), ’n medikus, wat van 1904 af tot met sy dood met slegs twee jaar onderbreking lid van die Kaapstadse stadsraad was en sedert 1914 lid van die Kaaplandse provinsiale raad – eers as Unionis, daarna as SAP- en VP-lid). Hy het in 1905 voorsitter geword van die APO (African People’s Organization), ’n organisasie vir bruin belange, wat hom beywer het vir die uitbreiding van politieke en wetlike regte van die Kaapkolonie se bruin mense na die Vrystaat en Transvaal. In 1909 was hy lid van ’n deputasie wat die Britse regering vergeefs probeer oortuig het om klousules te verwyder wat die kleurslagboom in die Unie-grondwet sou vestig. Hy was redakteur van die APO-lyfblad, A.P.O., wat van 1909 tot in die vroeë jare 20 verskyn het. Daarin maak hy soms bitter negatiewe uitsprake oor die noordelike Afrikaners en Afrikaans. Tog gebruik hy onder die skuilnaam Piet Uithalder Afrikaans vir sy politieke rubrieke. Een van sy dogters, Zissy Gool, het eweneens ’n groot rol in die Kaapse munisipale sake gespeel.