AFRIKANERS IN OPSTAND TEEN DIE ESTABLISHMENT

Hoe nader aan die einde van die ou bedeling, hoe skerper was die kritiek op en opstandigheid teen die bewind. Aktief in die pogings om die land te verander, was die Instituut vir ’n Demokratiese Alternatief vir Suid-Afrika (Idasa). Dis gestig deur dr. Alex Boraine en dr. Frederik van Zyl Slabbert, wat in 1986 onverwags as parlementslid en leier van die Progressiewe Federale Party bedank het. In 1987 was hulle twee deel van ’n groep, meestal Afrikaners, wat in Dakar openlik met die ANC gaan praat het.

Dit het groot opspraak verwek toe sowat veertig Afrikaanse skrywers in Julie 1989 saam met ’n afvaardiging van die ANC, onder andere Breyten Breytenbach, by die Victoria-waterval in Zambië beraadslaag het. Die skrywers het ’n ANC-dokument van steun aan die akademiese en kulturele boikot verwelkom. Hulle sou hulle vir die wettiging van die ANC beywer, en het ’n beroep gedoen op alle skrywers en “kulturele werkers wat hulleself binne staats- en ander establishment-strukture bevind, om hul teenwoordigheid te gebruik om die doelwitte van die breë demokratiese beweging te bereik.”

’n Nuwe Afrikaanse koerant wat vergrype van individue in die veiligheidsmagte onthul het, was Vrye Weekblad, gestig deur ’n gewese Naspers-joernalis, Max du Preez. Die eerste uitgawe het op 4 November 1988 verskyn. Volgens Du Preez onthou baie mense die blad as “’n wonderlike bevrydende gebeurtenis vir die Afrikaanse taal”. Vir Afrikaners wat hulleself beskou het as “alternatief” of “progressief” was die blad verruimend. Op 17 November 1989 het Vrye Weekblad op die voorblad die opskrif gehad: “Bloedspoor van die SAP” by ’n foto van kaptein Dirk Coetzee. “Hy vertel eksklusief die volle grusame verhaal van politieke sluipmoorde, gifkelkies, buitelandse bomaanvalle en briefbomme.”

In hierdie opstandige laat tagtigerjare het die Voëlvry-beweging ontstaan. Die bekendste name wat hiermee verbind word, is Johannes Kerkorrel (Ralph Rabie) en Koos Kombuis (André du Toit / André Letoit). Die Voëlvry-musikante het byna almal uit middelklas-families gekom, en het tersiêre onderrig ontvang, net soos baie protesmusikante van die 1960’s in Europa en Amerika.

Hierdie “alternatiewe” musikante het Afrikaneridentiteit bevraagteken, maar nie verwerp nie. Anti-establishment en anti-Afrikaner kon soms tydelik oorslaan na anti-Afrikaans. Die latere Hertzogpryswenner Deon Opperman het in ’n TV-program verklaar dat hy sommige dramas in Engels geskryf het uit weersin teen die Afrikanerregering en die grensoorlog. Alleen die ATKV se ruim vergoeding vir Kampus-toneelstukke het daartoe bygedra dat sy Môre is ’n lang dag in Afrikaans geskryf is; hy het die geld nodig gehad vir ’n verloofring!

’n Goeie karakterisering van die gevoelens van baie Afrikaners is dié van Chris Louw, ’n joernalis en in 1987 een van die Dakargangers. Hy het in ’n e-pos aan Hermann Giliomee geskryf dat hy eers later besef het hoe naïef hy (en ’n mens kan aanneem party ander) was. Daar was ’n soort bravade onder die jong Afrikaners, wat moeg daarvan was om as onbuigsame rassiste gestereotipeer te word. Hulle wou toon “ons is nie almal só nie” – wat ’n verwysing is na Jeanne Goosen se roman met dié titel. Hulle was meer geïnteresseerd daarin om met hul dade en woorde die verskil te wys en so stereotipes te vernietig, as om die ANC intellektueel te konfronteer. Hulle wou wys dat hulle selfs meer Afrikaan was as die ANC, en in dié opsig het die vergadering vir hulle meer gegaan oor die simboliese aard daarvan as om die substansie. “Ons was so verskriklik skaam oor ons regering, PW Botha se boerse gedrag, die deurmekaarspul van die NP-beleid dat ons geswig het vir die versoeking om die kant van die ANC en sy ideologie te kies en in dié gees enige verwysing na minderheids- of groepregte verwerp as kodetaal vir steun aan die NP.”