MASSAMEDIA EN SPORT: SPRINGBOKSPAN SING “STILLE NAG” VIR KAPTEIN
Soos in ander lande het die sirkulasie van algemene tydskrifte van goeie gehalte gedaal – Die Huisgenoot s’n in die jare vyftig al. Die “kuise en ingehoue styl” van die blad het vir ’n nuwe geslag “flou afgesteek teen die hartstog, uitgesprokenheid en uitdagendheid van die bioskoop en ingevoerde blaaie”, sê Johan Spies, indertyd redakteur. Kleiner blaadjies soos Fyn Goud en Hy en Sy het aan lesers gegee wat hulle nie in Die Huisgenoot kon kry nie. Tog het die tydskrif daarin geslaag om nie net te oorleef nie, maar in die laaste kwart van die eeu die grootste Suid-Afrikaanse tydskrif te word. Dit kon die blad regkry deur veral ’n goeie aanvoeling van waarin sy vrouelesers belang stel. Die blad gebruik deurgaans goeie Afrikaans. Die Huisgenoot het so een van die grootste prestasies van Afrikaans mediabedryf geword.
Die Landbouweekblad, waarvan die eerste nommer op 21 Mei 1919 in Bloemfontein verskyn het, is in 1950 na Kaapstad oorgeplaas. Die sirkulasie het gestyg totdat die aantal boere in die land begin daal het. Op 4 Julie 1950 het Die Landstem onder Piet Beukes begin met die soort menslike nuus wat die publiek wou hê. Dis gou as “sensasieblad” uitgeskel. Die Landstem het die Suid-Afrikaanse been van die “Mej. Wêreld”-kompetisie in Londen aangebied. Penny Coelen was in 1958 die eerste Suid-Afrikaanse Mej. Wêreld. Die Suid-Afrikaanse Mejj. Wêreld daarna was Anneline Kriel (1974), Margaret Gardiner (Mej. Heelal, 1978) en Rolene Strauss (2014).
Die Nasionale Toneelorganisasie onder staatsbeheer, gestig in 1947, het in Afrikaans en Engels opgevoer. In een kwartaal in 1950 het 300 000 mense NTO-opvoerings bygewoon. As ons twee eers getroud is van Gerhard Beukes was veral gewild. Ligte musiek het gefloreer, onder meer met die tranetrekkers van Frans en Sannie Briel, soos “Die trein na Pretoria”. Van hoër gehalte was Danie Bosman se liedjies wat weens hul mooi melodieë gewild gebly het.
’n Ondersoek na die invloed van koerantplakkate op straatverkope het lesers se liefde vir sport getoon. Sport het koerante laat verkoop. Rugby was nog Afrikaners se gunsteling. Legendes soos Hennie Muller, Okey Geffin en die senterpaar Tjol Lategan en Ryk van Schoor het die verbeelding aangegryp. Hul foto’s was op die voorblaaie van tydskrifte soos Die Brandwag. In later jare was dit naas die legendes, rugbybaas Danie Craven, spelers soos Frik du Preez, Naas Botha, Mannetjies Roux. Frik du Preez is aangewys as die Springbok-rugbyspeler van die 20ste eeu. Die mees legendariese rugbykommentator was Gerhard Viviers.
Die 1951–1952-Springbokspan het net een van hul 31 wedstryde in Brittanje en Frankryk verloor. Hennie Muller het die kapteinskap van Basil Kenyon oorgeneem wat ’n ernstige oogbesering opgedoen het, en was kaptein toe die Springbokke Skotland op 24 November 1951 op Murrayfield met 44-0 gewen het. Dit was die grootste nederlaag wat Skotland ooit gely het. Diep in die tweede helfte het Hennie Muller die Skotte so jammer gekry dat hy die jong Skotse kaptein, Angus Cameron, aangeraai het om sy voorspelers bietjie meer vas te laat speel. “Dit was die soort sportmanskap wat ’n mens van ’n span soos dié kon verwag”, skryf Chris Greyvenstein in Springbok-Sage. Die Skotte het hul waardering en bewondering betoon deur Muller ná die wedstryd skouerhoog van die veld te dra. Die span word onthou aan hul menslikheid en warmte. Op Kersoggend 1951 het die bestuurder, Frank Mellish, die afrigter, Danie Craven, en die 29 ander spelers Basil Kenyon in sy hospitaalkamer besoek en “Stille Nag” vir hom gesing. Die diep gelowige jong Johnny Buchler het ’n gebed gedoen.
Buchler moes weer in 1956 hard bid op die toer na Australië. Danie Craven vertel dat die Constellation begin hoogte verloor het tussen die Kokos-eilande en Darwin. Een van die skroewe aan die stuurboordkant het stilgestaan. Craven het vir Johnny Buchler gesê: “Johnny, as dit ooit nodig was om ’n gebed te doen, dan is dit nou.” Buchler het geantwoord: “Dok, ek het dit reeds gedoen.” Craven: “Dit sal nie kwaad doen as jy dit nog ’n keer doen nie.” Vyf uur later het die vliegtuig veilig geland en het die span, moeg van die spanning, die vliegtuig met sy drie werkende motore verlaat. Australië het albei toetse verloor, maar Nieu-Seeland het 3 gewen en SA een.
Nog ’n sportprestasie van die 1950’s was die goue medalje wat Esther Brand in 1952 op die Olimpiese Spele in Helsinki vir hoogspring gewen het – die eerste goud sedert 1928 (Sid Atkinson vir 110 meter hekkies in Amsterdam). Daphne Hasenjager het in Helsinki tweede in die 100 meter gekom.