11 SEPTEMBER

GEBEURE

1900 Kruger trek die grens by Komatipoort oor na Lourenço Marques

Op 29 Mei 1900 het Paul Kruger in die ampswoning sy vrou, Gezina, vir die laaste keer gegroet. Dieselfde aand is hy per perdewa na Eerste Fabrieke, waar die trein na Oos-Transvaal gehaal is. Die geselskap wou moontlike onsmaaklikhede op die Pretoria-stasie vermy – daarom die reëling. Na ’n kort verblyf op Machadodorp is Kruger na Waterval-Onder, want die koue klimaat het sy neerslagtigheid, verswakte oë en gesondheid verder aangetas. Teen vroeg-Junie het hy weer moed begin skep en sy burgers tot die stryd aangemoedig. In Augustus het hy en pres. Steyn by Waterval-Onder die verswakkende situasie bespreek. Digby Dalmanutha het Louis Botha ’n laaste stellinggeveg teen die Britte gevoer. Voortaan sou ’n guerrilla-stryd word. Op 28 Augustus het Kruger en Steyn na Nelspruit verhuis, maar op 3 September het Kruger lord Roberts se proklamasie dat die ZAR Britse gebied is, volledig verwerp. Nogtans is besluit dat Kruger, wat oud was en swaar beweeg het, ter wille van die Boere-eer nie in die vyand se hande moet val nie. Daarby moes hy die Boeresaak in Europa gaan stel. Hy het dus nie gevlug nie, maar ’n opdrag gaan uitvoer en ’n oogoperasie ondergaan. By Hectorspruit het hy en Steyn mekaar gegroet. Op 11 September 1900 het Kruger by Komatipoort die grens na Lourenço Marques (Maputo) oorgesteek. Hy sou nooit weer op vaderlandse bodem loop nie.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Krygswet word in Transvaal verklaar

1900 – Anglo-Boereoorlog

Genl. Schalk W Burger word in Paul Kruger se afwesigheid as Waarnemende Staatspresident aangestel.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Malopo-oog, Tvl

1914 – Afrikanerrebellie

Die parlementêre debat duur steeds voort. Jan Kemp besoek CF Beyers in Pretoria. Hulle kom ooreen dat Kemp ook sal bedank as die parlement die voorgenome inval in Duitswes goedkeur.

1928 – Afrikaans in amptelike dokument

Afrikaans word vir die heel eerste keer in ’n amptelike dokument gebruik tydens die Konferensie van Mosambiek in Pretoria.

1964 – Die Junior Rapportryersbeweging gestig

Die ontstaan van die Beweging is te danke aan Hennie Roux, wat die rapportryergedagte na die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949 wou laat voortleef in sosiale klubs of korpse. In 1959 is in Pretoria die eerste Junior Rapportryerskorps gestig. Dit was egter eers op 11 September 1964 dat die Federasie van Junior Rapportryerskorpse tot stand gekom het. Deur die jare is stelselmatig wegbeweeg van die outonomie van korpse, en in 1978 het die federale karakter plek gemaak vir ’n ledeorganisasie. Die doelstellings van die Junior Rapportryersbeweging kan as volg saamgevat word: Die handhawing, uitlewing en bevordering van die Afrikaanse kultuur; die bevordering van nadere kennismaking onder jong Afrikaners en ’n samehorigheidsgevoel onder alle Afrikaners. Aangesien die Junior Rapportryersbeweging ’n kulturele diensorganisasie is, word diens oor ’n breë terrein gelewer, onder meer die reël van volksfeeste, fondsinsamelingsveldtogte vir verdienstelike sake, ’n debatkompetisie, jeugleierkursusse en kleuterkunsuitstallings. Lidmaatskap van die Beweging word op uitnodiging verleen aan alle blanke Afrikaanssprekende mans in die ouderdomsgroep 18 tot 35 jaar, wat die Grondwet van die Beweging onderskryf en hulle daarmee vereenselwig.

