
12 DESEMBER
GEBEURE
1859 – MW Pretorius word as Staatspresident van die Oranje-Vrystaat verkies
1885 – Die eerste goudstampers aan die Rand gebruik
GEBOORTES
1750 – Lady Anne Barnard, die vrou van die koloniale sekretaris Andrew Barnard en ’n kroniekskrywer van die daaglikse lewe in die kolonie in ’n reeks briewe († 6 Mei 1825)
Lady Anne Barnard was ’n Skotse digteres en brieweskryfster. Lady Anne Barnard was een van die ou Kaap se mees omstrede vroue en het baie gedoen om die verskillende bevolkingsgroepe, ná die Britse besetting van die Kaap in 1795, nader aan mekaar te bring.
1862 – Prof. Jan Kamp, skrywer, literêre kritikus en redakteur van Het Westen († 25 Julie 1924)
Hy is op 12 Desember 1862 in Enschede, Nederland, gebore. In 1897 verhuis hy na Suid-Afrika, waar hy in Rustenburg hoofonderwyser word. In die Anglo-Boereoorlog werp hy sy lot by die Boere in en veg tot die einde van die oorlog. In 1905 word hy aangestel in die literariese departement van die Gereformeerde Kerk se Teologiese Skool op Potchefstroom. As literêre kritikus, redakteur van Het Westen en hoogleraar in Nederlands aan die Potchefstroomse Universiteitskollege, het hy met sy koersvaste Calvinistiese oortuigings leiding in die volkslewe, kultuur en die politiek gegee.
1877 – Nicolaas Claasen Rautenbach, pionier en Boerekryger
Nicolaas Claasen Rautenbach was een van elf kinders van pionierouers wat hulle in die Vryburgse distrik gevestig het. As 22-jarige Kapenaar het hy hom in 1899 by die Boeremagte aangesluit. Op 3 September 1901 is hy gevang. Hy is verder daarvan beskuldig dat hy Britse eiendom sou gesteel het – veertien donkies en ’n aantal dum-dum-koeëls. Hieroor is hy later die doodstraf opgelê en is hy sommer die volgende oggend reeds opgehang. Sy moeder en ’n ouderling kon die vorige aand ’n rukkie met hom gesels. Hy het berus en sy lewe blymoedig vir sy volk afgelê. Met vaste tred en ’n glimlag het hy op die valdeur gaan staan. Op bevel van die Britse leër, was talle inwoners van die dorp verplig om die openbare teregstelling by te woon.
1909 – Rosa Sophia Cornelia (Rosa) Nepgen, komponis van Afrikaanse liedere en kerkmusiek († 14 Februarie 2000)
Rosa Nepgen was ’n Suid-Afrikaanse komponis, wat hoofsaaklik die werk van haar man, prof. WEG Louw, getoonset het. Sy was daarby ook ’n kerkorrelis wat veral die Geneefse psalmwysies bestudeer het en het ook gedigte van die Italiaanse digter Eugenio Montale in Afrikaans vertaal. Sy is op 14 Februarie 2000 oorlede.
1915 – Freda Linde, skrywer en vertaler van kinderboeke († 7 Maart 2013)
Freda Linde was ’n Suid-Afrikaanse skrywer en vertaler van kinderboeke. Sy het hoofsaaklik in Afrikaans geskryf en het meer as 150 kinderboeke in Afrikaans, Frans en Duits vertaal.
STERFTES
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.