13 JUNIE
GEBEURE
1705 – Adam Tas se dagboek
Die bestaande afskrif van ’n fragment van Adam Tas se Dagboek dagteken van 13 Junie 1705 af, maar die oorspronklike Dagboek, wat al verlore gegaan het of vernietig is, het verder teruggegaan. Met die inhegtenisneming van Adam Tas in die nag van 27/28 Februarie 1705 is sy skryfkabinet tesame met die Dagboek en ander korrespondensie na Kaapstad geneem. Goewerneur Willem van der Stel het afskrifte laat maak van die deel wat die tydperk 13 Junie 1705 tot 27 Februarie 1706 dek, omdat hy gemeen het dat die deel veral inkriminerend teenoor Tas sou wees. Gelukkig dat hierdie fragment behoue gebly het, want dit is werklikwaar ’n kultuurjuweel. Dit is ’n kostelike beskrywing van Stellenbosch en die Stellenbossers in die begin van die agtiende eeu. Reeds in 1914 het die historikus Leo Fouche die Dagboek as uitgawe van die Van Riebeeck-Vereniging uitgegee. In 1970 is dit herdruk. Adam Tas het in 1697 as jong man na die Kaap gekom. Op 7 Junie 1703 het hy in die huwelik getree met Elizabeth van Brakel, die ryk weduwee van Hans Jurgen Grimpe. So het hy eienaar geword van die plaas wat hy later Libertas genoem het.
1838 – Andries Hendrik Potgieter kry grond
Voortrekkerleier Andries Hendrik Potgieter verkry die gebied tussen die Vet- en Vaalrivier van die kaptein Bataung, Makwana, in ruil vir beeste.
1883 – Kaapse Parlement in Nederlands toegespreek
Die Kaapse Parlement is vir die eerste keer in Nederlands toegespreek deur mnr. JR Luttig nadat dit op 9 Junie gemagtig is.
GEBOORTES
1899 – Dr. Werner Willi Max (WWM) Eiselen, volke- en opvoedkundige († 12 Junie 1977)
Werner Willi Max Eiselen is op Bothsabêlo in die Oos-Transvaal gebore as seun van ’n Duitse sendelinggesin. Hy en sy vrou (ook van Duitse afkoms) het hulle volledig met die Afrikanervolk vereenselwig. Hy word onthou as die hoogstaande akademikus (tien jaar professor in Volkekunde aan die Universiteit van Stellenbosch en later ook twee jaar aan die Universiteit van Pretoria) aan wie dit ook beskore was om sy denke oor rasse- en volkeverhoudinge self in die praktyk toe te pas (as hoof van swart onderwys in Transvaal 1936 tot 1947 en Sekretaris van Bantoe-administrasie en -ontwikkeling 1949 tot 1960). As akademikus het hy sedert 1929 oor die rassevraagstuk geskrywe en die begrip apartheid in talle toesprake en geskrifte tot ’n moreel gefundeerde landsbeleid uitgebou: ’n beleid wat vir alle volke in Suid-Afrika kan geld, wat vooruitgang binne volksverband vooropstel en wat selfstandigheid, gelykheid en geregtigheid vir almal sou waarborg. Vanuit hierdie gesigspunt was hy ook ’n oortuigde mede-oprigter van Sabra in 1948 as ’n liggaam wat rasseverhoudinge wetenskaplik moet bestudeer en voorligting en inligting daaroor verskaf. As praktiese onderwysman, word hy onthou vir sy aandeel in die instelling van moedertaalonderrig in swart skole (teen die kwaaiste weerstand in) en van nasionale onderwys vir die swart volke. In sy termyn as Sekretaris van Bantoe-administrasie en -ontwikkeling is die werklikhede van Suid-Afrika ingrypend verander: die stelsel van selfbestuur is uitgebou tot waar onafhanklikheid vir Transkei in 1959 ’n saak van praktiese politiek geword het, en tot waar hy self in 1960 as een van die eerste Kommissarisse-Generaal van ’n selfregerende volk aangestel kon word. Dr. Eiselen word as ’n verbeeldingryke argitek en ’n groot boumeester van afsonderlike ontwikkeling gehuldig. Hy is op 12 Junie 1977 in Tzaneen oorlede.
1922 – Etienne Leroux, skrywer († 30 Desember 1989)
Etienne Leroux was ’n internasionaal bekende skrywer en ’n prominente lid van die Sestiger-beweging.
Stephanus Petrus Daniël le Roux was die seun van Stephanus Petrus le Roux, minister van landbou in die kabinette van dr. DF Malan en adv. JG Strijdom. Die skrywer CJ Langenhoven was sy peetpa. Van 1940 tot 1944 was hy ’n student aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy sy BA-graad in 1942 en sy LLB-graad in 1944 behaal het. Barend Toerien en Elsa Joubert was van sy medestudente.