1965 – Die Genootskap van Rhodesiese Afrikaners (GRA) gestig

Die Afrikaanse Kultuurunie van Rhodesië (AKUR) het tientalle jare lank die Afrikaner se kultuurorganisasies en kerke in Rhodesië saamgesnoer. Met die laaste AKUR-kongres in 1963 is besluit om jaarliks ’n volkskongres te hou en al meer klem is gelê op ’n koördinerende liggaam waarby kultuurorganisasies kan affilieer, maar wat veral ook lede moes werf om die Rhodesiese Afrikaners op ’n wyer vlak saam te snoer. Die gedagte het werklikheid geword toe die Genootskap van Rhodesiese Afrikaners (GRA) by die tweede volkskongres op 10 en 11 September 1965 met ’n eenparige besluit tot stand gekom het. Die vernaamste doelstellinge van die GRA is die handhawing en die bevordering van die Afrikaanse taal, en die beskerming en uitbouing van ’n eie Afrikaanse kultuur, gegrond op die Calvinistiese godsdiens en tradisies van die Afrikaner.

2008 – Eerste uitgawe van Tempo

Die eerste uitgawe van die onafhanklike weekblad vir die Weskusstreek, Tempo, verskyn op Vredendal.

GEBOORTES

1873 – Nicolaas Jacobus de Wet, politikus, waarnemende goewerneur-generaal en hoofregter († 16 Maart 1960)

Nicolaas Jacobus de Wet was ’n Suid-Afrikaanse kabinetsminister, hoofregter, waarnemende goewerneur-generaal en van 1943 tot 1951 kanselier van die Universiteit van Suid-Afrika.

1926 – Gerrit van Niekerk Viljoen, kabinetsminister en eerste rektor van die Randse Afrikaanse Universiteit († 29 Maart 2009)

Gerrit Viljoen was ’n kabinetsminister en lid van die Nasionale Party. Hy was die voorsitter van die Broederbond vanaf 1974 tot 1980, administrateur van Suidwes-Afrika van 1978 tot 1980 en kabinetsminister tot 1992.

STERFTES

1950 – Jan Christian (Jan) Smuts, Boeregeneraal, politikus en staatsman, Eerste Minister van Suid-Afrika (* 24 Mei 1870)

Jan Christiaan Smuts is op Boplaas, Riebeeck-Kasteel gebore. Ons het hier die mees omstrede figuur in die Suid-Afrikaanse politiek. ’n Mensegeslag na sy dood bespreek politieke kenners nog sy betekenis in ons geskiedenis. Ongetwyfeld een van die slimste Afrikaners en van die veelsydigste, het hy sy bynaam Slim Jannie egter nie soseer aan sy intellektuele bekwaamheid te danke nie, as aan sy aangepaste politiek.
Sy lewe is verdeelbaar in twee gelyke, indien geheel uiteenlopende dele: die eerste 40 jaar tussen 1870 en 1910 as Afrikaner-patriot sonder weerga, raadgewer en vertroueling van pres. Paul Kruger, Boeregeneraal van vermaardheid, medestigter van die eerste Afrikaanse politieke party in Transvaal en argitek van die Unie van Suid-Afrika.
In die tweede deel, tussen 1910 en 1950 as onderdrukker van die Rebellie van sy eie mense en die opstand by die myne, as vername deelnemer aan die wêreldpolitiek; eers as lid van die Britse Oorlogskabinet, as Britse generaal en afgevaardigde na die Paryse Vredeskonferensie, toe as medestigter van die Britse Gemenebes, later as veldmaarskalk en raadgewer van die Geallieerdes in die Tweede Wêreldoorlog en eindelik as mede-oprigter van die Volkebond en in laaste instansie die Verenigde Volke-organisasie.
Jan Smuts se grootste tekortkoming uit die eie standpunt was nie ’n gebrek aan liefde vir die Afrikaner nie, maar vervreemding van sy strewe. Hoewel hy enduit Afrikaans in sy huis gehandhaaf het, het hy weinig belangstelling vir die taal of kultuur van die Afrikaner geopenbaar. Die volksvervreemding het op die ou end in 1948 sy politieke ondergang bewerkstellig en hom in sy laaste dae groot ontnugtering en selfs verbittering op die hals gehaal.
Die hoë onderskeiding wat hy oorsee in meer as twee mensegeslagte geniet en die roem wat hy veral in oorlogstyd verwerf het, het nie vir die laaste leegheid vergoed nie. Daar word dikwels beweer dat Smuts se talente te groot vir sy eie klein landjie was. Stellig was die buitelandse erkenning en aanwending daarvan verantwoordelik vir sy opsyskuiwing van Suid-Afrikaanse probleme.
Sy kritici meen dat sy bydrae tot die oplossing van Suid-Afrika se vraagstukke, ook dié van die verskillende rasse, na verhouding klein was. Tog het sy liefde vir die Suid-Afrikaanse nasie en bodem tot aan sy dood op 12 September 1950 sy innigste besieling gebly.

