12 JANUARIE – DIE EERSTE TAALSTRYD IN SUID-AFRIKA

Die kommandeur het die Hugenote ondanks sy bedenkings hartlik ontvang en plase aan hulle langs die Bergrivier toegeken. Sommige se plasies het tussen die nuwe boerderye van die Nederlandse boere gelê, maar waar dié rivier sy oorsprong het, was daar soveel Franse dat dit spoedig as die “Fransche Hoek” bekend gestaan het.

’n Franse predikant, Pierre Simond, het in Augustus 1688 aangekom. Hy is soos die ander predikante betaal deur die Kompanjie. Sy eerste gemeente was in Drakenstein, waar Simondium nou geleë is. Die eerste “stoele” was glo van swart miershope wat afgesteek en in rye in die kerkgebou gepak is. Die mense was so arm dat hulle te voet moes kerk toe kom. Later het van hulle saamgemaak en een perd vir die ou en swak mense gekoop. Hulle het soms só beplan: een persoon ry die perd ’n end, maak dit dan vas aan ’n boom en loop verder. Wanneer die volgende groep by die perd kom, klim die swakste op en ry verder.

Met Simond se koms begin die eerste taalstryd in die land. Simond se taalgenote het hom met klagtes oorval – vir eers nie soseer oor die taal nie, maar die grond wat so arm was dat hulle nie daaruit ’n behoorlike bestaan kon maak en hul skuld aan die Kompanjie afbetaal nie. Simond het so gou as moontlik namens hulle met Van der Stel gaan praat. ’n Kommissie het die klagtes ondersoek, en ná ’n paar maande het hulle toestemming gekry om binne sekere grense beter plase uit te soek. Deur die uitsoek van vrugbaarder grond het hulle nog meer versprei geraak – en die onbedoelde gevolge daarvan eers later ervaar.

Weens die verspreiding kon hulle moeilik by hul kerk en die skool kom en dié was juis die vestings van hul taal. In die winter was die Bergrivier dikwels vol, sodat hulle glad nie kon deurkom nie. Paul Roux, die Franse sieketrooster en skoolmeester, kon dus net die kinders wat naby die kerk gebly het, gereeld in Frans onderrig.

Die gevolg was dat die Hugenote weer aan ds. Simond gevra het om Van der Stel te nader. Hulle wou bymekaar woon en ’n eie kerkraad hê om die belange van die Franse gemeente in Drakenstein te behartig. Maar die kommandeur het besluit dat die kerk van Drakenstein onder Stellenbosch moes val. Simond moes al om die ander week daar preek en kerkraadsvergaderings bywoon.

Simond en sy gemeentelede het die Here XVII toe ’n eie kerkraad gevra. Hulle het Van der Stel tot sy ergernis geïgnoreer. Gevolglik het daar harde woorde geval toe Simond en ’n paar ander Hugenote met die beleidmakers, die politieke raad, gaan praat het.

Daar was toe al ’n gevoel teen die Hugenote, want Frankryk het in 1688 oorlog teen Nederland verklaar. Van der Stel het geargumenteer dat die Hugenote eers ’n kerkraad wil hê, maar dis nie lank nie of hulle vra ’n eie magistraat, opperhoof en prins!

Hy het hul versoek geweier, maar die Here XVII het anders geoordeel. Die Hugenote het in 1691 die nuus ontvang dat hulle tog ’n eie kerkraad uit die Franse gemeente mag saamstel. Maar die versoek om bymekaar te mag woon, is van die hand gewys.