ANNELIE BOTES (1957-2024)
Annelie Botes was ’n Afrikaanse skrywer van rubrieke, kortverhale en romans.
Sy is as Annelie Basson op 28 Junie 1957 op die plaas Grootfontein in die Kamanassieberge naby Uniondale gebore en het aan die Hoërskool Uniondale gematrikuleer. Albei haar ouers is kort na mekaar tydens haar matriekjaar oorlede.
Op negentienjarige ouderdom het sy swanger geraak en sy is getroud met haar skoolliefde, Chris Botes, wat by Telkom as kursusontwerper gewerk het. Twee kinders is uit die huwelik gebore. Op Uniondale het sy bevriend geraak met Dalene Matthee, wie se man ’n bankbestuurder op die dorp was en by wie sy reeds as kind kitaarlesse geneem het. Sy het haar UNISA Graad 8-eksamen geslaag toe sy nog in graad 11 was. Sy het tot in 1982 op die dorp gewoon en daarna na Bedford in die Oos-Kaap verhuis. In 1986 het sy haar onderwyslisensiaat aan UNISA verwerf en geruime tyd lank klavierlesse gegee terwyl sy ook kerkorreliste was.
Sy het die Goeiemôre-rubriek vir Volksblad behartig en vir Die Burger het sy die rubriek Van alle kante geskryf. Sy was ook ’n gewilde gasspreker wat by leeskringe en ander geleenthede opgetree het.
In 1985 het sy vir die eerste keer met dobbel kennis gemaak, en nadat sy groot geld op die masjiene gewen het, het dit vir haar ’n obsessie geword. Sy het hierdie tema in haar roman Trippel sewe, wat in 1995 verskyn het, aangeroer. In 1989 het sy R70 000 op ’n blackjack-toernooi gewen en vir al hoe groter bedrae geld begin speel. Sy het haar geld verkwis en van haar man geskei. In 1990 is sy en haar man weer getroud, en kry haar dobbelverslawing gedeeltelik onder beheer toe sy in 1993 die casinobestuurder gevra het om haar toegang tot die casino te verbied totdat sy al haar skuld terugbetaal het. In dieselfde jaar het sy diabetes opgedoen en dit is eers na ’n ernstige siekbed onder bedwang gebring. Na hierdie traumatiese ervarings het sy voltyds begin skryf.
In 1998 het die gesin na Port Elizabeth verhuis. Sy het egter aangehou met dobbel en in 2002 het sy ’n lewenslange selfgekose verbanning van casino’s geteken. Dit het haar van hierdie vorm van dobbelary genees, maar sy het steeds oor die internet gedobbel. In September 2004 het sy sonder ’n werkspermit op ’n vliegtuig na Londen geklim om werk te kry om ou mense op te pas. In Londen het sy spoedig ’n werksgeleentheid gekry deur ’n bedlêende vrou te versorg. Sy het binne ’n jaar genoeg geld verdien om haar skuld af te betaal. Hierdie reis en haar ervarings in Londen was die bron vir haar outobiografiese boek Sabbatsreis. Die navorsing wat sy gedoen het vir haar boek Thula Thula, wat oor bloedskande gehandel het, het haar gemoed tot so ’n mate beïnvloed dat sy in 2008 in die Hunters Craig-psigiatriese hospitaal beland het.
In Mei 2003 was sy in die nuus nadat ’n geveg tussen haar en haar buurvrou uitgebreek het nadat haar buurvrou se hond aanhoudend geblaf het. Dit het in die koerant verskyn en byna in die hof gedraai. Daar is onder meer ’n klag van aanranding teen haar by die polisie aanhangig gemaak maar die direkteur van openbare vervolging het besluit om haar nie te vervolg nie. Hierdie voorval is gevolg deur ’n veel groter polemiek. Tydens ’n profielonderhoud met Hanlie Retief wat op 21 November 2010 gepubliseer is, het sy gesê: “Ek hou nie van swart mense nie want ek verstaan hulle nie.” Die publikasie van die onderhoud het gemaak dat sy as rubriekskrywer van Die Burger en Volksblad afgedank is.
Haar roman Thula Thula het kort tevore die Suid-Afrikaanse Letterkunde-toekennings se K. Sello Duiker-gedenkprys verower, maar die toekenning en die groot prysgeld wat daaraan verbonde was, is na publikasie van hierdie onderhoud teruggetrek. Daarby het daar briewe in die koerante verskyn en die oorgrote meerderheid lesers het die uitlating, en haar as mens, veroordeel. Nadat ’n kerklike kommissie die saak ondersoek het en bevind het dat sy nie aan gemeentestandaarde voldoen het nie, was sy verplig om haar pos as kerkorrelis prys te gee.
Haar eerste kortverhaal is in Brandwag gepubliseer toe sy agttien jaar oud was. Sy het egter eers in 1993 ernstig geskryf nadat diabetes by haar gediagnoseer is. Haar debuutroman, Trippel Sewe, het die verhaal vertel van ’n onderwyseres wat in die dobbelgier verstrik geraak het en byna daardeur vernietig is. Dit het ’n uitwerking op haar man, haar kinders en haar huwelik gehad en sy self het in ’n tehuis vir verslaafdes beland.
Haar bekendste roman was Raaiselkind, wat in 2001 verskyn het en later ’n rolprent geword het. Dit het die verhaal vertel van ’n ma se stryd met ’n kind met outisme, die manier waarop dit hul gesinslewe vernietig het en die gemeenskap se onvermoë om hulle te ondersteun.
In Desember 2024 is sy na ’n hospitaal geneem nadat sy vermoedelik ’n beroerte gehad het nadat sy nierinfeksie opgedoen het. Haar regterbeen is verlede jaar geamputeer weens komplikasies met ’n aaromlyding. Haar linkerarm was ook verlam. Op 10 Desember het ’n goeie vriend, Jaco Rademeyer, namens haar ’n rubriek in Beeld geplaas waarin sy van haar lesers afskeid geneem het. Sy was nog van plan om ’n bundel van haar rubrieke sedert 2020 uit te gee en sy was in die proses om dit te groepeer.
Sy is op 12 Desember 2024 in die ouderdom van 67 jaar oorlede.
Daantjie Badenhorst