FW VERVANG PW
Van sowel die buiteland as die binneland het die druk op die regering toegeneem om die land radikaal te verander. Die regering van PW Botha het die een na die ander van die apartheidsmaatreëls afgeskaf, soos die wet teen gemengde huwelike en artikel 16 van die Ontugwet. (Dit het geslagsomgang tussen mense van verskillende ras verbied.) Swart vakbonde is gewettig en arbeidsdiskriminasie het verdwyn. Die laaste oorblyfsels van werkafbakening is afgeskaf. Suid-Afrika het in die 1980’s heeltemal anders gelyk as twee dekades tevore, al het kritici beweer die veranderings is “kosmeties”.
Teen die einde van die 1980’s het Botha geïsoleer geraak. Hy het met ou vriende gebots en baasspelerig en iesegrimmig opgetree. Hy is die “Groot Krokodil” genoem, die eerste deur Hermann Giliomee in ’n intellektuele blad, Die Suidafrikaan.
Vroeg die oggend van 18 Januarie 1989 het Botha ’n beroerte gekry (nie sy eerste nie), maar op 1 Februarie het ’n span medici bevind dat sy vordering buitengewoon is en dat hy elke dag kilometers ver in die Groote Schuur-landgoed stap. Die volgende dag het hy ’n brief aan die NP-koukus gerig dat hy meen die ampte van staatspresident en NP-leier geskei behoort te word. Hy het die koukus gevra om ’n hoofleier te kies. Vier kandidate is benoem, en in die derde rondte van die stemming het FW de Klerk, minister van nasionale opvoeding en Transvaalse leier, 69 stemme gekry teenoor die 61 van Barend du Plessis, minister van finansies.
Die eerste paar weke ná De Klerk se verkiesing het dit rustig gegaan. Maar gou was daar duidelike verskille tussen PW en FW, wat tot ’n onverkwiklike, uitgerekte stryd gelei het. Uiteindelik het Botha se kabinetslede op 14 Augustus 1989 dit op ’n vergadering aan hom gestel dat hy, aangesien sy gesondheid nie na wense is nie, ’n waarnemende president moet aanstel en na die komende algemene verkiesing formeel uittree. Dit was vir hom onaanvaarbaar. Hy het gesê: “Ek is gesond. Ek is gesond. Is elkeen van julle in ’n posisie om ’n mediese sertifikaat te wys wat sê julle is gesond? Sê vir my wie van julle sit hier met pille in julle sakke?” Hy het gesê dat hy liewer sou bedank. Die ministers het hom ná die vergadering een vir een gegroet. De Klerk is op 20 September as waarnemende Staatspresident ingehuldig.
Enkele dae tevore het die NP in ’n verkiesing vir die Volksraad 93 setels verower, die KP 39 en die DP 33.
Op 13 Desember 1989 het FW de Klerk ’n eerste ontmoeting gehad met mnr. Nelson Mandela, wat reeds 27 jaar in die gevangenis was ná die Rivonia-verhoor. Die heel eerste gesprek het oor groepregte gegaan. Mandela het gesê dit lyk na ’n skuiwergat om weer apartheid in te stel. Dit kon by dié geleentheid gewees het dat Mandela verwys het na ’n opmerking van die Burger-kommentator Dawie dat die tyd vir groepvorming op grond van kleur verby is en dat taal en kultuur die boustene vir die toekoms moes wees. Toe Mandela De Klerk daarop wys dat Dawie met hom verskil, het hy glo min of meer gesê: “Nou ja, as Dawie dit sê, los ons dit.”