Hy is in 1948 vir die eerste keer getroud, en in 1954 het hy en sy vrou, die kunsskilder Renée (gebore Malherbe) op ’n besoek van vyf maande aan Europa vertrek. Hy het in Europa kennis gemaak met skrywers soos Jan Rabie en Bartho Smit, wat later saam met hom vir ’n vernuwing in Afrikaanse letterkunde verantwoordelik is.
Hy het besluit om onder die naam Etienne Leroux te skryf. Etienne is die Franse vorm van sy eerste voornaam en hy het besluit om Leroux aaneen te skryf in ooreenstemming van die spelling wat sy Franse voorsate gebruik het. Sy werk is vir die eerste keer aan groot publisiteit en omstredenheid onderwerp toe sy roman 𝘚𝘦𝘸𝘦 𝘥𝘢𝘦 𝘣𝘺 𝘥𝘪𝘦 𝘚𝘪𝘭𝘣𝘦𝘳𝘴𝘵𝘦𝘪𝘯𝘴 in 1964 met die Hertzogprys bekroon is. Die boek is deur verskeie “sedebewakers” as immoreel beskou. Dieselfde het in 1976 gebeur toe 𝘔𝘢𝘨𝘦𝘳𝘴𝘧𝘰𝘯𝘵𝘦𝘪𝘯, 𝘰 𝘔𝘢𝘨𝘦𝘳𝘴𝘧𝘰𝘯𝘵𝘦𝘪𝘯! vrygestel is. Aanvanklik is die boek nie verbied nie, maar die Appèlraad op Publikasies het wel ’n verbod ingestel en die appèl hierteen is twee jaar later van die hand gewys. Nogtans is dit in 1979 met die Hertzogprys bekroon.
Leroux is in 1969 geskei en in 1970 met Elizabeth Joubert, ’n musiekdosent getroud. Hy is op 30 Desember 1989 in die ouderdom van 67 jaar aan longkanker oorlede.
1933 – Verna Vels, skryfster en omroeper († 21 Augustus 2014)
“Haai oe, Blommie!” Daar is seker nie een Afrikaanssprekende persoon wat nie met Liewe Heksie grootgeword het, of na die televisiereeks gekyk het nie.
Die skepper van hierdie legendariese karaktertjie was Verna Vels, wat op Reitz in die Vrystaat gebore is en gematrikuleer het en in 1953 haar BA-graad met Afrikaans/Nederlands, Engels en Kunsgeskiedenis as hoofvakke aan die Universiteit van Pretoria verwerf het. Die volgende jaar het sy by die SAUK se kantore in Durban as omroeper begin werk. Sy was vir die res van haar professionele lewe by radio-en televisiewerk betrokke en het die draaiboek vir die rolprent 𝘓𝘢𝘨 𝘮𝘦𝘵 𝘞𝘦𝘯𝘢: ’𝘯 𝘈𝘧𝘳𝘪𝘬𝘢𝘢𝘯𝘴𝘦 𝘧𝘪𝘭𝘮𝘬𝘰𝘯𝘴𝘦𝘳𝘵 met die legendariese aktrise Wena Naudé in die hoofrol, geskryf.
Aan die begin het sy die eerste Liewe Heksie-storie geskryf onder die titel 𝘉𝘭𝘰𝘮𝘮𝘪𝘦 𝘒𝘢𝘣𝘰𝘶𝘵𝘦𝘳 𝘦𝘯 𝘥𝘪𝘦 𝘩𝘦𝘬𝘴 𝘸𝘢𝘵 𝘴𝘰 𝘣𝘢𝘪𝘦 𝘷𝘦𝘳𝘨𝘦𝘦𝘵 𝘩𝘦𝘵. Sy het egter gou besluit om Liewe Heksie, wie se naam eintlik Levinia was, die hoofkarakter te maak. Die res is geskiedenis; die boeke waarin die verskillende stories gepubliseer is, en die langspeelplate, waarop sy al die karakters se stemme nagemaak het, was uiters suksesvol. Later is die stories verfilm; Riaan Cruywagen was verantwoordelik vir Koning Rosekrans se stem, asook dié van die Gifappeltjies, terwyl Roelf Jacobs die stem van Karel Kat behartig het.
Sy het Hennie Human as direkteur van die destydse TV1 opgevolg en was die eerste vrou wat tot die vlak van seniorbestuurder bevorder is, en die laaste twaalf jaar van haar lewe was sy die toesighoudende regisseur van die Afrikaanse sepie 7𝘥𝘦 𝘓𝘢𝘢𝘯. Sy is op 21 Augustus 2014 oorlede nadat borskanker by haar gediagnoseer is.
STERFTES
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.