1993 – Esmé Euvrard, radio-omroepster en aktrise (* 19 Mei 1919)

Esmé Euvrard was ’n legendariese Afrikaanse radio-omroeper en aktrise.

Sy het veral bekendheid verwerf vir die program 𝘚𝘰 𝘮𝘢𝘢𝘬 𝘮𝘦𝘯𝘴, wat sy jare lank op Springbok Radio saam met Jan Cronjé aangebied het. Die program is aanvanklik in Engels as 𝘛𝘩𝘪𝘴 𝘪𝘴 𝘩𝘰𝘸 uitgesaai en eers later in Afrikaans. Daarby was sy die aanbieder van die program 𝘚𝘱𝘳𝘪𝘯𝘨𝘣𝘰𝘬 𝘙𝘦𝘯𝘥𝘦𝘻𝘷𝘰𝘶𝘴, waarin sy versoeke vir die manne in uniform uitgesaai het, en Esmé se musiekalbum, wat Sondagaande uitgesaai is. Op die Afrikaanse radiodiens van die SAUK het sy die versoekprogram 𝘈𝘢𝘯 𝘥𝘪𝘦 𝘱𝘢𝘴𝘪𝘦̈𝘯𝘵𝘦 aangebied. Sy het ook bekendheid verwerf vir haar Punch-waspoeieradvertensies.

As aktrise het sy in vyf rolprente opgetree, naamlik 𝘔𝘢𝘯 𝘪𝘯 𝘥𝘪𝘦 𝘥𝘰𝘯𝘬𝘦𝘳, 𝘝𝘳𝘰𝘭𝘪𝘬𝘦 𝘝𝘳𝘺𝘥𝘢𝘨 𝘥𝘪𝘦 13𝘥𝘦, 𝘚𝘵𝘢𝘥𝘪𝘨 𝘰𝘰𝘳 𝘥𝘪𝘦 𝘬𝘭𝘪𝘱𝘱𝘦, 𝘔𝘢𝘫𝘶𝘣𝘢: 𝘩𝘦𝘶𝘸𝘦𝘭 𝘷𝘢𝘯 𝘥𝘶𝘪𝘸𝘦 en laastens 𝘞𝘰𝘭𝘩𝘢𝘢𝘳𝘴𝘵𝘰𝘳𝘪𝘦𝘴. Sy is al veral ook onthou word vir haar rol teenoor Dana Niehaus in 𝘕𝘦𝘵 ’𝘯 𝘣𝘪𝘦𝘵𝘫𝘪𝘦 𝘭𝘪𝘦𝘧𝘥𝘦, een van die heel eerste Afrikaanse televisiereekse.

Sy was getroud met die Portugees-gebore flamenco-kitaarspeler Gilberto Bonegio en toe die Mercedes Molina Spanish Dance Company in 1958 gestig is, het hulle deel daarvan geword. Gilberto is in 1964 oorlede.

Esmé is op 11 September 1993 in die ouderdom van 74 oorlede en op 26 Januarie 2020 is sy as lewende legende by die Suid-Afrikaanse legendesmuseum ingesluit.

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/